NAMPO KAAP: Meer voete, meer om te sien

Louise Kunz, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 3 Julie 2023

851

Bredasdorp maak gereed om besoekers aan NAMPO Kaap te verwelkom. In 2018 het sowat 16 000 belangstellendes die eerste NAMPO Kaap besoek. In 2019 het die getal besoekers tot ongeveer 23 000 gegroei en in 2022 het meer as 32 000 betalende besoekers deur die hekke van Bredasdorp Park gestroom. Hierdie groei in besoekergetalle het die organiseerders van NAMPO Kaap koppe bymekaar laat sit om diegene wat dié ekspo van 13 tot 16 September vanjaar bywoon, nóg meer te bied.

NAMPO Kaap, wat aangebied word deur Graan SA en Bredasdorp Park NPC, bied ’n unieke geleentheid aan uitstallers uit die landbouprodukte- en -dienstemark. “Besoekers kry hier die geleentheid om met die nasionale verteenwoordigers van maatskappye en insetverskaffers te gesels,” vertel Henk Aggenbach, voorsitter van Bredasdorp Park se direksie. “Wat NAMPO Kaap egter uniek maak, is dat die uitstallings nie net op graan gerig is nie, maar dat die nuutste werktuie en jongste tegnologie vir graan-, vee-, vrugte-, groente- en wingerdprodusente asook ander rolspelers in die landbousektor, hier gesien kan word.”

Lede van Graan SA, die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) asook die Melkprodusente-organisasie (MPO) sal by die Graan SA-ontvangs in die Absa-sentrum verwelkom word. Hulle kan hier kom ontspan en met ander landbou-entoesiaste gesels. Daar is spesiale parkering aangrensend tot die ingang na die saal vir alle lede.

Fokus op groen energie
Met die impak wat beurtkrag op die landbousektor het, fokus NAMPO Kaap vanjaar op groen energie onder die tema: “Groenenergie-revolusie”. Henk sê besoekers sal die geleentheid kry om van die nuutste tegnologie vir groen energie eerstehands te sien. “Besoekers sal met verskeie maatskappye wat in groen energie belê, kan gesels en só die verskillende opsies van alternatiewe energie wat beskikbaar is, kan opweeg.”

Die groei in besoekergetalle het ook die aandag van uitstallers getrek en die organiseerders het 330 nuwe aansoeke van uitstallers ontvang. “Dit is in totaal (saam met verlede jaar se uitstallers) dubbeld die hoeveelheid aansoeke as wat op die terrein geplaas kan word,” noem Henk. “Ons het daarom sekere strategiese veranderinge gemaak om meer uitstallers te kan huisves.” Toit Wessels, wat deur Graan SA as die hooforganiseerder van NAMPO Kaap gekontrakteer is, noem dat daar vanjaar 500 uitstallers in 625 uitstalruimtes geakkommodeer sal word. “Ons het gladnie ons grensdrade verskuif nie, maar het die spasie tot ons beskikking geherorganiseer vir optimale benutting.”

In die Voermol-saal waar vee altyd tuisgegaan het, gaan 60 nuwe uitstallers hul ware uitstal. Die vee gaan nou in ’n tent langs die Voermol-saal gehuisves word. Tien nuwe standplase is langs die Neptun-saal ingerig vir buite-uitstallers. Om te verseker dat besoekers die parkeerarea vinniger kan binnegaan, is beter toegangsroetes beplan. Boonop is Bredasdorp Park se infrastruktuur opgegradeer en meer kleedkamers is beskikbaar.

Meer op die spyskaart
In 2022 is daar weggedoen met die sentralisering van die eetplekke en eetplekke is oor die terrein versprei waar volledige etes, handeetgoed, peuselhappies, snoeperye, koeldranke, sappe en alkoholiese verversings geniet kan word. Buiten die bestaande eetplekke en kosstalletjies, gaan nog drie bykomende kosstalletjies sorg vir ’n groter verskeidenheid van liplekker-disse. Nog ’n nuutjie op die 2023-spyskaart is ’n nuwe koffiestalletjie in die Voermol-saal wat vuurwarm koppies boeretroos gereed gaan hê vir die wat innerlike versterking benodig. Daar is ook ‘n nuwe eetplek in die Voermol-saal wat deur Hoërskool Bredasdorp bedryf word.

