Dankbare harte by Graan SA se toekenningsaand

502

Die Graan SA-toekenningsgeleentheid vir 2022 is op 21 Oktober by die Birchwood Hotel in Boksburg aangebied. Dit was ’n glansryke onthaal waar welverdiende erkenning gegee is aan rolspelers wat direk en indirek betrokke is om te verseker dat graanproduksie in Suid-Afrika volhoubaar bly.

Visevoorsitter van Graan SA, Richard Krige, het die gaste by die geleentheid verwelkom waar die titel van Graanprodusent van die Jaar vir die 21ste keer toegeken is. Dié besonderse toekenning – aan ’n uiters effektiewe en doeltreffende Suid-Afrikaanse graanprodusent, wat nie net ’n ware rolmodel in die gemeenskap is nie, maar ook die kuns bemeester het om winsgewende en volhoubare graanproduksie te bevorder – het gegaan aan André Brink van Durbanville in die Wes-Kaap.

Die aankondiging is gemaak deur Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, wat die finaliste gelukgewens het met die hoop wat hulle prestasies aan die nasie bied. “Ek is ongelooflik trots op die produsente in Suid-Afrika. Hierdie boere kan diep delf, selfs in moeilike tye – ons eer hulle vandag vir die leierskap en inspirasie wat hulle bied.”

Met ontvangs van die toekenning het Brink die tema van die spoggeleentheid, “’n Viering in dankbaarheid”, perfek saamgevat toe hy gesê het: “Dit is geleenthede soos hierdie wat ’n spieëlbeeld word van landbou in Suid-Afrika. Ons vier die lekkerte daarvan om nog te kan boer en is dankbaar vir ’n organisasie soos Graan SA wat ons hande vat.” Hy het klem geplaas op die kontinuïteit van landbou. “Dit is familieboerderye wat oor generasies strek wat ons vat waar ons wil wees.” Brink het in 1985 saam met sy pa begin boer op die familieplaas, Groot Phesantekraal in die Durbanville-omgewing. Hy is bevoorreg om saam met sy twee seuns, Rennie en Jeandré, te boer, terwyl sy vrou, Ronelle, die wynafdeling met ’n fyn hand oor­geneem het en uiters suksesvol bemark.

TV-aanbieder en omroeper, Rozanne McKenzie, was die seremoniemeester en het gesorg dat die program glad verloop.

Die ander twee finaliste wat beide van die Noordwes kom, Gideon Koegelenberg van Makwassie en JP Meintjes van Viljoenskroon, is ook tydens die geleentheid vir hulle bydrae tot landbou vereer.

Antonie Delport, besturende direkteur van Syngenta wat die hoofborg van die aand was, het in sy hoofrede gesê dat landbou meer gereeld gevier moet word. “Ons is geïnspireer deur die wêreld se produsente wat ’n groeiende wêreldbevolking voed, bydra om armoede te verminder en natuurlike hulpbronne bestuur. Landbou benodig vennootskappe vir spesifieke, goed gefokusde projekte en programme,” het hy bygevoeg. “Omdat ons almal moet eet, vier ons landbou en die bydrae wat dit maak in gemeenskappe – nie net in Suid-Afrika nie, maar oor die wêreld heen.” Delport het die paneel beoordelaars wat Jozeph du Plessis, Christiaan Vercueil, Kobus van Zyl, Gerrie Ludick, Deon Bergh en Jaco Heckroodt insluit, bedank.

Volgens Alzena Gomes, skakelbeampte van Graan SA, is fina­liste se doeltreffendheid en effektiwiteit tydens die beoordelings-proses gemeet aan verskeie kriteria, onder meer agronomie asook hulpbron-, finansiële en bemarkingsbestuur. Hul betrokkenheid in die gemeenskap en beleidsomgewing het ook ’n rol gespeel. Verder is produksiepraktyke, plaag- en onkruidbeheer, meganisasie en arbeidsbestuur geëvalueer.

“Dit is vir Graan SA uiters belangrik om erkenning te gee aan graanprodusente en om suksesvolle graanproduksie ten toon te stel. Suid-Afrika kan nie sonder sy produ­sente nie en die toekenning gee die orga­nisasie die geleentheid om die ongelooflike beeld van landbou en die standaard van plaaslike graanproduksie te beklemtoon,” het Gomes gesê.

Sy het vir Syngenta bedank, die hoofborg wat sedert die instelling bydra tot die sukses en voortbestaan van die gesogte toekenning. Darling Cellars het gesorg vir heerlike wyn aan tafel en Toyota was die motorborg.

