Maak seker jou dam is wettig

Gepubliseer: 29 September 2022

944
Mariëtta Cronjé,
SA Graan/Grain-medewerker

Die Departement van Water en Sanitasie (DWS) het die publiek versoek om die departement se damveiligheidskantoor te nader vir leiding oor aansoekvereistes vir lisensies om nuwe damme te bou of wanneer hulle ’n dam wil verander of vergroot.

Hierdie versoek kom na aanleiding van ’n uitspraak wat deur die Watertribunaal van Suid-Afrika gelewer is. Die uitspraak handel oor ’n aansoek deur die Corona Farm Trust om verlof tot appèl, met die oog op die verkryging van ’n beslissing om met die bou van ’n onwettige dam op die plaas Bergview in die Winterton-distrik, KwaZulu-Natal, voort te gaan. Die aansoek is egter van die hand gewys.

Die gebeure volg op ’n onsuksesvolle aansoek wat in 2016 deur ’n produsent en trustee van die Corona Farm Trust, David Gace, gedoen is vir ’n watergebruikslisensie om ’n nuwe dam op Bergview te bou. Volgens die departement het Gace op 10 Januarie 2019 voortgegaan met die bou van die dam ten spyte daarvan dat hy nie ’n lisensie gekry het om die dam te bou nie.

DWS se afdeling vir damveiligheid het op 30 Januarie 2019 ’n terreininspeksie onderneem en daarna op 1 Februarie 2019 ’n verdere vergadering met die produsent gehou. Dit het gelei tot die uitreiking van ’n kennisgewing ingevolge artikel 53 (1) van die Nasionale Waterwet teen die produsent.

Hy is in kennis gestel dat hy volgens hierdie artikel van die wet onregmatig met watergebruik begin het deur water in ’n dam te stoor en die kenmerke van ’n waterloop te verander.

Na aanleiding hiervan het die produsent voorleggings aan die departement gedoen wat nie aanvaar is nie. Dit het egter wel gelei tot die uitreiking van ’n tweede kennisgewing en ’n opdrag op 13 Maart 2019.

Die opdrag het vereis dat die produ­sent en die Corona Farm Trust alle onwettige watergebruik en aktiwiteite, insluitend die bou van die onwettige dam, moes staak. Dit het ook vereis dat Gace ’n plan aan die departement moes voorlê waarin hy aandui op welke wyse hy alle strukture wat die natuurlike vloei van water belemmer, gaan verwyder en hoe rehabilitasie gedoen sou word. Die plan is onderhewig gestel aan departementele goedkeuring alvorens daar met die sloping van die dam en rehabilitasie begin kon word.

Gace het gevolglik sodanige plan ingedien, maar dit nie geïmplementeer nie. Hy het egter wel appèl aangeteken by die Watertribunaal van Suid-Afrika teen die opdrag wat ingevolge artikel 148 (1) (j) van die Nasionale Waterwet uitgereik is. Die verweer is aangeteken dat die riglyne irrasioneel, onredelik en ongrondwetlik is. Die appèl het ook beweer dat die sloping van die dam neerkom op ontneming van eiendom.

Volgens die Watertribunaal van Suid-Afrika se bevindings is die dam egter ’n onwettige struktuur en kan dit nie terugwerkend gemagtig word nie. Die tribunaal het ook bevind dat die produsent se optrede in stryd was met goeie omgewingsbestuur asook in stryd met die oppergesag van die reg wat dit gevolglik ’n kriminele oortreding maak.

Die bevindinge het daarop gewys dat die onwettige opdam en watergebruik ’n ekologiese bedreiging stroomaf inhou. Die ekosisteem se watersiklus is afhanklik van die afloop van reënwater vir bogrondse sowel as ondergrondse waterbronne en enige opvangs van water in die dam sal lei tot die versteuring van die waterbalans.

Verder het die Watertribunaal ’n bevel gegee dat die aansoek om verlof tot appèl deur die Corona Farm Trust van die hand gewys word en dat die opdrag, soos uitgereik deur die DWS op 13 Maart 2019, steeds bevestig word en binne 14 dae nagekom moet word.

By monde van die DWS se woord­voerder, Sputnik Ratau, sal die Blou Skerpioen-eenheid voortgaan om nakoming van regulasies op dameienaars af te dwing wat die wet oortree, aangesien dit ’n kriminele oortreding is om ’n dam te bou sonder om die vereiste lisensie te bekom. Daar is drie wetlike vereistes waaraan voldoen moet word voordat ’n persoon ’n dam kan bou, verander of herstel. Daar moet bepaal word of die dam veilig is, of die reg bestaan om die water in so ’n dam te mag gebruik en wat die impak op die omgewing sal wees.

Volledige inligting in hierdie verband kan verkry word by damsafety@dws.gov.za.

’n Plaasdam ter illustrasie.