SOSIALE MEDIA – bly só uit die sop uit

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 31 Januarie 2023

504

Is jy die groepadministrateur van ’n WhatsApp-groep? Dan is dit belangrik om jou te vergewis van ’n onlangse opdatering wat moontlike regsimplikasies vir jou kan inhou.

Dié opdatering wat op 1 September 2022 deur WhatsApp in werking gestel is, gee aan groepadministrateurs meer mag en beheer oor die inhoud wat op hul onderskeie platforms gedeel word. Dit beteken dat dit nie meer net die outeur van ’n plasing is wat ’n boodskap kan uitvee nie, die administrateurs het nou die vermoë om tot twee dae na ’n boodskap geplaas is die Delete for Everyone-funksie te gebruik.

Volgens Emma Sadleir, ’n kundige op die gebied van sosialemediareg, bepaal Suid-Afrikaanse wetgewing dat indien jy die vermoë het om iets uit te vee en jy kies om dit nie te doen nie, dan word jy wetlik verantwoordelik vir die inhoud.

“As jy die administrateur van ’n WhatsApp-groep is, word jy weens hierdie onlangse ver­an­dering wetlik verantwoordelik vir alles wat op daardie groep verskyn. Indien daar dan boodskappe geplaas word wat haatspraak, dreigemente, aanhitsing of enige ander inhoud wat onwettig is, bevat en dit word nie uitgevee nie, is die admins aanspreeklik daarvoor. Dit bring ’n einde aan die debat wat ons al lank in regskringe voer oor of ’n administrateur van ’n WhatsApp-groep verantwoordelik is vir die inhoud op daardie groep of nie,” het sy gesê.

Alhoewel dit lank reeds vasgestel is dat die plasing van skadelike boodskappe op sosiale media tot regskwessies kan lei, het sy opgemerk dat die deel, aanstuur, like of versuim om ’n skadelike plasing te rapporteer, in sommige gevalle ook tot probleme kan lei.

Sadleir gee die volgende raad aangaande gebruik van sosiale media:

  • As jy iets nie op ’n groot advertensiebord met jou naam by sou plaas nie, moet dit dan ook nie op sosiale media (soos WhatsApp) plaas nie.
  • Bepaal of dit wat jy wil aanstuur moontlik haatspraak, dreigemente, aanhitsing, rassisme of onwaarhede bevat. Maak ook seker dat jy nie iemand se privaatheid skend nie.
  • Stuur net wat relevant tot die groep is.
  • Onthou dat enige iemand in die groep ’n skermskoot van jou boodskap kan neem om dit die wêreld in te stuur.
  • Indien jy ’n boodskap verkeerdelik gestuur het, het jy die opsie om dit uit te vee. Maak seker jy klik op Delete for Everyone.
  • Indien iemand iets plaas wat onvanpas is, kan jy óf die groep verlaat óf jou misnoeë op die groep aandui.