Reitz se landboudag ’n groot sukses

Gepubliseer: 12 Junie 2023

209
Karina Muller,
SA Graan/Grain-medewerker

Hoërskool Reitz het op 21 April hul tweede Jeug-en-Landboudag aangebied waar jongmense meer oor vele aspekte van die landbou te wete kon kom.

Anneke Smith, wat met die reëlings gemoeid was, sê die doel van dié geleentheid is drieledig. Met die dag poog Hoërskool Reitz eerstens om vir jongmense die geleentheid te gee om meer oor die skool en wat hulle bied uit te vind en natuurlik om kontak met groot rolspelers in die landbou te maak.

Die tweede doel is dat jongmense en kinders in aanraking kan kom met die skool se diere, wat konyne, skape en beeste uit hul Bonsmara-stoet insluit. Daar was ook diere wat vir die dag kom kuier het om kleur te verleen – kinders kon onder meer met ’n mak bul aan ’n halter rondstap of ’n perd roskam.

Laastens was die doel van die dag om interaktief met die gemeenskap en onmiddellike bure, soos Petrus Steyn, asook besoekers wat van so ver as Standerton gekom het, te skakel en te wys wat dié skool bied. Daar is veral klem gelê op die skool se snel groeiende landbou-akademie wat ook met sy eie boerdery-afdeling spog.

Sowat 450 kinders het die dag bygewoon en daar was ook heelwat volwassenes wat kom saam kuier het. Volgens Smith was dit ’n dag propvol hoogtepunte. So kon die kleinspan verskillende stalletjies met speletjies besoek en by elk ’n stempel in ’n “paspoort” kry. Van die speletjies wat veral gewild was, was John Deere se boeresport, bokdrol-spoeg en baal-dra.

Ouer kinders kon onder andere sien hoe verskillende organis­mes onder ’n mikroskoop lyk. Die Riemland-studiegroep het hierdie aktiwiteit aangebied. Daarby kon besoekers aan heerlike gunstelinge soos beesstert, afvalpotjie en skaapkop smul.

Graan SA was een van die borge by die geleentheid.

Skoolhoof Uys le Roux saam met leerders wat die dag bygewoon het.
Hoërskool Reitz se hoofseun en -dogter, Jehoshua de Bruyn en Dané Dorfling, oorhandig pryse by die skool se onlangse Jeug-en-Landboudag.