Skoonheidsbederwe ’n NAMPO-nuutjie wat werk

Jan Greyling, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 7 November 2022

488

Die skoner geslag is vanjaar tydens NAMPO Kaap behoorlik gepamperlang. Dit was nie net die bekende, leersame en prettige NAMPO-vroueprogram wat die dames tot rus gebring het nie. Nee, vanjaar was man- en vroulief se NAMPO Kaap-kuier ’n geheelplaasuitstappie.

Volgens Jenna Pratt (koördineerder van NAMPO Skoonheid), het Henk Aggenbach (voorsitter van die ekspo en van Bredasdorp Park) se gedagte om plaaslike skoonheidsterapeute die geleentheid te gee om die dames te bederf, voortreflik gewerk. “Dit was ’n fantastiese idee om die vrouens van wyd en syd bietjie meer te laat ontspan. Hy het die saadjie geplant en die inisiatief aan ons oorgelaat om te laat gebeur.”

Jenna het ’n NAMPO Skoonheid-uitnodigingsvideo saamgestel en dit op Facebook geplaas om belangstellende plaaslike skoonheidsterapeute te nooi om by dié nuutjie vir NAMPO in te skakel. So is daar besluit om die plaaslike terapeute wat wou deelneem, te laat saamstaan.

“Ons het besluit om vier masseerstasies, ’n naelsorgstasie en ’n haarsorgstasie te hê en om die nodige nasorgprodukte daarvoor ook by NAMPO Skoonheid beskikbaar te stel. Die samewerking tussen die terapeute het uitstekend gewerk.

“Ons het saam voorberei, saam skoongemaak, saam besprekings gekoördineer en saam gesorg dat kliënte en veral die vroue op die NAMPO Kaap-terrein lopende advertensies vir ons professionele skoonheidsorg was.”

Die skoonheidsalon was op die onderste vlak van die Santam-ouditorium, wat kort voor vanjaar se ekspo in ’n tweeverdiepinggebou omskep is. Volgens Jenna het die NAMPO Kaap-organiseerders uit hul pad gegaan om die skoonheidslokaal saam met haar en haar span terapeute ten beste in te rig vir die vier dae van toegevoegdewaardediens aan die vroue wat NAMPO Kaap 2022 as ’n bederfuitstappie geniet het.

“Ons kon nie vir beter vra nie. Ons was vol bespreek en moes al vier dae bontstaan om die beste moontlike diens aan vroue van oor die land heen, maar ook plaaslike kliënte, te lewer.”

Vir die vroue wat NAMPO Kaap van vroegoggend af tot so by teetyd toe kon deurstap om programhoogtepunte te geniet, was NAMPO Skoonheid die ideale oase.

“Saam met die geleentheid om stalletjies met damesprodukte te besoek of ’n lekker koffie, tee of wyntjie te geniet, kon die manne se beter helftes vanjaar kom bene rek en ’n behoorlike bederfsessie beleef.

“Vir baie vroue van plattelandse dorpe is ’n massering of selfs ’n nael- of harebederf nie altyd maklik binne bereik nie. Talle van ons NAMPO Kaap-kliënte het gesê hulle was eers nie seker of hulle vanjaar moes saamkom nie, maar nou sal hulle beslis aanstaande jaar terug wees,” sê Jenna.

Die baanbrekerterapeute tydens die eerste NAMPO Skoonheid op Bredasdorp Park was (voor): Liza van Blommenstein (ontvangs en admin: NAMPO Skoonheid,) Michelle de Villiers (Studio Michelle, Bredasdorp) en Alicia Plaatjies (Wellness and Beauty Studio, Bredasdorp). Agter staan Jenna Pratt (Aesthetic Skin Care, Bredasdorp), Madeleine Tchistokletov (Krasota Therapy, Bredasdorp), Mi-Jeanne du Plessis (Polished Nail and Beauty, Bredasdorp), Welmie Erasmus (vel- en grimeerspesialis, Bredasdorp), Neena Mulder (Eagles Rest Spa, Napier) en Elmaine Miskey (La Bella Beauty and Massage Salon, Bredasdorp). Foto: Verskaf