Die impak van hersiene JSE-kontrakspesifikasies

Mariana Purnell, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 1 Maart 2023

413

Alle landbouprodukte in Suid-Afrika wat op die kommoditeitsafgeleide mark verhandel word, kan fisies vereffen word by verstryking ter vervulling van ’n termynkontrak. Die JSE maak gebruik van ’n silosertifikaat, ’n oordraagbare maar nie onderhandelbare dokument nie, wat ’n spesifieke hoeveelheid voorraad van sekere kwaliteit in ’n geregistreerde silo verteenwoordig om afle­wering te bewerkstellig. Die silosertifikaat kan ’n aantal kere deur die mark teruggegee word. Eers wanneer ’n silosertifikaat vir die uitlaai van die fisiese produk aan ’n stooroperateur terugbesorg word, word die sertifikaat finaal gekanselleer.

As gelisensieerde beurs is die JSE verplig om ’n billike, doeltreffende en deursigtige mark te verseker in die genoteerde termynkontrakte wat op sy afgeleide mark verhandel word. Een van die elemente van ’n termynmark wat hieraan voldoen, is dat daar pryskonvergensie tussen die kontantprys en die termynprys van die onderliggende kommoditeit moet wees wanneer die termynkontrak verstryk. Daarbenewens moet daar ook pryskonvergensie wees om te verseker dat die genoteerde termynkontrak as ’n effektiewe verskansingsinstrument gebruik kan word.

Die JSE aanvaar slegs elektroniese sertifikate wat deur geregi­streerde bergingsoperateurs uitgereik is. Die integriteit van die JSE-afleweringsproses berus op gepubliseerde vereistes en bestaande ooreenkomste met goedgekeurde bergingsoperateurs wat toegelaat word om JSE-sertifikate uit te reik vir die kwaliteit, hoeveelheid en ligging van produk waar dit gestoor word. Daar is tans 16 geregi­streerde bergingsoperateurs met meer as 250 geregi­streerde afleweringspunte landswyd waar verkopers kan besluit om hul afle­wering te tender.

Kommer oor die toeganklikheid tot fisiese produkte, veral witmielies, op die JSE se genoteerde termynkontrakte en angstigheid oor die moontlike impak op die integriteit van die JSE-mark en spesifiek of daar pryskonvergensie tussen die termynprys en kon­tantprys was by verstryking van die termynkontrakte wat op die JSE ge­noteer is, het in 2020 ontstaan. Dit het die JSE genoop om in Desember 2020 ’n onafhanklike oudit deur ’n kenner op die gebied te laat uitvoer, die voormalige hoof van Kommoditeite: Kapitaalmarkte, Chris Sturgess. (Lees meer hieroor in die November-uitgawe van SA Graan/Grain.)

Na afloop van Sturgess se ondersoek en ’n uitgebreide hersie­nings- en kommentaartydperk het die JSE reeds op 25 Mei 2021 ’n dokument met gedetailleerde gewysigde landboukontrakspesifikasies gepubliseer.

Vereistes is gewysig en bygevoeg, veral ten opsigte van bylaes C en D met betrekking tot bergingsoperateurs en geregistreerde afle­weringspunte. Die JSE is van mening dat hierdie gewysigde ver­eistes die integriteit, doeltreffendheid en deursigtigheid van die fisiese afleweringsproses verder verbeter indien ’n kortposisiehouer verkies om ’n kommoditeit te lewer ter nakoming van sy verpligtinge soos uiteengesit in JSE-genoteerde termynkontrakte.

Voortdurende verbetering
Die JSE gebruik kontrakspesifikasies om sy verhouding met die bergingsoperateurs asook met die markdeelnemers te bestuur. Voortdurende verbeterings aan die JSE-kontrakspesifikasies het ten doel om die proses meer deursigtig te maak, oudits te publiseer, die ko­pers te verbind tot werklike infrastruktuuruitlaaivermoëns, JSE-oudits van laaigleuwe te doen en oortyd vir uitlaai te verleng. Dit alles behoort die prosesvloei te verbeter, maar helaas is die mark steeds blootgestel aan die werklike infrastruktuurvermoëns by elke bergings­kompleks.

