Produksie en verbruik van kanola styg steeds

Gepubliseer: 1 Februarie 2023

580
Heleen Viljoen, junior
landbou-ekonoom, Graan SA, heleen@grainsa.co.za

13/01/2023

In die internasionale kanola- en raapsaadmark is die verwagting dat wêreldproduksie vir die 2022/2023-seisoen met tot 15% kan styg teenoor die vorige seisoen. Toenames in produksie word veral gesien in die topdrie- kanolaproduserende lande, naamlik Kanada, Europa en China.

Tabel 1 vergelyk die wêreldvraag en -aanbod vir die seisoen met die vorige vier seisoene se jaarlikse vraag en aanbod. Wêreldvoorrade het in die 2021/2022-seisoen skerper afgeneem as die verbruik en gevolglik het eindvoorraad gedaal. In die huidige seisoen word ’n baanbrekeroes verwag, tesame met ’n skerp verhoging in pershoeveelhede.

Persing word aangevuur deur hoë persmarges wat dus die vraag na oliesade ondersteun.

Bron: Internasionale Graanraad (IGR)

Internasionale kanolamark
Kanada
Kanada produseer ongeveer 23% van die wêreld se kanola. Vergeleke met die 2021/2022-seisoen, word daar voorspel dat Kanada se hui­dige produksie met 32% kan styg teenoor die vorige seisoen. Hoewel kanolaproduksie gestyg het teenoor die vorige seisoen, is dit die tweede kleinste oes sedert die 2016/2017-seisoen.

China
China produseer 17% van die wêreld se totale kanola-oes. China se 2022/2023-produksiejaar het afgeskop in November, en die oes word gewoonlik tussen April en Junie gestroop. Alhoewel China een van die wêreld se topkanolaproduseerders is, voldoen hul produksie nie aan hul plaaslike vraag nie – hulle is dus afhanklik van invoere daarvoor. Die vooruitsigte vir die 2022/2023-seisoen is dat China se vraag na kanola met 7,3% kan styg, terwyl produksie slegs met 1,97% gaan styg. Gevolglik sal China se invoere verhoog.

Australië
Australië produseer 9% van die wêreld se kanola en is een van die wêreld se topdrie-uitvoerders. Se­dert 2019/2020 het Australië se kanolaproduksie aansienlik gestyg, met elke opeenvolgende produksiejaar wat nuwe rekordhoogtes behaal. Die oes wat tans gestroop word, het by gunstige groeitoestande baat gevind.

Indië
Indië produseer 13% van die wêreld se totale kanola-oes. In Januarie was Indië se produsente besig om die oes klaar te plant. Indien die geprojekteerde 5%-toename in aangeplante oppervlakte realiseer, sal dit moontlik produksie bo verlede jaar se vlakke lig. Groeitoestande in Indië lyk ook gunstig. Vergeleke met die 2021/2022-seisoen, word daar voorspel dat Indië se produksie met 1% kan styg en weer rekordhoogtes bereik.

Plaaslike produksie en verbruik
Kanola vervul ’n uiters belangrike rol in die plaaslike oliesademark en vir wintergraanprodusente speel dit ’n beduidende rol in wisselbousisteme. Kanola het veelsydige gebruike in die kommersiële en veevoer­markte. Grafiek 1 is ’n grafiese voorstelling van die plaaslike vraag-en-aanbod-scenario vir kanola sedert die 2011/2012-bemarkingsjaar.

Grafiek 1: Suid-Afrika se kanolavraag en -aanbod.
Bron: SAGIS, Graan SA

Die 2021/2022-produksieseisoen is gekenmerk deur rekordprodusentelewerings, soos gesien in Grafiek 1. Sedert die 2011/2012-bemarkingsjaar het plaaslike produksie met 237% gestyg, vanaf 58 800 ton na 198 100 ton in 2021/2022. Daarmee tesame het plaaslike vraag ook gestyg, maar steeds oorskry produksie die vraag in Suid-Afrika. Die meerderheid van die kanola-oes word gepers vir olie en oliekoek, alhoewel daar sedert die 2019/2020-bemarkingsjaar groter hoeveelhede na die veevoermark beweeg.

Ten slotte
Kanola-olie is een van die belangrikste eetbare olies, saam met palm-, soja- en sonneblomolie. Oliesade is oor die algemeen met mekaar vervangbaar en ’n tekort aan een tipe oefen prysdruk op die ander uit. Vooruitsigte vir die wêreldwye oliesademark in die 2022/2023-seisoen is vir verhoogde produksie en voorrade tesame met ’n afname in vraag, wat dus wêreldwye eindvoorraad sal aanvul. Groot sojaboonoeste in Suid-Amerika asook groot palmolie-oeste in Oos-Asië plaas afwaartse druk op inter­nasionale oliesaadpryse – en sodoende ook op kanolapryse.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.