GWM P-reeks bied opwindende waardepakket

Jannie Rossouw, motorliefhebber en besoekende professor, Wits Besigheidskool
Gepubliseer: 1 Oktober 2023

307

Ek is aangenaam verras met die waarde vir geld wat GWM se P-reeks bakkies bied. Sedert dié bakkies sowat drie jaar gelede in Suid-Afrika vrygestel is, is die P-reeks ’n bestendige verkoper.

In Junie 2023 het 430 nuwe eenhede eienaars gekry. Nadat ek die bakkie toetsbestuur het, is dit duidelik dat hierdie 430 gelukkige nuwe eienaars is.

GWM verkoop beide die P-reeks en die Steed-bakkiereeks in Suid-Afrika, maar hierdie twee produkte moet duidelik van mekaar onderskei word. Die P-reeks is ’n baie moderne produk met uitstekende afwerking en toerusting, terwyl die Steed op ’n kommersiële aanwending fokus.

Daar is ook in die P-reeks ’n bakkie wat op kommersiële aanwending fokus, maar bo die Steed in die mark inpas. Die P-reeks is ’n omvattende reeks en voorsien in die behoeftes van alle kopers. Die bakkies is ook baie veilig – dit het botsingstoetse in Australië met lof geslaag.

Al die bakkies is toegerus met ’n tweeliter-turbodieselenjin wat 120 kW en 400 Nm ontwikkel. Die enjin bied goeie werkverrigting, spesifiek met ’n outomatiese ratkas met agt ratte. Alle modelle is egter ook met ’n handratkas met ses ratte beskikbaar.

Die enkel- en dubbelkajuitbakkies is almal 5,41 m lank. Die ontwerp van die bakkies is goed geïntegreer, met ’n mooi voorkoms van alle hoeke en kante. Die dubbelkajuitmodelreeks bied modelle wat met sportnutsvoertuie meeding. Ek het gehou van die wyse waarop die toerustingsvlakke aangepas is sodat die P-reeks as leefstylvoertuig eerder as ’n bakkie gebruik kan word.

’n Leemte is egter ’n model met ’n verlengde enkelkajuit in die reeks. As só ’n model bykom, sal min vervaardigers met die GWM kan meeding.

Ek het die GWM P-reeks se LTD- en LS-dubbelkajuite onder hande gehad. Die LTD is uitstekend vir veldry aangepas en sal baie mense se harte bly maak. Teen R694 950 hoef geen boer verder te soek vir ’n ernstige 4×4-bakkie nie.

Die LS wat naby die middel van die reeks inpas, is my keuse weens fantastiese waarde vir geld. Hierdie model is in twee- en vierwielaandrywing beskikbaar, met pryse wat wissel vanaf R526 250 tot R577 250. Hatfield Motor Group het die GWM P-reeks vir doeleindes van hierdie artikel beskikbaar gestel.

Die GWM P-reeks se LTD-dubbelkajuit.