Hoewel 81,7% van die totale mielie-aanplantings en meer as 90% van die totale sojaboonaanplantings in die 2019/2020-plantseisoen geneties gemanipuleerde oftewel GM-tegnologie bevat het, is daar aanduidings dat die GM-vrye mark ’n oplewing beleef het in 2018 en 2019. Dit is volgens ’n Mielietrust-verslag deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) vir die 2018/2019- en die 2019/2020-produksieseisoene.
Die verslag toon dat GM-mielie-aanplantings in die 2017/2018-seisoen 84,5% van die totale mielie-aanplantings verteenwoordig het. Die rede vir die daling in die aanplantings kan toegeskryf word aan minder GM-geelmielies wat in die 2018/2019-seisoen geplant is.
Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR) se syfers ten opsigte van saadverkope, is 7 106 ton GM-vrye geelmieliesaad in 2018 verhandel in vergelyking met 10 904 ton GM-geelmieliesaad in 2017. Die afleiding is dus dat sowat 40% van die geelmieliesaad wat in 2018 verkoop is, konvensionele of nie-GM-geelmieliesaad was. In 2017 was die persentasie konvensionele geelmieliesaad 29,5% en in die 2019/2020 seisoen 28,1%. Die konvensionele witmieliesaadverkope vir die 2019/2020-seisoen was 25,2% in vergelyking met die 19,2% van die 2018/2019-seisoen.
Hoewel sowat 5% van die konvensionele mieliesaadverkope toegeskryf kan word aan die saad wat vir toevlugsareas aangekoop word, dui die verkoopsyfers tog daarop dat sowat ’n kwart van die mieliemark steeds op die produksie van GM-vrye mielies konsentreer.
Markneigings en winsgewendheid
Die jarelange debat wat oor GM-mielies en GM-vrye mielies gevoer word, is lank nie verby nie – die fokus het net verskuif. Waar daar in die verlede grootliks op die veiligheidsaspek gefokus is, gaan die gesprek deesdae meer oor markneigings en winsgewendheid.
Daar is uitvoergeleenthede na Afrika en ander dele van die wêreld vir GM-vrye graan sowel as by sekere plaaslike verwerkers, en plaaslike kopers klop ook aan die produsent se deur. Met die vraag na konvensionele mielie- en sojaboonprodukte is dit noodsaaklik dat produsente deeglik somme moet maak en alle aspekte van verbouing en bemarking in berekening bring. Dit bly ’n opsie om te oorweeg, maar dit is nie sonder slaggate nie.
Kenners voer aan dat ’n gedeelte van die GM-vrye aanplantings die gevolg is van produsente wat rand en sent wil laat klop. Insetkoste is hoog en produsente oorweeg alternatiewe opsies. Volgens die BFAP-verslag kyk produsente veral na goedkoper saad in jare wat die kosteknyptang winsgewendheid bedreig. GM-saad is oor die algemeen heelwat duurder as konvensionele produkte. Die verslag dui aan dat wit en geel BT-saad in die tydperk tussen 2016 en 2019 sowat 24% duurder was as konvensionele saad, terwyl onkruiddoderverdraagsame produkte sowat 28% meer gekos het as konvensionele saad. Wit stapelgeen-mieliesaad het 42% meer as die GM-vrye eweknie gekos terwyl geel stapelgeen-mieliesaad 34% duurder was.
In hul verslag oor hoe die landboubedryf in die laaste kwartaal van 2021 gevaar het, meen BFAP dat die pryse van brandstof en kunsmis gaan styg as gevolg van die krisis na aanleiding van die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne. As noodsaaklike insetkoste vir die bedryf sal verdere prysstygings net nog druk op produsente se winsmarges plaas. BFAP verwag dat die tendens van stygende insetkoste waarskynlik sal volhou.
Die afgelope paar seisoene het van die maatskappye die prys van hul GM-vrye saad verlaag en hierdie tendens maak dit ’n aantreklike opsie vir produsente wat sente twee keer omdraai.
Omdat die vraag na GM-vrye graan oor die afgelope tyd gegroei het, bied kopers van GM-vrye graan aantreklike premies aan produsente. Volgens Jannie Botma, ondervoorsitter van die Sonneblom- en Sojaboonforum en produsent van die Bothaville-omgewing, is dit egter belangrik dat produsente seker maak dat die premie wat onderhandel word, kompenseer vir die verlies aan opbrengs asook hoër insetkoste met betrekking tot insek- en onkruidbeheer.
Die geleenthede is egter daar en produsente moet sorg dat hulle gerat is om dit te benut.
Volgens Corné Louw, hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste by Graan SA, is dit duidelik dat die vraag na GM-vrye graan ’n gegewe deel van die mark is. “As bedryf moet ons beslis aandag hieraan gee omdat voornemende kopers en produsente gereeld by ons navraag doen. Ons het altyd gemeen dat dit ’n klein nismark is, maar ons beleef ’n oplewing in die vraag na GM-vrye produkte. Dit is ’n geleentheid wat produsente kan benut, veral omdat hulle moet fokus op maksimum wins en nie maksimum opbrengs nie.”
Arthur Schröder, wat by Bayer verantwoordelik is vir die lisensiëring van tegnologie aan ander saadmaatskappye in Suid-Afrika, sê dat die aanvraag na GM-vrye saad redelik stabiel is en dat die meerderheid produsente steeds die voordele wat biotegnologie bied, beleef. “Die meeste produsente is nog baie tevrede met die voordele wat hulle ervaar met die plant van geentegnologie soos YG2 (insekbeheer) en RR2 (onkruiddoderverdraagsaamheid) in mielies. Die Intacta® RR2 PRO-sojaboontegnologie wat onlangs kommersieel vrygestel is, verteenwoordig ’n unieke mylpaal vir Suid-Afrikaanse produsente en bied ’n nuwe keuse vir insekbeheer gekombineer met onkruidbeheer aan plaaslike sojaboonprodusente.”
