Nuwe Amarok is ’n bobaasbakkie

Jannie Rossouw, motorliefhebber en besoekende professor, Wits Besigheidskool
Gepubliseer: 29 Augustus 2023

865
Amarok se Aventura met ’n drieliter-dieselenjin.

Suid-Afrika is bakkiewêreld. Elke maand se verkoopsyfers van nuwe voertuie wys bakkies is topverkopers. Bakkies het tradisioneel ’n wye aanwending in die landbou-omgewing, maar is deesdae ook gewild in stede en dorpe. Omdat daar strawwe mededinging in die bakkiemark is, doen vervaardigers moeite om hul produkte bo mededingers s’n te laat uitstaan. Met die nuwe Amarok het Volkswagen uitstekend in hierdie doel geslaag.

Die intreemodelle in die Amarok-reeks het ’n kommersiële fokus vir harde werk, terwyl luukse leefstylmodelle die reeks afrond. Daar is ’n bakkie vir almal se smaak en vir alle behoeftes.

Amarok se intreevlak-enkelkajuitbakkie het tweewielaan­drywing met ’n tweeliter-turbodieselenjin wat 110 kW en 350 Nm ontwikkel. Volkswagen rapporteer die bakkie se brandstofverbruik as 6,9 ℓ/100 km oor ’n gekombineerde siklus.

Die topvlak-enkelkajuitbakkie met 4Motion-vierwielaandrywing en ’n tweeliter-dieselenjin, lewer 125 kW en 405 Nm. Volgens Volkswagen is dié bakkie se verbruik 7,1 ℓ/100 km.

Met 13 dubbelkajuitbakkies is daar ’n model vir elke koper se voorkeur. Die intreevlakmodel word as die Base bemark en het ’n kommersiële fokus. Hierdie model het dieselfde enjinkrag as die intreevlak-enkelkajuitbakkie en Volkswagen rapporteer ook dieselfde brandstofverbruik.

Die topmodel Amarok is die Aventura, met ’n drieliter-dieselenjin wat 184 kW en 600 Nm lewer. Die bakkie is met ’n tienspoed- outomatiese ratkas toegerus, wat uitstekende werksverrigting en ’n gladde rit verseker. Volkswagen rapporteer die gemiddelde brandstofverbruik as 8,4 ℓ/100 km. Hierdie model se omvattende lys van standaardtoerusting voldoen aan die behoeftes van alle kieskeurige kopers.

Verder het die Amarok se veiligheidseienskappe, stil werksverrigting en gladde outomatiese ratkas my beïndruk. Die bakkie het goeie versnelling, veral op die topmodelle met die kragtige enjins. Hierdie werksverrigting word ondersteun deur goeie remme met sluitwering op alle modelle.

Ek het ’n Volkswagen Amarok Life met ’n tweeliter-dieselenjin bestuur wat naby die middel van die dubbelkajuitreeks inpas. Die enjin ontwikkel 154 kW en 500 Nm, wat uitstekend skakel met die tienspoed- outomatiese ratkas. Met 4Motion-vierwielaandrywing is dié luukse bakkie ’n plesier om te bestuur. Dit is ’n goeie alternatief vir ’n sportnutsvoertuig en is my keuse in die reeks. Hatfield Motor Group het die Amarok vir doeleindes van hierdie artikel beskikbaar gestel.

Leserskompetisie
Om deel te neem aan die maandelikse SA Graan/Hatfield Motor Group-leserskompetisie, klik op die foto. Vul die inskrywingsvorm in en beantwoord ’n eenvoudige vraag om ’n kans te staan om ’n R3 000-koopbewys by enige Hatfield Motor Group-handelaar te wen. Die bewys kan gebruik word om ’n voertuig te diens, ’n nuwe voertuig, parte of bybehore te koop.