Hiermee van die belangrikste beginsels wat in die hersiene JSE-kontrakspesifikasies opgeteken is:

Bergingsoperateurs speel ’n deurslaggewende rol om die integriteit van die hele JSE-afleweringstelsel te verseker en moet voortdurend herinner word aan hul verpligtinge om slegs JSE-sertifikate uit te reik wanneer voorraad van die korrekte kwaliteit en hoeveelheid op ’n spesifieke plek beskikbaar is. Geen JSE-silokwitansie mag uitgereik word indien die vereiste hoeveelheid en kwaliteit van die produk nie beskikbaar is by die afleweringspunt wat aangeteken en op die elektroniese sertifikaat aangedui is nie.

Daar is ’n hele nuwe afdeling wat poog om ’n mate van verse­kering te gee rakende toegang tot fisiese voorraad. Die JSE het met die bergingsoperateurs ooreengekom dat 25% van die uitlaaikapasiteit gedurende die vyf hoofverskansingsmaande aan JSE-ontvangste toegewys word. Indien ’n koper aflewering neem, byvoorbeeld in Julie-maand, kan hy die bergingsoperateur nader en die ber­gingsoperateur moet 25% van die uitlaaikapasiteit opsysit vir JSE-sertifikate. Dit is hoofsaaklik om te voorkom dat iemand al die gleuwe by ’n silo bespreek en so veroorsaak dat toegang van ander ontneem word vir die aflewering van ’n JSE-sertifikaat by die betrokke silo.

Soos duidelik aangedui op die sertifikaat en in die gedetailleerde kontrakspesifikasies, mag ’n JSE-silosertifikaat nie uitgereik word indien daar enige retensiereg of beswa­ring op die voorraad is nie, behalwe vir die bergingsoperateur se gemeenregtelike retensiereg vir betaling van uitstaande berging. Afgesien van hierdie retensiereg het die bergingsoperateur geen ander reg of titel op die produk nie.

Afdeling 4.2 van bylaag C teken die verskillende stappe aan wat die JSE kan doen indien ’n JSE-goedgekeurde bergingsoperateur versuim om enige van sy verpligtinge, soos uiteengesit in die toepaslike kontrakspesifikasies, na te kom. Dit kan selfs die deregistrasie van die bergingsoperateur en al sy afleweringspunte insluit.

Verskeie maatreëls is deur die JSE aanvaar en geïmplementeer om sy prosedures vir die monitering van bergingsoperateurs se voldoe­ning aan die toepaslike vereistes aan te vul. Die aantal individuele ouditinspeksies wat op geregi­streerde bergingsentiteite uitgevoer kan word, is aansienlik verhoog en ’n aantal prosesse is ook ingestel om geregistreerde bergingsterreine vir oudit te identifiseer en te kies.

Die konsep van goeie aflewering is belang­rik en die verpligting van ’n kortposisiehouer (verkoper) om besit aan die koper oor te dra (goeie aflewering) is ’n grondliggende hoeksteen van die Suid-Afrikaanse wet van koop en verkoop van goedere. Dit word sedert die Romeinse tyd eenvormig toegepas. Die vereistes van goeie lewering soos vervat in die kontrakspesifikasies is niks meer as ’n rekord van hierdie goed gevestigde regsbeginsel nie. Dit bly van deurslaggewende belang om te verseker dat ’n verkoper se verpligtinge duidelik uiteengesit word en ’n belangrike element is van ’n billike, doeltreffende en deursigtige mark in die sekuriteite wat op die JSE genoteer en verhandel word.

Indien ’n kortposisiehouer nie in staat is om “goeie aflewering” te maak nie as gevolg van ’n bergingsoperateur se onvermoë of versuim om sy verpligtinge soos uiteengesit in die kontrakspesifikasies na te kom, sal die kortposisiehouer ’n eis teen die bergingsoperateur hê vir enige en alle skade wat gely is as gevolg van die bergings­operateur se nienakoming.

Die geskilbeslegtingsproses is aansienlik verbeter en is beskikbaar vir enige houer van ’n JSE-silosertifikaat in die geval van so ’n eis teen ’n bergingsoperateur. Benewens die gewone kontraktuele verhaling, het die houer van ’n silosertifikaat ook ’n eis vir ’n kon­tantbetaling wat ’n verdere boetebetaling insluit om die houer van ’n JSE-silosertifikaat te vergoed indien hy nie die lewering van die fisiese produk kon verseker nie. Soos voorheen vermeld, was daar slegs een geval van ’n bergingsoperateur wat versuim het om sy verpligtinge as goedgekeurde bergingsoperateur na te kom.

