Om aan te pas

Gepubliseer: 8 Mei 2023

355

Beste Grootneef

Die seisoen draai nou vinnig met ’n nuwe koue, droë wit seisoen wat op pad is. Die veld is pure herfs nadat die eerste ryp plek-plek soos as oor die vleie uitgestrooi is. Vir die enkele jong sonneblomme hou ons duim vas dat die harde ryp nog so ’n week of wat sal kans gee.

Ou Neef, sommige owerstes in ons goewerment loop behoorlik breëbors nadat die Bester-verpester in Tanzanië vasgekeer is. Dis behoorlik asof die vangs en uitlewering van die man en sy vriendin na Suid-Afrika oornag die plaaslike misdaadstatistiek halveer het. Soveel van onderhoude met ministers, senior polisiemanne en owerstes was lanklaas te siene. Ou Neef, goed en wel dat ’n skelm sardien met ’n harpoen vasgekeer is, maar as dieselfde span eendag die werklike groot visse soos die Guptas kan aankeer en laat uitlewer, dán kan hulle dit van die dakke af skree. Deel dán die medaljes uit wanneer die skuldiges wat die land gestroop het, in oranje oorpakke uitgedos word.

Neef Dawie het by die onlangse Graan SA Kongres verwys na Charles Darwin wat sy tyd ver vooruit was. Darwin het begin skryf oor die evolusie van spesies oor eeue. Hoewel baie akademici en kerk­leiers van Darwin se evolusie­teorie verskil, dra die volgende na al die jare van debat steeds water. Dis nie noodwendig die sterkste van die spesies wat oorleef het nie, maar dié wat betyds kon aanpas.

Dawie het toe ook sommer Darwin se teorie oor tydige aanpassing by nuwe omstandighede deurgetrek na die harde besigheidswêreld. In die jaar 2000 is Nokia wêreldwyd as die waardevolste handelsmerk geag. In 2022 is die Apple-handelsmerk in hierdie gesogte posisie, met Samsung in die vierde plek.

Van die ouer handelsmerke was Microsoft een van die enkeles wat in 2000 as die tweede waardevolste handelsmerk geag is, met dieselfde aansien in 2022, steeds op nommer 2. Dít wil gedoen wees – veral in die dam waarin Microsoft swem. Microsoft het relevant gebly deur waarde te bly toevoeg.

Die vraag is waarom Nokia nie dieselfde kon vermag nie – want in 2000 was Nokia heel voor in die foonkompetisie met sy 51-10-model. Kan julle nog daardie baksteen van ’n foon onthou? Die geskiedenis het egter geleer dat Nokia so selfvoldaan was om die beste in 2000 te wees, dat hulle nie tred gehou het met die nuwe en ander behoeftes van verbruikers nie. Hul mededingers het met toenemend slimmer fone vir Nokia in sy eie gemaksone van daardie tyd agtergelaat en eenvoudig beter, vinniger en ratser tred gehou met die behoeftes en verwagtinge van ’n nuwe generasie.

Dieselfde kan gesê word van Microsoft. Hoewel nie in 2000 bo aan die leer nie, het Microsoft voortdurend by nuwe uitdagings aangepas. En rek hulle nog steeds hul treë in die wedloop met nuwe dienste en produkte wat ’n mens soms verstom laat oor wat hul programme alles kan vermag.

Darwin se standpunt van wie in ’n veranderde omgewing oorleef, is dus steeds in die kol. Dit is beslis nie die spesie wat op daardie stadium die sterkste is nie, maar dié wat leer om betyds aan te pas. Darwin self het in April 1882 op 73-jarige ouderdom gesterf. Sy teorieë oor tydige aanpassing is egter na meer as 100 jaar nog springlewendig.

Dit is in ’n neutedop vir ons as graanprodu­sente die grootste uitdaging. Die ou dae se manier van boer gaan net nie meer werk nie. Want alles het verander – die mark, tegnologie, meganisasie, agrichemie, die waardeketting, maar veral die verbruiker. Vir graanprodusente wag nuwe uitdagings in elke seisoen en moet aanpassings deur­lopend gemaak word.

Soms het ons nodig om deur ’n venster na die toekoms te kyk. NAMPO 2023 bied so ’n uitsig op nuwe tegnologie en geleent­hede. Ou Neef, sien jou op NAMPO. Ek wil sien wat die toekoms bied. Om betyds te kan aanpas.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.