ʼn Spaarbussie vol tyd

Gepubliseer: 31 Januarie 2023

502

Beste Grootneef

Met die eerste lewenslig word elke mens met ’n spaarbussie vol tyd gebore. Dis een van daardie onverklaarbare wonders, want tyd in daardie spaarbussie is verniet, met genade as kapitaal en lewensdae as rente.

Stand, status of erfgoed bepaal nie die inhoud van enige mens se spaarbussie nie – tyd toegedeel aan ieder en elk is van Bo en nie uit mensehande nie. In die Woord is geskryf dat as jy sterk is, daar 70 lewensjare op jou wag – en as jy baie sterk is 80.

Die tydrekening loop egter afgemete en beslis uit elke lewenspaarbussie uit: 24 uur ’n dag en sewe dae ’n week. In ’n jaar word 365 dae gepak. Elke vierde jaar kry jy ’n gratis skrikkeldag op 29 Februarie.

Die moeilike ding van hierdie besondere gawe ontvang, is dat niemand weet hoeveel genade-dae in die spaarbussie oor is nie. Sommiges se lewenslig is ’n vlietende oomblik wat met geboorte uitdoof. Ander gaan selfs die baie sterkes verby en word ’n negen­tiger! Maar niemand weet vooraf nie.

Om te sit en tob oor hoeveel lewensdae beskore is, het geen sin nie. En ons verstaan ook nie as iemand in sy fleur se lewensdae opraak nie.

Die geleentheid aan elke mens is hóé ons die lewenstyd wat gegun is, gebruik – wat ons met elke dag doen.

’n Groot deel van die ondermaanse moet noodge­dwonge gegee word om jou sout te verdien. As dit nou nie vir Eva en daai appel was nie … Tyd kan egter nie net aan die soutmyn gegee word nie. Vervulling moet ook op ander plekke gevind word, met tyd opsy om kleur en geur aan die lewe te gee. Dié deel van ’n mens se lewe het te doen met daardie emmerskoplys oftewel “bucket list“-ervarings wat jy wil deel vóór die emmer finaal geskop word – dit nou met respek gesê.

’n Emmerskoplys hoef nie duur of ver te wees nie. Maar jy moet daarvoor beplan en tyd opsy sit om dit te laat gebeur. Wat van ’n sonsopkoms in die Kalahari? Of ’n springbok-jag in die Karoo? Of ’n dag net vir jou lewensmaat? Die Weskus? ’n Warmlugballon? Loftus wanneer die Bokke weer teen die All Blacks speel? Dwarskersbos? Koffiebaai?

Elkeen se keuse van wat in die emmerskoplys pas, sal verskil. Elke mens het immers iets anders wat hom laat tik.

Begin sommer vandag planne maak. Onthou, niemand weet hoeveel genadekapitaal daar in jou lewenspaarbussie oor is nie.

Die nuwe jaar lê oop en blink soos ’n grondpad na ’n lekker bui reën. Ry hom, geniet elke dag. En besef dat jy die dag nooit kan oorkry wanneer die son gesak het nie. Beplan vir daardie emmerskoplys en geniet die reis.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.