Deelnemers in die graanmark word daaraan herinner dat die JSE nou ’n lys op sy webblad publiseer van alle silo’s wat onafhanklik geoudit is, tesame met bevestiging van die jaarlikse hersieningspro­ses van elke JSE-geregistreerde bergingsoperateur.

Die JSE is deeglik bewus van sy verantwoordelikhede om die integriteit van die fisiese afleweringsproses te verseker en die potensiële impak op prysbepaling indien dit nie dienooreenkomstig be­stuur word nie. Die instansie bly ten volle daartoe verbind om voort te gaan om met alle belanghebbendes saam te werk om te verse­ker dat die JSE se kommoditeits- afgeleide mark die voorkeurbestemming vir prysrisikobestuur in Suid-Afrika bly.

Ander voorstelle
Dit is verstaanbaar dat daar jare sal wees wanneer fisiese voorraadvlakke in ’n paar uitgesoekte afleweringspunte gekonsentreer sal wees. Daar word nie elke seisoen surplusproduksie verwag nie, maar die buitengewone konsentrasie van voorraad by die groter silo’s in goeie produksiejare bly ’n werklikheid in die kommoditeitsmarkte. Sturgess meen egter dat die volgende stappe deur die JSE oorweeg kan word:

  • Verseker die nodige vertroue in afleweringsprosesse onder markdeelnemers asook die vermoë om bergingsoperateurs te oudit sodat hulle die fisiese afleweringsplatform ondersteun.
  • Begin ’n veldtog om al die verbeterings wat geïmplementeer moet word aan die breër mark bekend te stel en demonstreer aktief wat reeds gedoen is om te verseker dat die bergingsbedryf aan die JSE-kontrakspesifikasies voldoen.
  • Die bergingsoperateurs kan saamwerk deur hul uitlaaistatistieke aan die einde van elke maand te publiseer sodat die markrolspelers kan verstaan watter operateurs die aktiefste was ten opsigte van die totale tonnemaat wat uitgelaai is en hoe hul infrastruktuur benut is.
  • Monitor voortdurend die nakoming deur bergingsoperateurs aktief en tree op waar daar oortredings is. Dit vereis spesifieke praktiese ervaring van die onderliggende mark wat die kommoditeitspan oor die jare opgebou het.
  • Die keuse van ouditpersele vir onafhanklike verifikasie moet belyn word met brandpunte om moontlike probleme te identifiseer. Die seleksiekriteria moet aan die breër mark bekendgemaak word om bewustheid te skep en vertroue by belanghebbendes te bou.
  • Gaan voort om prosesse te verbeter ten opsigte van die hersie­ning van ouditterreininligting en maandelikse verslae deur bergingsoperateurs sodat goeie bestuur by die bergingskompleks verseker is.
  • Onafhanklike oudits moet óf teen die einde van elke maand uitgevoer word sodat die voorraadverslae met die bergingsoperateurs se maandelikse indiening vergelyk kan word, óf andersins wanneer daar aansienlike voorraad op die JSE gelewer is ter voltooiing van ’n termynkontrak.
  • Herinner die mark dat die JSE nie die mandaat het om op te tree in verband met enige ander aspekte behalwe voorraad gehou op JSE-sertifikate nie.

Gevolgtrekking
Die integriteit van die JSE-mark vir kommoditeits- afgeleide instrumente is gebou op ’n betroubare fisiese afleweringsproses. Om te verseker dat die afgeleide kontrakte ’n relevante verskansing bly en dat pryskonvergensie bereik word, moet die mark vertroue hê in die fisiese afleweringsproses. Die integriteit van elke geregistreerde JSE-bergingsoperateur is uiters belangrik vir die uitreiking en eerbiediging van JSE-silosertifikate. Met enige mark is daar altyd ’n geleent­heid om prosesse te verbeter en daarom moet die aanbevelings tot die landboukontrakspesifikasies beskou word as nog ’n mylpaal in hierdie bedryf wat daarop gefokus is om ’n beter afgeleide markplek te bou.

Die mark sal van die JSE verwag om met integriteit, deursigtigheid en vasbeslotenheid op te tree om te identifiseer waar daar oortredings was, dit te openbaar en om met die nodige opdrag op te tree om te verseker dat alle belanghebbendes die reëls en kontrakspesifikasies van die JSE-kontrak respekteer.