Kundigheid nodig om gronderosie te takel

Gepubliseer: 2 Augustus 2022

97
Piet Theron, afgetrede grondbewaringstegnikus

Met die beduidende verhoging in reënval die afgelope tyd, is ernstige gronderosie weer besonder opvallend nadat dit gedurende die vorige paar jare toe minder reën ontvang is, minder sigbaar op bewer­kte landerye was. Gronderosie bly ’n groot bekommernis, veral vir diegene wat ’n passie vir grondbewaring het.

’n Paar dinge val ’n mens op wanneer daar na die ontwikkeling van tegnologie wat die afgelope jare vir boerdery ontwikkel is, gekyk word. Die meeste produsente het hierdie tegnologie goed aanvaar – veral met die koms van presisieboerdery is dit uiters handig en noodsaaklik. Alhoewel alle presisieboerderybenaderings op die grond fokus, word daar ongelukkig nie genoeg aandag aan die behoud van die kosbare bogrond gegee nie. Die rede hiervoor is dalk ’n gebrek aan kundigheid. Die ironie is dat die tegnologie vir die basis van enige waterafloopbeheerbeplanning (WABB) verskuil is in die tegnologie wat baie produ­sente reeds gebruik. Indien die basis van ’n doeltreffende WABB nie verstaan word nie, sal produsente ook nie die waarde van die verskuilde tegnologie verstaan nie.

Wat is die basis van ’n WABB?
Vervolgens kortliks wat benodig word vir ’n WABB asook waar en wanneer dit vir bewerkte grond benodig word.

Topografie is sekerlik die belangrikste aspek om in ag te neem. Die topografie in die ooste vereis ’n spesifieke benadering om die steiler hellings en vlakker gronde doeltreffend te beskerm. In die weste is die hellings oor die algemeen baie laer, langer en die grond dieper. Die uiters lang (soms meer as 10 km) hellings bied normaalweg ’n groot uitdaging. ’n Kaart met hoogtelyne (waterpaslyne) word benodig om topografie te kan lees.

Grondtipe kan in sommige gevalle ’n deurslag­gewende rol speel. Goeie, diep en sanderige grond genereer minder afloop, teenoor vlakker leem- of kleigrond waarop afloop gouer plaasvind. Alhoewel grondtipe belangrik is, word daar in hierdie artikel op topografie gefokus, aangesien dit bepalend is vir die opstel van ’n doeltreffende WABB. Die grondtipe raak van groter belang wanneer grondbewaringswerke ontwerp word.

Plaasgrense kan soms die opstel van ’n WABB noodsaak, maar ook bemoeilik. Hier moet die beginsel van natuurlike vloeirigting van afloopwater ten alle tye in gedagte gehou word. Verder moet die beginsel van natuurlike-aanspreeklikheid-aanvaarding (NAA) ook altyd in gedagte gehou word. Hierdie beginsel bepaal dat die eienaar van grond die aanspreeklikheid het om die afloopwater wat van nature van ’n hoërliggende plaas na sy grond afloop, te aanvaar en gevolglik voorsiening te maak om die water veilig deur te laat na ’n natuurlike waterloop of ’n beplande afleibaan op die laerliggende plaas.

Ten einde ordentlike WABB op te stel, word ’n kontoerkaart (hoogtelyn- of topografiese kaart) van ’n land of ’n gebied benodig, aangesien dit die hulpmiddel is om topografie te ontleed en vir die beplanning van grondbewaringswerke of plantrigting. Voor die koms van die globaleposisioneringstelsel (GPS) vir die uitmeet van hoogtelyne, is die opmeet van hoogtelyne op ’n land of gebied met behulp van waterpasinstrumente gedoen. Dit was nogal ’n tydsame proses. Die feit dat presisieboerdery op GPS-tegnologie gebaseer is, kan die taak om ’n hoogtelyn- of topografiese kaart te bekom, aansienlik makliker maak.

Dit is ongelukkig wel so dat dit net gedoen kan word met die duurder tipe GPS-tegnologie. Selfs met die gebruik van ’n GPS-instrument is dit steeds nodig om ’n fisiese opmeting te doen. Die data moet dan op ’n rekenaar verwerk word vir die maak van ’n hoogtelynkaart waarop die WABB gedoen kan word. Dit is waar die GPS-toerusting wat op trekkers ge­monteer word, baie handig kan wees. Dit verg egter ’n bepaalde kundigheid om hierdie data van die trekker se GPS af te trek en te gebruik vir die maak van ’n kontoerkaart. Alhoewel daar kundiges is wat dit kan doen, blyk die beskikbaarheid van sulke kundiges wat belangstel om WABB vir produsente te doen, die probleem te wees. Onthou ook dat baie van die kundiges nie noodwendig kennis het van al die ander noodsaaklike aspekte en beginsels van WABB nie.

Alle instansies wat produsente oor presisieboerdery adviseer, behoort meer ernstig na gronderosie te kyk en verhoudings te bou met persone wat oor die kundigheid beskik om doeltreffende WABB te kan opstel.

Aangesien dit voorkom asof die verskillende departemente van landbou op nasionale en provinsiale vlak die beskerming van bewerkte grond nie meer as prioriteit beskou nie, sal ander landbou-instansies wat afhanklik is van volhoubare boerderymetodes en -praktyke, moet inspring om te help. Hulle sal produ­sente met die beplanning en uitmeet van grondbewaringswerke moet help om gronderosie doeltreffend onder beheer te bring. Om meer kundiges op hierdie gebied te bekom, sal oorweging geskenk moet word om doelgerigte opleiding te voorsien. Universiteite wat vakke in landbou aanbied asook landboukol­leges behoort hierdie opleiding te kan aanbied.

Waarde van doeltreffende WABB op bewerkte grond
Eerstens is dit belangrik en noodsaaklik om gronderosie doeltreffend te beheer. Een van die groot waardes is dat dit water ordelik en veilig vanaf landerye kan aflei en wel op so ’n manier dat dit nie skade aan aanlig­gende grond tot gevolg het nie. Die finale elemente van ’n doeltreffende WABB behels die uitmeet en ontwerp van grondbewaringswerke soos afleibane, kontoerwalle of plantrigting wat uitgemeet word om afloopwater veilig uit lande te laat afloop. Soos reeds genoem in die artikel “Raad vir nat toestande op landerye” in die Julie-uitgawe van SA Graan/Grain, kan goed ontwerpte grondbewaringswerke of plantrigting oortollige reënwater vinnig en veilig uit lande dreineer, terwyl dit in tye van min reën voorkom dat te veel water wegloop. So word reënval optimaal benut.

Vir meer inligting kontak Piet Theron deur ’n e-pos te stuur na p.theron49@telkomsa.net.