Groei vooruit

Gepubliseer: 30 Junie 2023

363
Dr Pieter Taljaard
HUB, Graan SA pieter@grainsa.co.za

Teen die agtergrond van die opiniestuk (beskikbaar deur die QR-kode te skandeer) wat onlangs gepubliseer­ is, geïnspireer deur verskeie gebeure die afgelope tyd wat besigheidsvertroue laat daal, deel ek graag ’n paar van ons “lugkastele” wat besig is om gestalte te kry by Graan SA – met die hoop dat ons nog ’n paar “ontwerpersateljee”- en/of “werkkamer”-idees kan inspireer by die wat dit binnekort daagliks gaan gebruik.

Behalwe vir die feit dat GSA ’n niewinsgewende organisasie is, is dit niks anders as enige ander besigheid met kliënte (ja, nie klante nie), verskaffers en rolspe­lers of belanghebbendes – en ek glo dit is hoe GSA bestuur moet word. As jy vir ChatGPT vra waarop ’n besigheid moet fokus, is die eerste ding wat jy lees (terwyl jy voel hoe die Apple verder tik): Kliëntetevredenheid.

Wel, dit is Besigheids- of Ondernemingsbestuur 101. Die feit bly egter staan: Om die hoogste prioriteit daarop te plaas om die verwagtinge van jou kliënt te bevredig is en bly die regte fokus. Die kopskuif wat ons besig is om te maak, is dat selfs ’n diensorganisasie, of is dit nou ’n dienstebesigheid sonder winsbejag, hoëkwaliteitdienste met uitstekende diens aan die kliënt moet kan lewer! Om dit te kan doen moet ’n besigheid bereid wees om te luister (en om te hoor is seker die bereidgedeelte) en voortdurend verbeter.

Die ander ses faktore wat ChatGPT uitspoeg, sluit in: innovasie; markanalises; strategiese beplanning; effektiewe bemarking; finansiële bestuur (vir my eerder breër korporatiewe bestuur); en laaste en seker die belangrikste, werknemerbetrokkenheid en -tevredenheid. GSA dryf lankal die strategiese doelwit om ’n voorkeurwerkgewer te wees, juis omdat ons om passie­volle kundigheid in die korporatiewe omgewing meeding.

Soos ek al vantevore verduidelik het, werk ons intern teen ’n taamlike tempo om ons bestaande sisteme te verbeter om beter en meer effektiewe – en dus verantwoordelike – dienste te kan lewer. As ek die sisteem skematies voorstel om te verduidelik, plaas ek die GSA-lid (kliënt) in die kern en die groep van entiteite draai rondom. Eerstens is die strategie van kardinale belang en dit bring die fokus of prioritisering. Veral gegewe die omstandighede waarbinne ons werk, is soliede korporatiewe bestuur deurslaggewend. Soos julle weet, het GSA die afgelope 18 maande baie sterk hierop gefokus en gevorder wat ook verder help om die bestaande finansiële sisteem te verbeter en meer kapasiteit te skep. So­doende kan daar meer intydse resultate gelewer en gerapporteer word om die bestaande vertroue net verder te versterk en te verseker.

GSA fokus al vir ’n geruime tyd daarop om ’n voorkeurwerkgewer te wees en te bly wat toegewyde en passie­volle individue kan trek en behou. Dit is veral belang­rik vir ’n organisasie sonder winsbejag en dus ’n groot prestasie om dit te kan regkry. Verder het GSA ook oor jare daarin geslaag om sulke individue se kapasiteit en vermoëns so te ontwikkel om op verskeie vlakke waarde aan die bedryf te bly lewer, wat op sigself net so ’n groot prestasie is. Om dié rede is die ontwikke­ling en bestuur van talent ononderhan­delbaar deur die hele organisasie.

