Dié eerste ekspo hier om te bly

Gepubliseer: 12 Desember 2023

599

Die 2022 NAMPO Alfa Lewendehawe-, Jag- en Buitelewe-ekspo is die eerste van vele meer skoue van dié aard. Die ekspo wat van 29 September tot 1 Oktober op NAMPO Park aangebied is, het oor die drie dae meer as 6 400 besoekers gelok.

Volgens Bennie Zaayman, terreinbestuurder: NAMPO, was uitstallers positief oor die ekspo en is daar beslis potensiaal vir groot groei. Uitstallers het van so ver as Pinetown en Riviersonderend gekom.

Kolskoot! Voornemende skuts en vuurwapeneienaars kon onder die wakende oog van gesoute baanoffisiere verskeie kaliber vuurwapens by die Hinterland-skietbaan op die proef stel.
Toetslopie. Besoekers aan die NAMPO Alfa Lewendehawe-, Jag- en Buitelewe-ekspo kon die ysterperde van BMW Klerksdorp en BMW Motorrad self op die proef stel.

Organiseerders is reeds hard aan die beplan vir 2023 se eks­po. Die datum sal bekendgemaak word sodra die Suid-Afrikaanse Rally-Raid-kampioenskap (SARRC) die datums vir die tydren bepaal het wat weer saam met die ekspo sal plaasvind.

Vee
Die veekomponent van die ekspo is deur die African Livestock Trade Fair (ALFA) behartig. Organiseerder Albert Loubser het aan SA Graan/Grain gesê hulle is tevrede met die eerste ekspo.

“Daar was vele eerstes – ons eerste as NAMPO Alfa, ons eerste op die nuwe terrein, die eerste na die COVID-pandemie en ’n eer­ste met bek-en-klouseer aan die orde van die dag, maar ons is besonder tevrede met die uitkoms.”

Bek-en-klouseer het ’n groot impak op die ekspo gehad in die sin dat slegs enkele telers genooi is om dit by te woon. Daar was agt bees- en agt kleinveetelers. By die vorige skou in Parys was daar meer as ’n honderd telers met hul vee.

’n Veearts van Bothaville het alle diere by aankoms klinies on­dersoek, die verlangde dokumente nagegaan en ook elke oggend die diere besoek. Dié siekte is by geen van die vee opgemerk nie.

Loubser sê dit is verblydend dat telers en uitstallers uit die vee­gemeenskap met dissipline gehoor gegee het aan die biosekuriteits­maatreëls wat ingestel is. “Dit is ’n groot voorwaarde vir toekomstige ekspo’s.”

By die Hollard- Nasionale Interraskompetisie is die kampioene van die kampioenbeeste aangewys. Die wenbul was XLR 1638 Italia van La Reina Limousins, terwyl Jasmine van River Valley Simmentalers die wenkoei was.

Daar was nie ’n amptelike kompetisie by die jeugskou nie. Dit was meer ’n geleentheid vir die deelnemende skole om blootstelling te kry en te gesels oor wat hulle doen. Hoërskool Trio van Kroonstad, Morgenzon Landbou-akademie van Morgenzon, Hoërskool Bekker van Magaliesburg en Hoërskool Wesvalia van Klerksdorp het deelgeneem.

Oubaas se honne. Werner Labuschagne (be­stuurder) van Bostu Boerboels naby Pretoria hier met Smithon (elf maande). Dié honde is teen die ouderdom van drie jaar eers volgroeid.
’n Bul van bul. ’n Leerder van Hoërskool Trio in Kroonstad lei haar skool se kampioen-Santa Gertrudis-bul deur die ring.
Oesreste en stof. Johan de Bruyn en navigator Gerhard Schutte in hul Red Lined VK 56. Hierdie tydren is veral bemoeilik deur min wind en dik stof.
Foto: Caroline Legassick Marais
Kennersoog. By die beoordeling van die Hollard- Nasionale Interraskompetisie was Andrew Roberts (Hoopstad), dr CH Serfontein (Potchefstroom), Piet Delport (Migdol) en Kinnear Geldenhuys (Bultfontein) aan die stuur van sake.
Koddige wonder van die woestyn. Vir David Pitso van Bultfontein is die kameel ’n vreemde dier. Hier voer hy die drie wat al die pad van die Regina-omgewing gekom het.

Tydren
Die vierde en vyfde rondes op die jaarprogram van SARRC het op 30 September en 1 Oktober vanaf die NAMPO-terrein weggespring en weer daar geëindig.

Charmaine Fortune van SARRC het by navraag gesê die ekspo het wel bykomende toeskouers na die tydren gelok, maar sy het bygevoeg dat hulle besef die tipe skoue neem tyd om behoorlik tot stand te kom. “Ons glo die tydren het beslis ’n opwindende dimensie aan die ekspo gegee.”