Marges van gewasse onder besproeiing vergelyk

Gepubliseer: 29 September 2022

916
JC Jordaan, landbou-ekonoom, GWK

Die afgelope drie jaar is die meeste produsente deur groot uitdagings in die gesig gestaar, onder meer die COVID-19-pandemie, die Russiese inval in die Oekraïne, uitvoer- en handelsprobleme asook sukkelende ekonomieë.

Besproeiingsgebiede beslaan ’n klein gedeelte van Suid-Afrika se landoppervlakte, ongeveer 1 334 562 ha of 1,1% (2014/2015). Gewasse wat meestal onder besproeiing aangeplant word, sluit kontantgewasse sowel as nismarkprodukte (hoëwaardegewasse) in. Kontantgewasse bestaan hoofsaaklik uit mielies, koring, gars, katoen, lusern, springmielies, sojabone, sonneblom en grondbone. Nismark- of hoëwaardeprodukte of -gewasse sluit in neutdraende bome, avokado’s, sitrus, wingerd, rosyntjies, aartappels en uie.

In hierdie artikel sal daar gefokus word op mielies, koring en lusern omdat dit die algemeenste gewasse is wat in die Noord-Kaapse besproeiinggebied voorkom.

Langtermyn­gewasinligting
Menige artikel het al die onlangse verhoging in insetkoste aangedui en die groot impak daarvan op produsente se marges en gewaskeuse. Wisselbou speel ’n belangrike rol by enige boerdery, maar marge moet altyd in gedagte gehou word tydens die keuse van gewasse. Dit is ideaal om grondgesondheid te verbeter deur goeie wisselboupraktyke te volg, maar dit moet nie ten koste van marge plaasvind nie.

Grafiek 1 toon ’n vergelyking tussen huidige marges vir verskillende kontantgewasse onder besproeiing in die Noord-Kaap.

Grafiek 2 tot Grafiek 4 toon die langtermyninsetkoste en marges vir koring, mielies en lusern. Die kosteknyptangeffek speel ’n al hoe groter rol in be­sluitneming by produsente. Die voordeel wat produsente wel verkry het, is dat genetika en praktyke oor tyd verbeter het. Laasgenoemde het dit moontlik gemaak om hoër opbrengste, en in sommige jare groter winste, te genereer.

Grafiek 1: Margevergelyking van kontantgewasse onder besproeiing.
Bron: Profarmer (info.profarmer.co.za)
Grafiek 2: Koringproduksiekoste (R/ha) teenoor marge (R/ha).
Grafiek 3: Mielieproduksiekoste (R/ha) teenoor marge (R/ha).
Grafiek 4: Lusernproduksiekoste (R/ha) teenoor marge (R/ha).

Wat opvallend is uit Grafiek 2 en 3 is dat die marge vir koring baie stabiel is met ’n konstante groei, terwyl die mieliemark baie meer pryssensitief is. Die insetkoste het wel in albei gevalle drasties toegeneem: van Mei 2019 tot Mei 2022 met onderskeidelik 36% vir mielies en 38% vir koring. Lusern is ’n goeie kontantgewaskeuse en bied goeie deur­lopende kontantvloei deur die seisoen tot ander gewasse geoes kan word. Gedurende nat siklusse (hoëreënvaljare) is daar egter ’n groot risiko ten opsigte van lusernverbouing weens die feit dat snitte nat kan reën. Dit kan ’n groot impak op die volume bemarkbare produk hê.

Wisselboustelsels
Wisselbou onder besproeiingstoestande verskil tussen areas en produsente. Tabel 1 toon ’n paar opsies waarvan produsente gebruik maak. Die waterkwota wat beskikbaar is, is ’n groot rede vir sekere wisselbou-opsies en speel ’n belangrike rol in gewaskeuse.

Tabel 1 skets ’n oorhoofse prentjie van die wisselboustelsels waarvan produsente gebruik maak om winsgewend te boer. Daar is ’n groot aantal produsente wat van double­ cropping gebruik maak en dus koring en mielies binne twaalf maande verbou. By al die bogenoemde opsies kan koring met gars of ander wintergrane vervang word, terwyl die mielies soms met springmielies vervang kan word.

Grafiek 5 skets ’n goeie prentjie van mie­lies en koring. Omdat lusern gereeld as wisselbougewas gebruik word en ’n volle seisoen in die grond is, is dit belangrik dat die koring- en mieliemarge dieselfde of hoër moet wees as dié van lusern om dit te regverdig.

Grafiek 5: Langtermynmargevergelyking tussen koring, mielies en lusern
(drie van die gewildste kontantgewasse onder besproeiing).

Opsommend
Besproeiing is ’n goeie opsie – dit bied meer versekering betreffende opbrengs wat risiko vir ’n produsent verskans as wat droëlandprodusente ervaar. Met die verhoogde opbrengs wat verkrygbaar is onder besproeiingstoestande kan produsente ’n verhoogde wins behaal mits hul insette beperk word.

Daar behoort in die toekoms al hoe meer besproeiingshektare onder nismarkproduksie (meer permanente gewasse soos neute en sitrus) aangeplant te word weens die ekonomiese knyptang ten opsigte van kontant­gewasse.