Ons weet almal baie goed waar ons staan met die vrywillige heffings. Soos ooreengekom, het ons in April weer die jaarlikse gesprek rakende vrywillige heffings besoek en bly ons steeds by die standpunt dat dit die veld is waar ons wil en gaan speel. In my opinie kan GSA deur sisteme in plek te stel wat dit vir lede makliker maak om met hul organisasie besigheid te doen en te rekonsilieer, asook deur ons waardeproposisie verder uit te bou en anders te verpak, gemaklik 50% van die potensiële heffings wat tans nie geïn word nie, bykry. Die ander 50% kan behaal word deur beter en ander kommunikasie te gebruik om lede wat nie die waarde sien en verstaan nie te nader en te probeer oortuig om ook deel te vorm en hul bydrae te maak om volhoubaarheid verder te verseker.

Die mooi daarvan is dat soos ons die nuwe tegnologie omarm, daar ongelooflike geleenthede ontstaan om nie net nuwe waarde te ontsluit en te skep nie, maar ook om ou uitdagings die hoof te bied. Wat die waardeproposisie betref, is daar verskeie innoverende voorbeelde wat ons inspireer om ’n beter en meer effektiewe diens te lewer. Aartappels SA het byvoorbeeld onlangs met ons gedeel dat ’n weekverslag in die Excel-dae, twee volle dae van ’n ekonoom geneem het om te voltooi. Nou, nadat hulle dit in ’n slimmer stelsel geprogrammeer het (Microsoft se Power BI), neem dit hoogstens 30 minute – dis 97% tyd wat bespaar word!

As jy met ons kollegas by Savpo (die Suid-Afrikaanse Varkvleisprodusente-organisasie) praat, reken hulle die tydbesparing is die kleiner voordeel en dat die diepte en kwaliteit van ontledings wat moontlik raak met die sisteme asook die ander fokus en meer tyd van die menslike faktor, die eintlike wen is. Dit is dié dinge wat my krukas nou werklik laat spoed optel!

Ek het al dikwels die voorbeelde intern gebruik as ons kyk wat motorvervaardigers met hul toeps doen en die waarde en voordele daarvan, maar ook met iets soos die SANRAL-toepassing, sien ek net ’n totaal ander GSA in die volgende jaar. Van die idees wat weldra beskikbaar gaan wees op die GSA-toep, sluit in die manier wat ons beplan om jou te bedien met inligting deur toegang tot die sisteem, jou NAMPO-kaartjies te voorsien en toegang meer effektief te bestuur, die geleentheid om jou heffingsbetalings en afrekening self te kan bestuur asook die vermoë om van streeksvlak tot nasionaal afgevaardigdes te kan nomineer en te kan verkies. Dan seker die een wat my die meeste opgewonde maak wat waarde betref: die idee om jou produksie- en naspeurbaarheidsinligting op ’n veilige plek te sentraliseer sodat afnemers en voedselverwerkers dit met jou toestemming kan trek sou jy dit verkies.

Dit is alles moontlik en besig om gestalte te kry binne die groter landbou-omgewing. Jy sal binnekort opmerk dat sodra jy inskakel, ander lewendehawebedryfsplatforms soos vark- en rooivleis, ook met dieselfde aanteken­besonderhede bereik kan word. Die visie en doel hiermee is om die tegnologie te gebruik om meer effektief te wees en dus meer waarde vir lede te ontsluit.

Skandeer die QR-kode

As ek na al hierdie faktore kyk, voel ek sommer baie tevrede dat Graan SA met presies die regte dinge besig is om onsself fiks te hou en reg te kry vir nuwe veranderinge wat kom. Teen die tempo wat dinge bly verander, sien ek nie dat ons ooit by die normaal gaan uitkom nie. Ek voel die fokus is reg en dat ons besig is om onsself met die veranderinge – ja, op sommige plekke moes ons die fondasies oopgrawe en nog staal en beton invoeg – uiters goed op te stel om te doen juis dit wat ons moet: om jou as lid te help om winsgewend en volhoubaar te bly produseer.

Ons hoor graag van jou. Droom saam vooruit en help so jou eie toekoms bou en verseker – ons onderneem om jou te hoor! Graan SA-groetnis.