Kanolasaad: Beskikbaarheid bly ’n kopseer

Gepubliseer: 1 Februarie 2023

467
Christiaan Vercueil, junior landbou-ekonoom, Graan SA, christiaan@grainsa.co.za

As produksie-inset maak saad ongeveer 15% tot 20% van ’n kanolaprodusent se produksiekosterekening uit. Alle kanolasaad wat in Suid-Afrika aangeplant word, word vanaf Australië, Kanada, Suid-Amerika of Europa ingevoer. As gevolg hiervan maak dit die voorsiening van ’n voldoende hoeveelheid saad ’n uitdaging.

Graan SA kommunikeer deurlopend met saadmaatskappye om seker te maak die regte kultivars is betyds teen die regte hoeveelhede beskikbaar. Na die voorsieningsprobleme in 2022, het Graan SA verskeie vergaderings met die kanolasaadmaatskappye belê om die risiko van saadtekorte te bespreek.

Kanolasaadinligting
Geen kanolasaad word plaaslik vermeerder nie – saadmaatskappye meen dat die plaaslike mark te klein is daarvoor en dat die vermeerdering van bastersaad, wat die grootste persentasie van die mark beslaan, te duur is. Maatskappye meen ook dat die isola­sievereistes van sulke vermeerderings van so ’n aard is dat dit vir Suid-Afrika se relatiewe klein area nie prakties moontlik is nie. Agricol het wel onlangs op klein skaal begin met die vermeerdering van kanolasaad in Suid-Afrika. Hierdie projek is nog in die beginfase. Graan SA wil Agricol bedank en gelukwens vir dié stap om die voorsiening van genoeg saad te help bestuur.

Aangesien 100% van die plaaslike kanolasaadbehoeftes ingevoer moet word, maak dit die voorsiening van genoeg saad ’n kuns. Dit maak dit verder vir plaaslike saadmaatskappye moeilik: Word daar te veel saad ingevoer, sit hulle met die voorraad en moet hulle dit dra. Boonop staan hulle die kans om dit te moet vernietig omdat die kieming van kanolasaad ’n probleem raak hoe ouer dit word.

Kommer oor kanolasaad vir die 2023/2024-produksieseisoen
Daar is tans groot kommer oor die beskikbaarheid van kanolasaad in Suid-Afrika vir die 2023/2024-produksieseisoen – dit weens die feit dat die totale besending van twee van Pioneer se basterkultivars (43Y92CL en 44Y94CL) afgekeur is. Die rede vir die afkeur van hierdie saad is kruisbestuiwing wat plaasgevind het tydens die vermeerderingsproses. Hierdie twee kultivars maak 93% uit van Pioneer se totale kanolasaadverskaffing. Pioneer besit omtrent 60% van die kanolasaadmark in Suid-Afrika. Graan SA is in kontak met ander saadmaatskappye om moontlik saad vanaf ander lande in te voer. Pioneer het die moontlikheid genoem van noodaanplantings in Chili of Tasmanië, maar hierdie idee is nie in diepte bespreek nie en die koste daaraan verbonde is onbekend. Dit kan moontlik die aanplanting van kanola onekonomies maak.

In ’n verklaring uitgereik deur Corteva op 7 Desember 2022, noem die maatskappy dat hy alles in sy vermoë doen om genoeg kanolasaad te verskaf. Die basterkultivar 45Y95CL is ongedeerd en sal steeds ingevoer word.

In die geval waar ongeregistreerde saad ingevoer moet word om aan die vraag te voldoen, sal Corteva versoek dat die owerhede ’n spesiale toegewing maak sodat hierdie saad ingevoer en verkoop mag word.

Vanuit Graan SA se Kanolaspesialiswerkgroep het die volgende vrae ontstaan:

  • Tot watter mate is die kultivars 43Y92CL en 44Y94CL gekontamineer en sal hierdie saad nie steeds beter vaar as teruggehoude saad nie?
  • Sal die noodaanplantings soos genoem ’n praktiese oplossing wees en hoe sal dit saadpryse beïnvloed?
  • Om sulke probleme in die toekoms te vermy, sal Corteva nie oorweeg om saad plaaslik te vermeerder of lisensies aan ander uit te reik om dit te doen nie?

Beskikbaarheid van kanolasaad is die afgelope paar jaar ’n pro­bleem in Suid-Afrika. Ondanks die onvermydelike probleme wat tans ervaar word wat buite enige menslike beheer is, sal saadmaatskappye in die toekoms moet kyk na beter beplanning en kommunikasie. Die doeltreffendheid van die waardeketting sal ook ondersoek moet word sodat die probleem van saadtekorte vir ’n gewas wat al sterk in Suid-Afrika gevestig is, nie sal voortduur nie.

Volgens Agricol behoort die voorsiening van Agricol-saad redelik dieselfde te bly. Daar gaan wel effens minder Diamond wees en ’n bietjie meer Quartz.

Wat in 2022 interessant was, is die verdeling in kanola-aanplantings: 39% van die oppervlakte is geplant met Clearfield-kultivars; 33% met konvensionele kultivars en 27% met TT-kultivars (Grafiek 1).

Grafiek 1: Verdeling in kanola-aanplantings in 2022.
Bron: SOILL

Pak kanolasaadprobleme so aan
Onder die Plantverbeteringswet word saad se kieming en suiwerheid beskerm. Die minimum ontkiemingsvereistes vir kanola onder die Plantverbeteringswet is 60%. Vir gesertifiseerde saad moet die ontkieming ten minste 70% wees, maar die meeste maatskappye waarborg tussen 80% en 90% of 90% en 100%.

Uit ervaring van die verlede, is dit belangrik dat saad by ’n erkende maatskappy met ’n bewese rekord in Suid-Afrika gekoop word. Dit is boonop altyd goed om ’n kontrole te hê om na te verwys, probeer dus om nie net een kultivar aan te plant nie.

Wenke wanneer vermoed word daar is fout met die saad
Indien enige saadprobleme vermoed of ondervind word, moet die volgende stappe gedoen word:

  • Dring by die saadverteenwoordiger op ’n ondersoek ter plaatse aan.
  • Hou rekord van datums en gesprekke.
  • Versamel en stel soveel moontlik inligting op skrif, neem foto’s of maak video-opnames.

Indien die probleem nie opgelos word nie, moenie te lank wag voordat die volgende stappe oorweeg word nie:

  • Tree in verbinding met ’n onafhanklike wetenskaplike om ’n ondersoek ter plaatse te doen.
  • Lede kan Graan SA in kennis stel indien die nodige aandag nie by die saadmaatskappy verkry is nie.
  • Neem die saak met DALRRD op indien die saak steeds nie opgelos word nie.
  • ’n Handelskontrole-ondersoek sal gedoen word ingevolge die Plantverbeteringswet.

Tydens die aankope van saad behoort ’n ontledingsertifikaat van die kwaliteit van die spesifieke saadlot aangevra te word wat uitgereik is deur ’n geregistreerde saadlaboratorium. Hierdie uitslae behoort nie ouer as drie maande te wees nie.

Produsente word ook aangeraai om die fisiese sak en etikette wat aan die sak aangebring is te bewaar sowel as die faktuur wat uitgereik is.

Kontakpersone by DALRRD:
Wes-Kaapse streeksverteenwoordiger
Phillip du Toit: Stellenbosch, 021 809 1656 of PhillipDT@dalrrd.gov.za
DALRRD het verder die volgende wenk:
Produsente word aanbeveel om rekord van lotnommers of kodenommers te hou.