Opkomende boere ook vereer
Nog ’n hoogtepunt van die Graan SA-toekenningseremonie was die bekendstelling van die kategoriewenners in elke afdeling van Graan SA se ontwikkelendelandbouprogram.

Hulle is:

  • Die Graan SA/Absa/John Deere Financial Bestaansboer van die Jaar (0 ha – 3 ha): Khuphukile Mazibuko van Estcourt, KwaZulu-Natal.
  • Graan SA/Standard Bank Kleinskaalboer van die Jaar (3 ha – 35 ha): Joseph Tuelo Mokaleng van Delareyville, Noordwes.
  • Graan SA Potensiële Kommersiële Boer van die Jaar (35 ha – 250 ton): Bheki Isaac Mabuza van Lydenburg, Mpumalanga.
  • Graan SA/Absa/John Deere Financial Nuwe Era Kommersiële Boer van die Jaar (250 ton plus): Mapidianye Phillip Manoto van Lichtenburg, Noordwes.

Abrie Rautenbach, hoof van Absa AgriBesigheid, het hulde gebring aan die produ­sente en rolspelers wat geloofwaardige vennootskappe met hierdie boere gesmee het om kapasiteit binne die sektor te vergroot. Hy het ook sy waardering uitgespreek teenoor Graan SA en die inisiatiewe om ’n sleutelrol in landbouontwikkeling te speel.

Hy het fokus geplaas op die belang­rikheid van konstante en deurdagte beplanning en het die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), die regering se blended finance-inisiatief en tegnologiemaatskappye bedank vir die rol wat hulle speel. “Ons is trots om deel te wees en vier graag saam met die sektor dit wat landbou vir Suid-Afrika beteken.”

Antois van der Westhuizen, besturende direkteur van John Deere Financial in Afrika en die Midde-Ooste, sê die maatskappy is al ’n geruime tyd betrokke by die ontwikkelendelandbouprogram van Graan SA. Hy sê dit is veral die hoop wat die program bring wat hulle opgewonde maak om deel te wees daarvan. Hy is van mening dat landbou ’n positiewe inpak op gemeenskappe het en het produsente gemaan om die hoop uit te deel waar hulle gaan.

Rautenbach, Van der Westhuizen en Nico Groenewald (hoof: Agribesigheid, Standard Bank) het die sertifikate aan die wenners in elke kategorie oorhandig.

Dr Pieter Taljaard, uitvoerende hoofbe­stuurder van Graan SA, het die aand opgesom deur te sê dat landbou in Suid-Afrika mooi verhale het om te vertel. Volgens hom is die verhale van uitmuntende produsente soos dié wat tydens die toekenningsgeleentheid gevier is, ’n voorbeeld van wat landbou kan en reeds bereik het. Die Graan SA-toekenningsgeleentheid was werklik ’n viering in dankbaarheid.

André Brink van Groot Phesantekraal in die Durbanville-omgewing is aangewys as die 2022 Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar.
Gaste arriveer in styl by 2022 se Graan SA-toekenningsfunksie.
Adri Naude-Scholtz het gaste voor die verrigtinge met pragtige vioolspel vermaak.
Graanprodusent van die Jaar, André Brink, neem sy toekenning in ontvangs. Saam met hom is van links Derek Mathews, Jeandré Brink, Rennie Brink, Ronelle Brink, Melissa Brink, Heike Brink, Marizanne Brink, dr Pieter Taljaard en Antonie Delport.
Antonie Delport, dr Pieter Taljaard, Melanie Koegelenberg, Gideon Koegelenberg (finalis), Ronelle Brink, André Brink (Graanprodusent van die Jaar), Esri Meintjes, JP Meintjes (finalis) en Derek Mathews.
Ruhan du Toit, wat bekend is vir sy aangrypende vertolking van die gewilde Simon & Garfunkel-treffer, “The Sound of Silence”.
Abrie Rautenbach, Antois van der Westhuizen, Nico Groenewald, Derek Mathews, Mapidianye Phillip Manoto, Bontsi Manoto en dr Pieter Taljaard. Mapidianye is die 2022 Graan SA/Absa/John Deere Financial Nuwe Era Kommersiële Boer van die Jaar.
Bheki Isaac Mabuza van Lydenburg, Mpumalanga is die Graan SA Potensiële Kommersiële Boer van die Jaar; Khuphukile Mazibuko van Estcourt is die Graan SA/Absa/John Deere Financial Bestaansboer van die Jaar en Joseph Tuelo Mokaleng van Delareyville is die Graan SA/Standard Bank Kleinskaalboer van die Jaar.