Vanweë die gewildheid van die skaapkop-ete, wat afval op die spyskaart insluit, is besluit om dié legendariese aansitete op twee dae aan te bied. Die geleentheid dien as fondsinsameling vir Huis Suideroord vir Bejaardes in Bredasdorp. Besprekings vir korporatiewe en familietafels moet vooraf gedoen word by die NAMPO Kaap-kantoor op Bredasdorp Park.

Platform vir toekomstige produsente
Omdat die jeug vir die organiseerders van NAMPO Kaap baie belangrik is, het ’n omvattende skoleprogram in 2022 die lig gesien. Die Nedbank Landbou Skoleprogram word aangebied in die Wes-Kaap Departement van Landbou-tent vir leerders uit die Swartland met landbou as ’n skoolvak. Vir 2023 is 350 leerders uitgenooi vanuit die hele Wes-Kaap om dié program tydens NAMPO Kaap te kom beleef. ’n Uitnodiging is ook gerig aan die personeel van die skole wat landbou as vak aanbied.

Leerders kan hier hul akademiese klaskamerkennis aanvul met praktiese ervarings wat die kurrikulum ondersteun. Hulle sal blootgestel word aan die nuutste tendense in vertikaleboerderystelsels, akkerbou, diereproduksie en volhoubare landbou. Spesiale klem sal op die rol van die departement en loopbaangeleenthede in die landbou geplaas word. Die program word met ondersteuningsborge soos onder andere die Wes-Kaapse Departement van Landbou gekoördineer.

Op Saterdag 16 September vind die jaarlikse Overberg-streeksjeugskou in die BKB-veesentrum plaas met ongeveer 250 deelnemers. Leerders kan vir die volgende klasse inskryf: suiwelbees, vleisbees, vleisskaap, wolskaap, veselbok, melkbok, vleisbok, pluimvee, perd, konyn, duif, kulinêre kuns en suiwelbereiding. Seuns en dogters tot 17 jaar neem deel in drie ouderdomsgroepe: junior-junior (5 tot 9 jaar), junior (10 tot 13 jaar) en senior (14 tot 17 jaar).

Omdat ’n besoek aan NAMPO Kaap ’n gesinsuitstappie is, word daar voorsiening gemaak vir die kleuters wat moeg word om na “grootmensdinge” te kyk. Buiten vir die gewilde ponieritte is daar ook ’n kinderpretpark met toesig beskikbaar waar die kinders na hartelus kan speel.

Rose en die Overberg se blommeprag
Die skoner geslag word natuurlik nie afgeskeep nie. Die NAMPO Kaap-instapskoonheidsalon op die onderste verdieping van die Santam-ouditorium was in 2022 ’n groot treffer. Vanjaar is daar skoonheidsterapeute wat gereed is om dames met ’n behandeling te bederf terwyl die manne meer uitvind oor die nuutste landboutegnologie. Die Afgri-vroueprogram het drie dorings wat die rose kom vermaak:

  • Mynhardt Joubert, wat in 2013 as die “onthoukok” koning gekraai het in die eerste Kokkedoor-kombuis, is vandag een van die land se topsjefs.
  • Die veelsydige Willem Botha (sanger, akteur, fotograaf en grimeerkunstenaar) gaan dames leer hoe om die beste van hul bates te maak.
  • Jak de Priester gaan sy treffende musiek kom deel. Met sy fyn sin vir humor en veelsydigheid kan die dames gerus kom plek inneem vir sy tydgleuf en heerlik lag en ontspan.

NAMPO Kaap is bekend vir sy uitsonderlike blommeskouspel en vanjaar se tema is: “Waar twee oseane ontmoet in die seekat se tuin”. Marjolin Malan, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Blomme-unie se nasionale onderwyspaneel en lid van die Wes-Kaapse Blommerangskikkersvereniging, gaan die seelewe met blomme uitbeeld. Die uitsonderlike LubeMarketing/Castrol-blommerangskikkingsprogram se uitstallings met fynbos en veldblomme is ’n moet op die NAMPO Kaap-spyskaart. Besoekers sal weer die geleentheid kry om te stem vir hul gunstelingrangskikking. Die pragtige blomme uit die Overberg van die Neptun-fynbosuitstalling gaan die Neptun-saal in ’n blommefees omskep.

Leer meer
NAMPO Kaap bied werklik iets vir elke smaak. Vir diegene wat belangstel in landboukwessies en sake van die dag wat die landbou raak, vind die gewilde Nasie in Gesprek-reeks met Theo Vorster daagliks in die Santam-ouditorium plaas. Die organiseerders is nog besig om die program te finaliseer, maar onderwerpe soos infrastruktuur, wintergraankommoditeite asook die jeug en landbou word beplan.

