Om ’n fluitjie te blaas of nie

Gepubliseer: 30 Junie 2023

295

Beste Grootneef

Die winter het nou behoorlik sy tande in die Vrystaatse vlaktes ingeslaan. Koue nagte onder ’n helder sterreprag met temperature vêr onder die zero’s wanneer die son sak. Helder sonskyndae wat die oggendryp soos mis voor die son laat verdwyn en met klank wat vêr in die helder winterlug loop.

Ou Neef, na die Zondo-kommissie se bundels van hoe besigheid nié in die Republiek gedoen moet word nie, het daar eintlik nog net dadels van al die aanbevelings gekom. Net nog ’n kommissie in ’n ellelange lys van kommissies waaraan die Buffel se bewind in die Suidland onthou sal word. Die nuutste kommissie wat aangestel is, moet ondersoek instel na wat op ’n Russiese oorlogskip in Simonstad gelaai is. Maar hierdie bevindinge gaan geheim gehou word… waarom dan ’n kommissie in die eerste plek aanstel? As die uitslag ’n geheim gaan bly, wat is daar dan om weg te steek?

Met die spoed waarmee kommissies in die Suidland aangestel word, is die grootste risiko vir die Republiek dat daar te min oudregters beskikbaar sal wees vir al die ondersoeke wat so mildelik uitgedeel word.

Sake wat met leierskap beslis kon word, beland nou voor ’n kommissie. En soos dit nou maar is, begin ’n kommissie om ’n perd te ontwerp en eindig uiteindelik met ’n kameel.

Wat regter Zondo se kommissie egter wel reggekry het, is dat knoeiery met belas­tinggeld nou meer kreatief geraak het. Verby is die blatante PRASA-dae toe Spaanse lokomotiewe wat nie op ons spore of in ons tonnels sou pas nie, oop en bloot aangekoop is. Dit is am­per of knoeikomitees weekliks byeenkom om te besin hoe om skelmstreke binne enige oudit­stelsel staan te maak sonder dat dit verdag lyk.

Met ’n onlangse besoek aan die familie in die stad is van die kreatiewe skelmstreke uitgewys. Verkeersirkels wat bo op verkeersirkels gebou word. Niks fout met die bestaande sirkel nie, maar ’n tweede laag op die ou sirkel sal enige ouditeur tevrede stel dat ’n projek wel aangepak en suksesvol voltooi is. Net so is padaanwysings en pale vervang. Niks fout met die paal of die verkeersteken nie, maar die volgende dag was daar ’n splinternuwe teken op ’n nuwe paal wat in die straat gepryk het. Weer eens, enige iemand wat die projek sou ondersoek, sal die kontrakteur volpunte gee vir ’n suksesvolle projek wat afgehandel is. Maar was dit nodig?

Vergeet van die PRASA-model; die nuwe soustrein loop volspoed met projekte wat enkele tenderaars bevoordeel, maar geen verskil aan mense se lewens maak nie.

In Bethlehem is daar nou ’n unieke projek – “Adopt a pothole”. Inwoners kry die geleentheid om ’n slaggat in hul straat aan te neem en soos hul eie te versorg. Die gat moet net gereeld toegestop word. Die groter prentjie is egter dat die burgerlike samelewing nou die staat se taak op vele terreine oorneem, maar steeds belasting moet betaal vir dienste wat nie gelewer word nie.

Nadat Eskom se gewese baas die fluitjie geblaas het dat alles nie wel by die kragverskaffer is nie, is hy byna in sy eie kantoor vergiftig. Die twee polisiebeamptes wat ge­stuur is om die saak te ondersoek, wou volgens berigte heeltyd De Ruyter se sinusse ondersoek. Hulle kon eenvoudig nie die kloutjie by die oor bring dat die man bykans met sianied vergiftig is nie. Die hartseer deel is dat De Ruyter nou bykans as aange­klaagde behandel word en voor vele komitees moet verskyn, sonder dat ’n vinger verroer word om die meriete van die beweerde korrupsie te ondersoek. Wie sal ooit weer waag om ’n fluitjie in die Suidland te blaas?

Die ironie is dat ’n Minister van Elektrisiteit nou aangestel is wat bykans daagliks sonder ’n portefeulje sit, soos wat beurtkrag uitgedeel word.

Ou Neef, Jan Alleman en verskeie nywerhede is besig om na son- en windkrag oor te skakel om uit gebrekkige kragvoorsiening te ontsnap. Wanneer ons nasionale kragverskaffer weer hulle oë uitvee, gaan ’n groot deel van hul bestaande kliënte hulle eenvoudig nie meer nodig hê nie. Wanneer ’n bus gaan staan, ry voer­tuie eenvoudig óm so ’n bus. Met Eskom se vele kragsentrales wat gaan staan het, beweeg die wat kan aan om hulle eie toekoms te bestuur, sonder ’n Eskom wat hul besigheidsbesluite kan versuur.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.