De Ruyter praat prontuit oor beurtkrag by Agbiz-kongres

Magda du Toit, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 29 Junie 2022

553

Met die uitdagings wat beurtkrag aan die land se ekonomie en spesifiek aan landbou stel, was almal se ore gespits om te hoor watter lig Eskom se groep- uitvoerende hoof, André de Ruyter, by die Agbiz-kongres by Sun City hierop sou werp.

Tydens die kongres op 22 tot 24 Junie het fase 2-beurtkrag gegeld. Pas na die kongres is fase 4-beurtkrag aangekondig weens onwettige stakings deur werknemers by verskeie van Eskom se kragstasies. Op 28 Junie is fase 6-beurtkrag in werking gestel. De Ruyter het prontuit gepraat oor die geweldige uitdagings wat voor die kragvoorsiener se deur lê.

Beurtkrag is reeds in 2008 ingestel. “In 2010 is ons aangesê om die ligte ten alle koste aan te hou tydens die Wêreldsokkerbeker-toernooi en dit het sy tol op die opwekkingseenhede geëis,” het De Ruyter gesê. Volgens De Ruyter gaan Eskom ’n R1 200 miljard (R1,2 biljoen) se belegging in infrastruktuur nodig hê voor 2030 om die land se ligte aan te hou.

Eskom se huidige probleme het ’n lang aanloop van verkeerde besluite, ontwerpfoute, onvoldoende beplanning, wanadministrasie, sabotasie en korrupsie. Volgens De Ruyter het Eskom se probleme in 1998 begin toe die regering nie ag geslaan het op aanbevelings dat die kragreus sy opwekkingsvermoë moet vergroot nie. Boonop is tenders aan maatskappye wat substandaard steenkool aan Eskom verkoop het, toegeken. Hy het erken dat gebrekkige ervaring en kennis binne Eskom ook tot die probleem bydra.

Eskom bevind homself in ’n finansiële verknorsing. Naas steenkool, is skuld die kragvoorsiener se tweede grootste uitgawe. Dit kos Eskom R35 miljard per jaar om sy skuld te delg en meer word bestee aan rente as aan salarisse en instandhouding.

Daar is tans 6 100 MW minder elektrisiteit beskikbaar as die geskatte kapasiteit volgens die geïntegreerde hulpbronplan in 2019 (IRP2019). Daarbenewens is meer as die helfte van Eskom se kragstasies ouer as 40 jaar. As Eskom se kragstasies teen 2025 nié aan die minimum standaarde vir uitlaatgasse voldoen nie, sal dit afgeskakel moet word en dit sal lei tot ’n verlies van 30 GW. Permanente fase 8-beurtkrag is dan ’n groot waarskynlikheid.

“Ons het dringend 4 GW tot 6 GW se bykomende opwekkingskapasiteit nodig om beurtkrag te staak. Die antwoord lê egter nie daarin om ons eenhede harder te laat werk of beter instandhouding te doen nie. Ou toerusting moet eenvoudig met nuwe, meer doeltreffende en moderne tegnologie vervang word,” het hy gesê.

Eskom benodig sowat R300 miljard vir toerusting om uitlaatgasse binne aanvaarbare perke te kry. Hy het bygevoeg dat dié toerusting nie bykomende opwekkingsvermoë gaan lewer nie, maar dat dit sowat 10 MW krag per stasie en ’n bykomende 16 miljard liter water per jaar gaan verg.

Omskakeling na hernubare energie
Die vertraging in die verkryging van hernubare, onafhanklike kragverskaffers beteken dat daar teen 2026 14% minder hernubare onafhanklike kragverskaffers sal wees as wat aanvanklik beplan is en dat dit kan styg tot 51% in 2030.

“Eskom fokus ernstig daarop om beleggers vir hernubare energie te werf, veral in Mpumalanga, waar daar reeds ‘n goeie kraginfrastruktuur is. Die meeste steenkoolkragstasies is in Mpumalanga en het goed ontwikkelde transmissie-infrastruktuur. Soos ons hierdie steenkoolkragstasies gaan afskakel, sal ons die transmissie-kapasiteit beskikbaar kan stel vir koppeling met alternatiewe kragopwekking,” meen De Ruyter.

Hy het bygevoeg dat dit ’n wanopvatting is dat Mpumalanga nie goeie son- en wind-opwekkingsvermoë het nie. “Studies wat hier gedoen is, se uitslae is baie bemoedigend. Dié provinsie het baie meer son en wind as wat besef word.”

Die koste om hernubare energie op te wek, het drasties verminder danksy tegnologiese vooruitgang en ekonomieë van skaal – dié van sonkrag is met 91% goedkoper en windkrag tot 82%. Waar dit vroeër meer as R3 per kW sou kos om elektrisiteit met die son op te wek, kos dit nou slegs 36 c per kW. Hy meen dit verhoog die lewensvatbaarheid van beleggings deur die privaatsektor en het gesê dat dit belangrike vir private kapitaal is om toegang tot hierdie mark te hê.

Die Komati-kragstasie sal een van die eerste steenkoolkragstasies wees wat afgeskakel gaan word. Daar sal 100 MW se sonpanele en 70 MW se windkrag asook 150 MW se batterystoorkapasiteit geïnstalleer word.

De Ruyter het beklemtoon dat werknemers by die kragstasies wat afgeskakel word, op ander maniere in die sisteem ingesluit moet word. “Hierdie kragstasies kan as opleidingsfasiliteite gebruik word om die werknemers as son- en windtegnikusse op te lei.” Hy meen dat tot 300 000 werksgeleenthede geskep kan word met die vervaardiging en oprigting van nuwe kraginfrastruktuur.

De Ruyter het genoem dat krag egter steeds maklik vermors word met oneffektiewe toerusting. “In Suid-Afrika is daar nog baie ou en ondoeltreffende toerusting soos byvoorbeeld pompe, wat gebruik word.” Hy het na Duitsland se sakesektor verwys waar rekenskap gegee kan word van elke eenheid krag wat verbruik word. Hy het ook genoem dat elektrisiteit nog nie duur genoeg is nie en dat koste-doeltreffende tariewe ingestel sal moet word om beleggers te lok.