Dié span laat die Kaapse wiele rol

Louise Kunz, SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 4 November 2022

703

’n Rekordgetal van 32 640 besoekers het die derde NAMPO Kaap wat van 14 tot 17 September by Bredasdorp plaasgevind het, bygewoon – amper dubbel die bywoningsyfer van die vorige skou wat op 16 800 gestaan het. Die sukses van hierdie geleentheid is te danke aan ’n vernuf­tige span wat vir maande agter die skerms gewerk het om alle reëlings te tref.

’n Toegewyde span
Graan SA se span wat die NAMPO Oesdag op NAMPO Park reël, is ook grootliks verantwoordelik vir die hoofreëlings van NAMPO Kaap – Toit Wessels (assistentbestuurder: NAMPO en Bemarking), Wim Venter (administratiewe beampte: NAMPO) en Rialeen Lombard (ondersteunende beampte: NAMPO).

Toit het die voortou geneem met die beplanning van NAMPO Kaap, met Wim en Rialeen wat moes bontstaan om al die navrae voor en tydens die ekspo te hanteer. Wim en Rialeen se hooftaak was die hantering van die besprekings asook die pla­sing van die meer as 500 uitstallers, die uitstallerskontrakte asook die uitstuur van fakture. Wim moes verder toesien dat die vroueprogram kon plaasvind met die nodige kunstenaars en borge in plek. Die suksesvolle verloop van Nasie in Gesprek was ook te danke aan Wim se insette in samewerking met Brand Republic.

In Graan SA se ledelokaal was Hailey Ehrenreich (Graan SA­komiteebeampte in die Wes-Kaap) die vriendelike gesig wat besoekers en gaste verwelkom het. Graan SA se hoofbestuurslede wat Hailey in die ledelokaal ondersteun en navrae rakende Graan SA-lidmaatskap hanteer het, is visevoorsitter Richard Krige, Rossouw Swart (streek 32), Jose de Kock (streek 27) en André Kirsten (streek 26).

In die BKB-gebou het Marina Kleynhans (administratiewe klerk, Graan SA) verseker dat verkope by Graan SA se uitstalruimte seepglad verloop en dat die voorraad op die rakke aangevul word met klere, waterbottels en ander NAMPO Kaap-aandenkings. Ná afloop van die vroueprogram waar Toit se vrou, Rooies, die programleier was, het sy ook ingespring om verkope te help hanteer.

Vir NAMPO Kaap was die span van Bredasdorp Park NPC verantwoordelik vir die logistieke reëlings. Kaartjieverkope by die toegangshekke, parkering, die vee-uitstallers en skakeling met diensverskaffers is items wat ook op hulle lys van take was. Die span is gelei deur die voorsitter, Henk Aggenbach. Sy hande is sterk gemaak deur Chrystal van Wyk wat tans aan die hoof van die span staan wat Bredasdorp Park bestuur en die direkteure van Bredasdorp Park NPC – Philip Morkel, Dirk Uys, Dirk Hanekom, Alfreda Mars, Louw Coetzer en Hendrik van Wyk.

Alzena Gomes (skakelbeampte: Graan SA) en Gerda Kriel (bemarkingskonsultant van Bredasdorp Park NPC) het gesorg dat sake aan die bemarkingskant vlot verloop.

Maak gereed vir 2023
NAMPO Kaap 2023 word reeds beplan vir 13 tot 16 September 2023. Met die positiewe terugvoer van uitstallers en besoekers, lyk dit of die geleentheid volgende jaar nog groter kan wees.

Welkom by NAMPO Kaap! Alfreda Mars (Graan SA-hoofbestuurslid en direkteur van Bredasdorp Park NPC), Liana Stroebel (Ontwikkelende Landbou, Graan SA), Alzena Gomes en Hailey Ehrenreich het almal gereed­gestaan om gaste by Graan SA se ledelokaal te verwelkom.
Toit Wessels en Wim Venter staan aan die stuur van uitstallersake van die NAMPO Oesdag buite Bothaville en NAMPO Kaap by Bredasdorp.
Marina Kleynhans het die verkope by NAMPO se uitstalruimte in die BKB-saal hanteer. Sy is in die oggende deur Sonja Coetzer ondersteun.
Lede van die reëlingskomitee om die tafel is: Philip Morkel, Dirk Uys en Dirk Hanekom (direkteure van Bredasdorp Park NPC), Toit Wessels, Henk Aggenbach (voorsitter van Bredasdorp Park NPC) en Chrystal van Wyk (bestuurder en direkteur van Bredasdorp Park NPC).