Iets vir elke vrou

Karina Muller, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 9 Junie 2023

299

Daar was vanjaar ’n drietal Adams wat die Evas as deel van NAMPO se Vroueprogram trakteer het. En was dit ’n heerlike bederf!

Elke vrou het ’n bederfsakkie van Afgri, wat vanjaar hul honderdste bestaansjaar vier, ontvang.

Sanger Chris Else se fluweelstem het beslis die hartsnare geraak. Hy het daagliks die program met gebed en geestelike liedere geopen en later deur die dag liedjies van bekende sangers asook uit sy eie pen gesing.

Mynhardt Joubert, bekende sjef van die Paarl, het geregte uit sy nuwe resepteboek, My Stasie Straat Kombuis, demonstreer. Hy het elke dag ’n ander kleur as inspirasie geneem en geregte om die spesifieke kleur gebou.

Hy het ook daagliks ’n tafel in die kleur van die geregte gedek en heelwat wenke met besoekers gedeel. Vroue kon verder spesiale pryse wen deur Mynhardt se vrae korrek te beantwoord.

Willem Botha, veelsydige kunstenaar, het elke dag ’n demonstrasie in verskillende grimeerstyle aangebied. Hy vertel dat hy homself deur eksperimentering en YouTube-video’s geleer het om grimering te doen. Tans doen Willem die grimering van vele beken­des vir sy fotosessies en hy is die amptelike voorbladfotograaf vir die tydskrif, Rooi Rose.

By die stalletjies was daar vele items te koop – vir vroue met dik asook dié met dunner beursies.

Items het gewissel van Jenna Clifford se pragjuwele, Persiese tapyte, skilderye en Silhouett se klere wat plaaslik ontwerp en in Suid-Korea vervaardig word tot dekoritems, wol, pantoffels en speserye.

Gunstelinge op NAMPO Park
SA Graan/Grain het by ’n paar vroue uitgevind wat dit is wat hulle na die NAMPO Oesdag lok:

  • Santa Smit, Randburg – “Beslis die vroueprogram!”
  • Marlene Momberg, Centurion – “Dit is die vriendelike mense en die kultuur hier.”
  • Elna Bester, Klerksdorp – “Die stalletjies!”
  • Erika Steenkamp, Polokwane – “Die feit dat almal hier Afrikaans praat.”
Die veelsydige Willem Botha (akteur, sanger, fotograaf en grimeer­kunstenaar) wys hier vir Louise Erasmus van Hoopstad hoe om onderlaag perfek aan te wend.
Sjef Mynhardt Joubert van Kokkedoor-faam tooi ’n tafel in skakerings van groen. Die geregte wat hy demonstreer het, het by die kleurskema aangesluit.
Elsje de Wet en Santie du Plooy van Durban het vanjaar vir die eerste keer hul ingevoerde wol by die Oesdag uitgestal.
Sanger Chris Else het vroue (en ook enkele mans) by NAMPO se Vrouetent op musiek uit toentertyd trakteer. Sy program het liedjies van Jim Reeves en Neil Diamond ingesluit.
Susters Wilma Burger (Malmesbury) en Marie van den Berg (Strand) is ou bekendes in die SAMPI-saal. Hulle het vanjaar dekoritems en veeldoelige “juffrou”-sakke uitgestal. Die items word deur plaaslike vroue vervaardig.