Voorspoed vir die nuwe jaar

Gepubliseer: 12 Desember 2022

1016

Beste Grootneef

Op hierdie Oukersdag het ligte reën van vroegmiddag al neergestuif. Die lande is lekker nat en die mielies ’n mooi donkergroen, bykans al ’n voet of wat uit die grond uit. Dit was ’n mooi voorsomer wat mens, dier en landerye bederf het met sarsies reën en donderweer.

Die veld het die eerste keer in baie jare vroeg in Desember al rooigrassaad gestoot. Die vlei se kuile is vol en die gronddam loop sag uit soos die onderwater uit die fontein syfer. Die Vrystaat is ’n prentjie. En as die son saans sak, weergalm die paddakoor deur die nag. Venus het haar tuisgemaak aan die westekant as Aandster, met Orion en Taurus wat helder in die naghemel skyn.

Dit was ’n voorseisoen … sag op ’n boer, mooi op die veld en vol vrug in die boord en landerye.

Ou Neef, tyd loop egter soos water deur jou vingers – as jy weer van jou dagtaak af opkyk, is daar nog ’n jaar verby. Tussen Kersfees en Nuwejaar, wanneer dit effe stiller is, gaan die gedagtes mos ver terug na die jaar wat was. Plotseling onthou ’n mens die goeie en die slegte. Die vreugde, maar ook die smart. Dit is dan wanneer die vraag in die gemoed nesskrop – is ’n verskil gemaak?

Die Chinese, wanneer iemand weggaan, sê dit is soos om jou hand uit ’n emmer water te haal. Mense wat daarna die emmer betrag, sou nooit kon raai dat iemand se hand in die water doenig was nie. So is dit ook wanneer daar nie ’n verskil gemaak is vir mense met wie ’n lewensreis gedeel word nie.

Om ’n verskil te maak, hoef nie groot of buitengewoon te wees nie. ’n Sagte hand op die skouer van ’n kollega wat ’n familiekrisis moes hanteer, maak ’n verskil. Ook om iemand te leer dat dit oukei is om foute te maak. ’n Sagte bemoediging se impak trek veel verder as harde woorde of hardvogtigheid.

Maar wat die meeste energie gee of neem, is vertroue. Om vertrou te word, is ’n baie spesiale gawe om te ontvang. Om vertroue uit te gee aan iemand wat die pad saam met jou loop, vra soms baie. Maar die beloning is groot wanneer die vertroue wat gegee is, vreugde en vriendskap bied in tye wanneer dit nie maklik reën nie, of die stofduiwels die aarde deurmekaar waai.

Wanneer vertroue gebreek word, is dit nooit weer dieselfde nie. Daar kan probeer word om dit weer te las of saam te bind, maar wantroue se vuur verteer maklik enige gelaste verhouding.

Ou Neef, mag 2023 ’n jaar wees van vertroue in mekaar vir die lewensreis die onbekende in. En as die kosbare vaas van vertroue dalk glip en breek, probeer dit eers herstel. Dalk kan die kosbaarheid van vertroue weer daarin pasgemaak word.

Maar as dit nie werk nie, moenie soos Job op die ashoop sit en sere met potskerwe krap nie. Selfs Paulus het op ’n stadium die stof van sy voete afgeskud om aan te beweeg.

Die jaar 2022 is verby. Vir altyd. Die jaar 2023 wag om te gebeur. Omarm die toekoms – want dáár kan jy ’n verskil maak.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.