Hy sê voorts dat hierdie nuwe tegnologie benewens die beskerming wat dit aan die gewas teen bolwurm bied, ook ander voordele soos ’n vermindering in die gebruik van onkruid- en insekdoders het.
Naspeurbaarheid
Die naspeurbaarheid van GM-vrye produkte is belangrik en daarom word meestal op ’n kontrakgrondslag gewerk. Monsters word op verskillende stadia by gekontrakteerde produsente geneem – in die veld voor oestyd, tydens lewering, asook silobuistoetse op verskeie stadiums. Voordat die graan finaal verkoop word, moet die GM-vrye status deur ’n eksterne laboratorium bevestig word en ’n verifiëringsertifikaat word dan aan die koper uitgereik.
In Suid-Afrika is die meeste silo’s gerat om hierdie nismarkte te bedien en GM-vrye produkte apart te stoor. Die personeel is ook oor die algemeen goed opgelei om die nodige toetse tydens graanlewering uit te voer. Hoewel die nismarkverbruikers ’n premie betaal, moet in ag geneem word dat daar groot koste verbonde is daaraan om die GM-vrye produkte te toets, apart te berg en ook te sertifiseer.
Volgens Botma ondervind produsente wat GM-vrye sojabone verbou tog ook struikelblokke.
“Daar is nie ’n groot verskeidenheid kultivars beskikbaar nie, opbrengste is laer en dit duur langer om die bone te oes.” Hy sê verder dat onkruidbeheer in konvensionele sojabone wat nie onkruiddoderverdraagsaam is nie, baie moeilik is. “Wilde lusern is moeilik om te beheer, veral in die sandgronde waarop ons produseer. Graankwaliteit word beïnvloed deur die onkruidsaad wat in die graan teenwoordig kan wees met lewering. Hoewel daar deesdae baie meer produkte op die mark is om in sojaboonverbouing te gebruik om onkruid te beheer, bly dit ’n tameletjie om onkruid doeltreffend te beheer en binne die gebruiksaanwysings te bly. Ons het ’n ernstige behoefte aan meer navorsing ten opsigte van onkruidbeheer in sojabone op sandgrond.”
Hy meen verder dat GM-vrye sojaboonsaad beperk is. “Daar is min maatskappye wat GM-vrye sojaboonsaad verkoop en die kultivars is dikwels nog van die ouer generasie. Van die nuwer sojaboonkultivars is moeilik om te stroop. Die peule is droog en gereed om te stroop, maar die plante se stingels en stamme is nog groen en dit veroorsaak groot probleme in die land tydens stroop. Opbrengs op die GM-vrye kultivars is ook laer as by die nuwegenerasie-GM-kultivars en die premie maak nie altyd op vir die verlies aan opbrengs nie.”
Hy waarsku ook dat dit van kritieke belang is dat produsente hulle stropers behoorlik skoonmaak wanneer hulle van lande wat met GM-kultivars geplant is oorbeweeg na GM-vrye lande. “Die toetse wat by die silo’s gedoen word, is baie sensitief en die geringste vermenging van nie-GM- met GM-graan kan jou duur te staan te kom.”
Volgens Botma bly dit egter ’n opsie om te oorweeg en ’n geleentheid om te benut. “Sorg dat jy jou huiswerk goed doen en dat jy jou beplanning daarby aanpas. As die proses reg bestuur word en jy kry die regte koper, dan kan dit help om risiko’s wat met graanproduksie gepaard gaan, te bestuur.”
In teenstelling met sojaboonsaad, is daar wel kompeterende nie-GM-mieliesaadbasters met soortgelyke opbrengspotensiaal as GM-bevattende produkte beskikbaar. Produsente moet net in ag neem dat alhoewel die saad heel moontlik goedkoper is, daar addisionele produksiekoste en bestuurspraktyke ter sprake is ten opsigte van insek- of onkruidbeheer.
Volgens Marnus Gouws, operasionele bestuurder by BFAP, is daar heelwat produsente wat nie-GM-graan plant wat dit nie regtig probeer bemark as sodanig nie omdat dit addisionele sertifiseringskoste meebring en bykomende bestuursaspekte verg.
Louw verduidelik dat die besluit om GM-saad of nie-GM-saad te plant op die volgende faktore berus:
- Vraag na die nie-GM-produk of die markgeleentheid.
- Premie wat aangebied word vir die GM-vrye graan.
- Saadprys – koste is altyd ’n oorweging, veral in seisoene waar die winsgrense klein is.
- Die produksiestelsel wat die produsent volg.
- Hoogste wins versus hoogste opbrengs.
Volgens Louw sal produsente aanpas as die vraag na nie-GM-graan vergroot. “Dit bly egter ’n nismark en in die geval van sojabone is individuele kontrakte in ’n geslote stelsel moontlik die beste oplossing. Dit is egter noodsaaklik dat saadmaatskappye die aanbod van GM-vrye saad moet ondersoek, veral ten opsigte van sojaboonsaad waar die beskikbare saad tans nie tred gehou het met die opbrengspotensiaal van die geentegnologie-bevattende saad nie,” voeg hy by.
As daar produsente is wat belangstel om GM-vrye sojabone of mielies te verbou, kan hulle met Graan SA of saadmaatskappye in verbinding tree.