Goue Graan vir Kallie Schoeman

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 3 November 2022

992

Graan SA se eretoekenning vir uitnemende leierskap in die organisasie asook in verskeie beleidstrukture op nasionale vlak, is toegeken aan Kallie Schoeman van Schoeman Boerdery in Delmas. Schoeman het vanjaar uitgetree as hoofbestuurslid vir Streek 9, nadat hy tien jaar in dié rol gedien het. Die Goue Graan-toekenning is die hoogste moontlike eerbewys aan ’n dienende of voormalige hoofbestuurslid.

In sy aanvaardingstoespraak het Schoeman gesê sy jare op die Graan SA-hoofbestuur was vir hom ’n afrondingskool. “Ek het hier geleer van nederige leierskap en wat dit werklik beteken om te dien.” Schoeman het in die tien jaar onder drie voorsitters gedien en sê dat hy by hulle die hart en siel van die Suid-Afrikaanse graanprodusent leer ken en liefkry het.

Richard Krige (visevoorsitter, Graan SA), Kallie Schoeman, Elna Schoeman en Jeremia Mathebula (visevoorsitter, Graan SA).

Vir die personeel van Graan SA het hy slegs lof gehad. “Vir hierdie groep mense is die saak belangriker as die individu.” Wat hom egter dwars in die krop steek, is dat slegs 30% van produsente heffings betaal. Hy beskryf Graan SA as beide ’n groot sambreel en ’n vangnet vir alle graanprodusente – nie net vir dié wat hulle hef­fings betaal nie.

Schoeman het gesê dit was vir hom heerlik om as hoofbe­stuurslid aan vurige debatte deel te neem – hierdie debatte sou altyd aan­leiding gee tot konsensus in belang van graan en die platteland. “Ego het nooit hier ’n rol gespeel nie,” het hy bygevoeg.

Aan die boere wat deel is van Graan SA se landbouontwikkelingsprogram, was sy boodskap dat die organisasie hulle altyd sal ondersteun. Hy het hulle gemaan om saam om die tafel te sit om deel te wees van die oplossings vir landbou. “Dit is julle wat die toekoms van landbou in hierdie land gaan bepaal. If the people lead, government will follow,” het hy afgesluit.