Steeds in die arena en gereed om te bou

Gepubliseer: 2 September 2026

39
Dr Tobias Doyer
HUB, Graan SA

THEODORE ROOSEVELT HET EENS GESKRYF DAT DIT NIE DIE KRITIKUS IS WAT TEL NIE, EN OOK NIE DIE EEN WAT UITWYS WAAR DIE STERK PERSOON STRUIKEL NIE. DIE EER KOM DIE PERSOON TOE WAT IN DIE ARENA STAAN, MET ’N GESIG VOL STOF, SWEET EN BLOED – WAT PROBEER, SOMS MISLUK, MAAR GROOT WAAGMOED HET.

Ek glo dit is ’n gepaste beskrywing van die Suid-Afrikaanse landbou vandag. Produsente het te kampe met stygende insetkoste, infrastruktuurprobleme, beleidsonsekerheid, markdruk, politieke debatte en toenemend onvoorspelbare weer. Ons is gehawend, maar ons is steeds in die arena – en deur daar te bly het ons die vermoë om te beïnvloed wat volgende gebeur.

Landbou is ’n produktiewe sektor, maar dit is ook ’n politieke speelveld. Ons moet luis-
ter, met respek deelneem en ons standpunte op bewyse baseer, maar georganiseerde landbou moet ook sy verantwoordelikheid besef om die debat te bepaal en nie deur ander stemme uitgedoof te word nie.

Dit vereis leierskap wat ’n verskeidenheid van belange bestuur en die gesprek rig op die volhoubaarheid en winsgewendheid van landbou. Leë stoele kan nie besluite beïnvloed nie. Die verhaal van Nehemia bied ’n nuttige analogie. Sy taak was om die mure van Jerusalem te herbou, ten spyte van hewige teenstand van diegene wat kritiek op die werk gelewer het sonder om verantwoordelikheid vir die uitkoms te aanvaar. Sy reaksie was om sy mense te beskerm, gefokus te bly en voort te gaan met die bouwerk. Vir die landbou is die boodskap om “aan te hou bou” ewe relevant.

Bly op koers
Hiervoor het ons ’n gemeenskaplike doel nodig – ons hoef nie dieselfde te dink of te doen nie. Wat saak maak, is dat ons dieselfde doelwitte deel: landbou wat winsgewend, mededingend en volhoubaar is, produsente op hul grond hou, werksgeleenthede buite die plaashek skep, buitelandse valuta verdien, verwerking en vervaardiging ondersteun, landelike eko­nomieë versterk en tot voedselsekerheid bydra. Ons verskille is gesond omdat dit aannames uitdaag en kollektiewe denke versterk. Kom ons respekteer ons verskille, maar wees ernstig oor wat ons wil bereik.

Voedselsekerheid is meer as net goedkoop kos. Bekostigbare voedsel is noodsaaklik, maar voedselsekerheid hang af van sowel die beskikbaarheid van voedsel as huishou-
dings se vermoë om dit te bekostig. Landbou dra by tot beide – koopkrag hang af van werksgeleent­hede, besighede, beleggings en ekonomiese groei.

Indien beleid voortdurend die koste van bekostigbaarheid na produsente oordra, sal hulle uiteindelik minder produseer, minder belê of die sektor verlaat. Ons moet nie net vra hoe om voedsel bekos­tigbaar te hou nie, maar ook hoe ons die produksievermoë behou wat nodig is om te verseker dat voedsel môre steeds beskikbaar is.

Tegnologie vir volhoubaarheid
Volhoubaarheid beteken nie om minder tegnologie te gebruik nie. Beter genetika, presi-sielandbou, verbeterde gewasbesker­ming, gevorderde bemesting, nuttige data en ma-
sjinerie wat meer doel­treffend is stel boere in staat om meer met minder hulpbronne te produseer. Dit kan brandstof­verbruik verminder, insetdoeltreffendheid verbeter en die omgewingsvoetspoor van elke ton geproduseer verlaag. Toegang tot tegnologie is dus nie bloot ’n kwessie van mededingendheid nie; dit is ook ’n vereiste vir volhoubaarheid.

Dieselfde beginsel geld vir regule­ring. Regulering speel ’n belangrike rol in die besker-
ming van verbruikers, werkers en die omgewing, maar dit moet ook ver­antwoordelike innovasie moontlik maak. Vertragings in toegang tot landboutegnologieë, gewasbesker-
mingsmiddels, bemestingstowwe of produkte vir diere­gesondheid kom teen ’n prys. Ons benodig wetenskapgebaseerde regulering, doeltreffende toepassing en voor-
spelbare tydsraamwerke wat risiko bestuur sonder om vooruitgang te belemmer.

Die ontwikkeling van boere en kommersiële boerdery is nie teenstrydige doelwitte nie, maar dit vereis fundamenteel verskillende benaderings. Landboutegnologie, insluitend genetika, agronomie, inligting, marktoegang, finansiering en logistiek, staan neutraal teenoor skaal. Die bewys van kommersialisering is wanneer daardie produsent produk-
siesiklusse kan oorleef, toegang tot markte kan verkry, mededingend kan bly en kan herbelê. Ontwikkeling van boere moet dus gepaardgaan met gehaltetegnologie, finansiering, infrastruktuur en markte.

Ten slotte moet ons bereid wees om aanvaarde idees wat as “heilige koeie” beskou word, uit te daag. Konsensus is nuttig, maar dit is nie dieselfde as vooruitgang nie. Elke beleid, regulasie en markingry­ping behoort getoets te word. Versterk dit produsente se winsgewendheid of veerkragtigheid en bevorder dit billike mededinging? Verbeter dit toegang tot tegnologie, markte of infrastruktuur en beskerm dit voedselsekerheid sonder om toekomstige produksie te verswak? En lei dit tot meetbare resultate eerder as bloot meer nakoming?

Indien nie, moet ons dit verbeter of vervang. Ons verantwoordelikheid is om die onproduktiewe heilige koeie uit die kraal te jaag en dié in te span wat die landbou kan laat vorder – soos tegnologie, regverdige mededinging, funksionele infrastruktuur, ontwikkeling van boere, voedselsekerheid en meetbare lewering.

Die muur sal nie herbou word deur kommentaar vanaf die kantlyn nie, maar deur mense wat bereid is om die arena te betree, verantwoordelikheid te aanvaar en aan te hou bou. Suid-Afrikaanse landbou benodig leierskap wat die moed het om gebrekkige stelsels uit te daag en bespre­kings in uitvoering te omskep.

Ons is steeds in die arena en ons sal voortgaan om te bou.