Is ’n skuif vanaf mielies na sojabone die oplossing?

Gepubliseer: 2 Augustus 2022

2169
Christiaan Vercueil, intern: Toegepaste Ekonomie, Graan SA, christiaan@grainsa.co.za

15/07/2022

Die heel eerste sojaboonproewe in Suid-Afrika is in 1903 in Natal en op twee plekke in die Transvaal geplant – die Springbok-vlakte en Skinner’s Court (Aoyagi, 2007). Sojabone is oorspronklik in Suid-Afrika beproef weens die tekort aan ’n rotasiegewas vir mielies. In 1908 het die rede vir die aanplanting van sojabone egter drasties verander toe Britse maatskappye hulle begin toespits het op Britse kolonies vir die verkryging van sojabone vir soja-olie.

Daar word geglo dat mielies se oorsprong in Suid-Amerika was, waar die stamme van ouds hierdie gewas geteel het. Die gewas het sy weg gevind tot in Noord-Amerika, waarna dit in die 15de eeu na die eerste kontak tussen Europeërs en inheemse Noord-Amerikaanse stamme, na Europa vervoer is. Mielies is heel moontlik aan Afrika voorgestel deur Portugese reisigers en sendelinge.

Met hierdie bietjie geskiedenis in ag geneem, is mielies en sojabone onderskeidelik eerste en derde op Suid-Afrika se lys van mees geproduseerde gewasse. Die moontlikheid bestaan dat sojabone binnekort een plek kan opskuif en koring uitstof om die tweede plek.

Mielie- en sojaboonproduksie
Mielies is nou al vir ’n geruime tyd Suid-Afrika se mees geproduseerde gewas. Oor die afgelope vyf jaar word daar gemiddeld meer as 14 miljoen ton se mie­lies op meer as 2,5 miljoen ha geproduseer, met mielies wat ’n stapelvoedsel vir die land is.

Sojaboonproduksie het begin toeneem vanaf die 1996/1997-seisoen – en het sedertdien eksponensieel uitgebrei weens sy menslike en dierlike toepas­sing – met geen einde in sig nie. Sojaboonaanplantings het in die afgelope vyf jaar ’n ongelooflike toename van 18% getoon en produksie het met 36% gegroei. Hierdie uitbreiding kan toegeskryf word aan die gewas se verhoogde winsgewendheid, sy funksie as rotasiegewas vir mie­lies (wat in die proses stikstof bind), sy kleiner kunsmisbehoefte en sy vermoë om oortollige water beter te hanteer as mielies.

Winsgewendheid
In die huidige nat toestande en warm markomgewing blyk dit of die aanplanting van sojabone in die nabye toekoms meer winsgewend gaan wees as mielies. Die redes hiervoor sluit die volgende in:

  • Minder bewerking van lande, dus laer dieselonkoste (ongeveer 10% van totale insetkoste).
  • Laer saadpryse as mielies (omtrent 10% van totale insetkoste).
  • Kleiner kunsmisbehoefte (ongeveer tussen 30% en 50% van totale insetkoste).
  • Minder chemieverbruik (omtrent 5% van totale insetkoste).
  • Volgens Graan SA se beramings is sojabone se insetkoste tussen 25% en 35% goedkoper as mielies se insetkoste.

Boerdery, net soos enige ander besigheid, is uiteindelik winsgedrewe en moet bestuur word om die grootste moontlike wins te behaal. Daarom is daar tans baie gewilligheid om mieliehektare met sojaboonhektare te vervang om die inkomstestaat te laat klop.

Plaaslike mielie- en sojaboonverbruik
Daar word voorspel dat Suid-Afrika se mielieverbruik vir die 2022/2023-seisoen ’n totaal van 11,45 miljoen ton gaan bereik. Dit wil sê dat teen die huidige gemiddelde opbrengs word slegs 2,3 miljoen ha benodig om aan plaaslike vraag en ’n pyplynvoorraad van 1,5 maande te voldoen. Daar word tans 2,6 miljoen ha aangeplant. Plaaslike sojaboonverbruikvoorspellings toon dat 1,81 miljoen ton se sojabone verbruik sal word. Dit beteken dat slegs 850 000 ha benodig word om aan plaaslike verbruik en die pyplynvoorraad te voldoen. Tans word daar 925 300 ha aangeplant. Dus is daar omtrent 375 300 ha beskikbaar om óf sojabone óf mielies te plant (in ’n ideale wêreld waar al hierdie hektare beide gewasse kan ondersteun).

Implikasie van meer sojaboonhektare
Grafiek 1 toon duidelik dat die Safex-prys vir sojabone vir lang periodes onder uitvoerpariteit kan verhandel. Die rede vir hierdie prysbeweging is dat as sojabone nie uitgevoer kan word nie, kan voorraad plaaslik opbou wat pryse onder druk plaas. Met die gebrek aan ’n uitlaatklep vir hierdie produk, word pryse aanhoudend afgedruk totdat die plaaslike voorraad verlaag.

Grafiek 1: Prys van Argentynse sojaboonsaad afgelewer in Randfontein.

Die Suid-Afrikaanse sojaboonbedryf sal dus die fokus moet plaas op uitvoermarkte, logistiek en kapasiteit in die hawens om mielies (wit en geel), koring en sojabone te hanteer. Daar is reeds baie markte vir sojabone en die Chinese mark behoort ook eersdaags oop te wees vir Suid-Afrikaanse sojaboonuitvoere.

Aan die ander kant sal mielievoorraad plaaslik afneem, wat pryse kan ondersteun nader aan invoerpariteit. ’n Groot verskuiwing vanaf mielies na sojabone sal moontlik die winsgewendheid van sojabone benadeel indien Suid-Afrika nie gerat is om genoegsame hoeveelhede sojabone uit te voer nie.

Indien so ’n verskuiwing plaasvind, moet die produsent die huidige sterk pryse benut en homself verskans teen hierdie moontlikheid om sy winsgewendheid te beskerm – en dus die skuif die moeite werd te maak.

Interessantheidshalwe
Met die huidige toestand van Suid-Afrika se uitvoerkapasiteit, sal dit voordelig wees om mieliehektare met sojaboonhektare te vervang. Die rede hiervoor is dat sojabone ’n kleiner opbrengs as mielies gee. Dit sal dus moontlik wees om met dieselfde totale aantal hektare minder produk uit te voer. Dit sal die druk op hawens verlig, met die hoeveelheid geld wat die produk genereer wat dieselfde sal bly.

Bron
Aoyagi, WS. 2007. History of Soy in Africa – Part 2. Retrieved from SOYINFO centre: https://www.soyinfocenter.com/HSS/africa2.php

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.