Februarie se helde is: Oom Broer Stapelberg, Ben van Rensburg en Edie van Wyk

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 28 Februarie 2023

578

Stigterslede leer boere weer vertrou

Februarie se wennominasie vir die Graan SA/John Deere My Hero-reeks kom uit Piet Retief, Mpumalanga.

Die voorsitter van die Piet Retief-studiegroep, Rian Maree,­ vertel dat die groep sy ontstaan gehad het toe produsente in die area onder gewel­dige finansiële druk verkeer het. Heelwat moes hul plase verlaat om elders ’n heenkome te soek. Die stand van sake het drie produsente genoop om ’n studiegroep daar op die been te bring. Oom Broer Stapelberg, Ben van Rensburg en Edie van Wyk wou daardeur die welvaart van die omgewing verhoog. Vir hierdie inisiatief en vir dit wat hulle vir landbou in die omgewing beteken het, is dié drie voorloperprodusente Februarie se landbouhelde.

Die wenners in die My Hero-reeks vir Februarie is oom Broer Stapelberg, Ben van Rensburg en Edie van Wyk.

Die Piet Retief-studiegroep het oor tyd verskeie projekte begin om gemeenskaplike probleme te ondersoek en oplossings daarvoor te kry. In die begin is veral gefokus op die finansiële situasie waarin produsente hulle bevind het. Daar is na begrotings gekyk en rekordhouding het groot prioriteit geniet.

Produksiekostesyfers is in detail bymekaargemaak en bespreek. Deur produsente wat deel was van die studiegroep te dwing om ten minste twee maal per jaar aandagtig na hul finansies te kyk, het die groep daarin geslaag om winste stelselmatig te verbeter.

Welvaart in die area het begin toeneem en daar was ’n hernude vertroue onder mekaar. Sensitiewe inligting is met mekaar gedeel en vertroulik hanteer. Finansiële ontledings het ook tot ’n groot verbetering in die produksie in die omgewing gelei. Beste praktyke in die groep is geïmplementeer met die gevolg dat graanproduksie met soveel as 400% oor tyd verbeter het.

Rian Maree, die hui­dige voorsitter van die Piet Retief-studiegroep, het die stigterslede van die groep, oom Broer Stapelberg, Ben van Rensburg en Edie van Wyk, genomineer as helde in die My Hero-reeks.

Danksy die studiegroep is grondsuurheid nagevors en regge­stel. Volgens Rian het dr Mart Farina – ’n voorloper op die gebied – gereeld in dié verband raad gegee. Die bemesting van sojabone binne ’n mielie-soja-wisselboustelsel is ook nagevors en het tot groot opbrengsverhogings aanleiding gegee. Sclerotinia by sojabone en die uitbreking van grysblaarvlek by mielies was verdere aspekte wat binne die groep bestudeer is en waarvoor oplossings gevind moes word. “Vandag is bewerkingspraktyke onder die soeklig met verskeie produsente wat bewaringsboerdery implementeer,” vertel Rian.

Hy meen die belangrikste resultaat van die studiegroep is die feit dat produsente weer geleer het om vir mekaar om te gee, mekaar te vertrou en sodoende die gemeenskap saam te trek. “Lede het regte vriende geword wat vir mekaar uitgekyk het. As dit met ’n produsent swaar gegaan het, het hulle hom weer op die been gehelp en sy foute help regmaak sodat hy steeds kon bly produseer,” vertel hy.

Vandag is daar ’n nuwe span leiers by die studiegroep, maar die drie stigterslede se inisiatief en bydrae gaan nie ongesiens verby nie. Oom Broer Stapelberg is intussen oorlede en Ben van Rensburg en Edie van Wyk het afgetree, maar ’n nuwe stel Stapelbergs, Marees, Warringtons, Hiestermans, Benekes, Pienaars en ander is daar om die studiegroep vorentoe te neem. Hierdie jonger geslag het ’n stewige fondament om op te bou en die omgewing tot nog hoër hoogtes te lei.