Vir geskiedenisliefhebbers bied NAMPO Kaap ’n opwindende nuwe besienswaardigheid op die terrein – ’n museumtent waar 19 van die Wes-Kaapse museums die geskiedenis gaan laat lewe. Verskeie demonstrasies gaan aangebied word waar besoekers eerstehands sal kan sien hoe dinge soos broodbak in toeka se dae gedoen is.

’n Heuningskou wat op twee middae deur die Suid-Kaap Byebedryfvereniging aangebied gaan word, is nog ’n nuwe item op die 2023-agenda. Behalwe vir ’n kompetisie tussen heuningmakers, gaan van die heuningprodukte te koop aangebied word. Ilze Struwig, ’n selfopgeleide etiese taksidermis, se vaardighede kan in die Voermol-saal gesien word waar sy ’n paar gemonteerde voorbeelde sal uitstal wat ook te koop sal wees.

Demonstrasies van ’n volledige akwaponiese en hidroponiese kweekstelsel kan gesien word asook daaglikse waterboor-demonstrasies. Gekwalifiseerde 4×4-instrukteurs sal van Woensdag tot Saterdag op die Engen 4×4-baan wys waartoe die jongste viertrekmodelle in staat is.

Verskeie verskaffers se saadpersele bied aan belangstellendes ’n geleentheid om die aangeplante gewasse te kom besigtig en meer inligting van die kundiges te bekom.

Spogviervoetiges te sien
’n Hoogtepunt in die arena is die daaglikse vertonings wat deur die beroemde Suid-Afrikaanse Lipizzaners uitgevoer gaan word. Hierdie wit hingste gaan besoekers betower met hul asemrowende passies. Perdeliefhebbers kan verder uitsien na ’n optog deur ’n verskeidenheid perderasse asook boogskutvertonings deur die ruiters van Griffins Horse Achery. Fusion Horsemanship gaan opleidingstegnieke vir perde demonstreer.

Skaaptelers kan op 14 en 15 September naderstaan vir die Merino Ope wat deur streek 9 van Merino SA in die BKB-veesentrum aangebied word. Hierdie kompetisie is oop vir alle Merinostoet- en -kuddetelers. Op Vrydag 15 September vind daar ‘n toptien- Suid-Afrikaanse Vleismerinoram-kompetisie plaas waar vleismerino’s teen mekaar gaan meeding. Neem kennis dat die rasuitstallings wat voorheen in die Voermol-saal geakkommodeer is, vanjaar in ’n veetent langs die Voermol-saal gehuisves gaan word.

Borge maak dit moontlik
Sonder borge sal hierdie groot gebeurtenis in die Overberg-distrik nie moontlik wees nie. Die hoofborge vir NAMPO Kaap 2023 sluit in: Overberg Agri, BKB, Absa, AB InBev, Total Energies, Toyota SA, Hollard, Standard Bank, Santam Landbou, Plaas Media, die Wes-Kaapse Departement van Landbou, Neptun Boots, Engen, Omnia, Afgri, en Fuchs.

Hierdie instansies en vele ander kleiner borgskappe verseker dat die besoekers aan NAMPO Kaap sal kan getuig van die hoë standaard wat gehandhaaf word. Op hierdie wyse word die landbousektor dus deur ons borge ondersteun en versterk, wat bydra tot die groei en ontwikkeling van landbou in die Wes-Kaap.

Algemeen
Toegangskaartjies is reeds van 1 Julie af aanlyn beskikbaar by www.ticketpros.co.za. Die koste van aanlyn kaartjies beloop R80 per volwassene en R40 per skoolgaande kind per dag. Toegang vir voorskoolse kinders is gratis. Kaartjies sal by die hekke beskikbaar wees teen R90 per volwassene. Die hekke open om 08:00 en sluit om 17:00, behalwe vir Saterdag 16 September wanneer dit reeds om 15:00 sal sluit.

Vir meer inligting oor NAMPO Kaap 2023, besoek www.expo.org.za, skakel Chrystal van Wyk op 028 050 1385 of stuur ’n e-pos na admin@expo.org.za. Indien jy oornagakkommodasie benodig, kontak die Kaap Aghulhas-toerismekantoor by 028 424 2584/082 896 2225 of besoek www.overberg-info.co.za vir verblyf naby of in Bredasdorp, Napier, Struisbaai, Waenhuiskrans en L’Agulhas, Swellendam, Caledon, Stanford en Hermanus.