Namens ’n vriend

Gepubliseer: 3 November 2022

890

Beste Grootneef

Hopelik, wanneer jy hierdie briefie lees, het die eerste somerreën al geval. Die Augustus-winde het tot in Oktober gewaai – tot lank na oom Paul se verjaarsdag. Die veldbrande het soos stoomtreine deur die distrik geloop en die boere moes keer op keer walgooi om die vlamme te blus.

Ou Neef, ek sien deesdae kan jy op Vleisboek bykans enigiets namens ’n vriend vra. Soos die volgende navraag, natuurlik namens ’n vriend: “Op soek na ’n intelligente en ervare sielkundige – verkieslik Afrikaans.” Een van die eerste kommentators het raad gegee dat by ’n ene Olof Bergh aangeklop kan word.

Of soos die aanbod op ’n koop-en-verkoop-groep: “Een tweemantent te ruil vir ’n carrycot – namens ’n vriend.”

Ou Neef, terwyl die vloer nou oop is om namens ’n vriend ietsie te vra of te smous, wil ek graag ook ’n paar vrae in die hoed gooi. Namens ’n vriend natuurlik.

Wat het geword van die padreël van “keep left and pass right”? Deesdae ry al die stadige karre in die vinnige baan. Dit gee my vriend die horriepiep, want niemand kan iemand verbysteek nie. Sus, Daan en Koeloe is lankal nie meer leesmateriaal vir die jongste van leerders nie. My vriend is egter van oordeel dat elke skoolkwartaal met die voorgeskrewe boek, Hou links en gaan regs verby, moet begin. Niks met politiek te make nie, maar dit sal tog ’n edele deug wees indien die gewoonte om links te hou aangeleer kan word terwyl die boompie jonk is.

Die tweede vraag – namens ’n vriend. Hoeveel tolgeld val in ’n koekblik en hoeveel in die till? Want bykans niemand vra vir ’n strokie nie. Is die getal karre wat by die tollenaars verby is en die note in die bank in balans – en wie hou boek daarvan? En dan wil my vriend ook weet, gebruik die tollenaars die geld om die pad reg te maak of is daardie fondse bestem vir ’n bodemlose put? Want die slaggate word net groter en dieper.

Terwyl ek namens ’n vriend kan gesels – wat van die een: Wat het van Spoornet se spore geword? Al wat vrag is, beland nou op lorries wat die paaie tot snuif trap. Dis mos baie goedkoper om vrag op treinspore as op rubberwiele te skuif.

Nog ene: Wie breek heeltyd Eskom se kragstasies? In die een week was daar in die veertig kragstasies gelyktydig onklaar. My vriend wil weet of dit blote toeval is en of daar ’n spanner in die works is.

Verder vra my vriend hoe ’n mens kan weet of die staatsamptenare staak of nie. Met dienslewering is daar nie eintlik ’n verskil nie. Raad deur Vleisboek aan my vriend was dat dit gewoonlik ’n goeie aanduider is dat daar gestaak word indien ’n asblik êrens aan die brand is.

My vriend het ook sy uiterste teleurstelling uitgespreek nadat hy uitgevind het dat buffalo wings eintlik “Rainbow Chicken” is. Hy wil uitsaai-owerheid toe oor dié blatante misleiding.

Verder wil hy ook weet hoekom parlementslede mekaar as “honourable” aanspreek, wanneer hulle mekaar met stoele en waterbottels toetakel. En waarom ministers nie vir hulle eie water en ligte moet betaal nie.

Nou ja, ou Neef, groete aan Olof. En mag Eskom van krag tot krag gaan, voor die laaste kragbeurt al die ganse wat die goue eiers lê, laat wegvlieg.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.