Ons verantwoordelikheid in verandering

Alzena Gomes, skakelbeampte, Graan SA
Gepubliseer: 8 April

1254

Met die uitdagings van die 2020-inperkingsjaar nog vars in die geheue, was die hoop vir 2021 geskoei op alles wat sou terugkeer na “normaal”. 2021 het egter onteenseglik bewys dat die wêreld ver­ander het. Die manier waarop besigheid gedoen word; waarop interaksie plaasvind; die klimaat; die globale ekonomie… alles het verander. En landbou was van alle kante in die spervuur – wat elkeen in die bedryf aangespoor het om verantwoordelikheid te aanvaar vir dít wat wel bestuur kan word.

2021 was ’n jaar waarin die tempo van verandering fenomenaal was. Produsente moes bybly of agterbly. Alhoewel Suid-Afrikaanse produsente vir hul aanpasbaarheid bekend is, het nóg ’n moeilike COVID-jaar landbouers gedwing om bestek te neem van die verantwoordelikheid wat op elke boerderybesigheid rus om sodoende aan te pas, waarde toe te voeg en volhoubaar voort te bestaan.

Net so het Graan SA die uitdaging van ’n gekombineerde Kongres (in persoon en virtueel) aanvaar, en is daar op 2 en 3 Maart 2022 met lede, regeringsamptenare, rolspelers, akademici, vennote en belanghebbendes op NAMPO Park byeengekom om dié jaar se tema “Verantwoordelikheid in Verandering/Responsibility in Change” te bespreek.

Bo en behalwe die afgevaardigdes en gaste se teenwoordigheid op NAMPO Park, het Graan SA ’n lewendige Kongres-uitsen­ding op YouTube vir belangstellendes beskikbaargestel – met die eerste dag wat al 469 besoekers gehad het.

Produsente se volhoubaarheid is een van Graan SA se hooffokuspunte – alle gesprekke en bekommernisse het telkemale na een knelpunt teruggekeer, naamlik insette, wat ook die trant van die agenda vir Kongres bepaal het. Die belangrikheid en uitda­gings rakende kunsmis, die rol (of eerder die afwesigheid) van Foskor, meganisasie en die regte tegnologie vir Suid-Afrikaanse produsente vorm die kern vir die volhoubaarheid van graanproduksie. Die verantwoordelikheid van elke rolspeler in die waardeketting moes openhartig bespreek word.

Aan die hooftafel by Kongres: Ramodisa Monaisa, Nico Vermaak, Derek Mathews, dr Pieter Taljaard, Richard Krige en Jeremia Mathebula.

Verder was daar in die voorafgaande jaar baie emosies oor die graanmark se geloofwaardigheid. Die organisasie het – gewapen met feite – die nodige ondersoeke gedoen, aanpassings gemaak en produsente ingelig rakende die verbetering van die graanmark. Behoorlike alternatiewe is aangebied, veral wat die differensiaal betref, met belowende geleenthede om dit te kan verbeter, het Jannie de Villiers, uitgetrede uitvoerende hoofbestuurder, genoem.

Die voorsittersverslag het verskeie kwessies aangeraak, waar­onder die eerste uitvoere van kanola, die moontlikheid van sojaboonuitvoere indien surplusgeleenthede ontstaan en die be­langrikheid van die uitvoer van waardetoegevoegde produkte soos vleis, hoender en suiwel, wat plaaslike verbruik sal ondersteun. Verder is nuwe verwerkingskapasiteit vir sojabone geskep en die sukses van die teling-en-tegnologieheffing vir die sojaboonbedryf is weer eens beklemtoon. 2021 het ook veranderinge in die graderingstelsel van waterbeskadigde pitte teweeggebring en die redelikheid van die waardeketting was tot voordeel van die produsent.

Nog ’n knelpunt waaraan Graan SA reeds (en steeds) aandag gee, is die voorgestelde Leaf Services-inspeksies wat in beginsel op duplise­ring dui en waarvan die voorgestelde koste na die produsent en verbruiker toe gaan deursyfer indien die regering die stelsel implementeer. Graan SA, tesame met bedryfsrolspelers, het kongresgangers verseker dat die prosesse, selfs na die geslaagde appèl, gevolg sal word sodat graanprodusente nie die koste van onnodige dienste dra nie.

Tussendeur was daar ook geleentheid om die nuutste SA Graan/Grain deur te blaai.
Vir hierdie manne van Caledon was Kongres ’n gulde geleentheid om met ander produsente oor al die uitdagings van landbou te gesels: Niekie van Niekerk, Wessel-Jan van Deventer en Jean van Niekerk.
Tydens die netwerkgeleenthede is daar behoorlik ingehaal om op te maak vir die kuiertyd wat nie tydens die inperking kon plaasvind nie – WH van Zyl (Streek 21), Cerneels Claassen en Dirk van Rensburg (albei van Streek 18).
Jannie de Villiers, vorige uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, en Andries Theron, voorsitter van die Proteïennavorsingstigting, het land en sand gesels.
Patrick Stuurman van Streek 33 aan die woord.
Rathothoa Letwege (Streek 28) en Ramodisa Monaisa, Graan SA-visevoorsitter, arriveer vir die 2022-kongres.
Bennie Zaayman, terreinbestuurder van NAMPO Park, saam met van die hoofbe­stuurslede. Sarel Haasbroek (Streek 7), André Kirsten (Streek 26), Willem Groothof (Streek 13) en Paul Zietsman (Streek 15) sien almal uit na 2022 se Oesdag.

Tydens sy eerste Kongres het Graan SA se uitvoerende hoofbestuurder, dr Pieter Taljaard, klem gelê op die gesofistikeerdheid van voedselverbruikers en die organisasie se toewyding tot die produsering van veilige voedsel. Die graanpaspoortstelsel bied steeds verskeie uitdagings aangesien verskillende wetgewings voedsel- en mediese veiligheid reguleer. Die behoefte van graanprodusente om hul kommoditeite op een sisteem te kan lys en slegs aanspreeklikheid te aanvaar vir wat binne hul beheer is, is deurslaggewend vir die sukses van die stelsel. Die kollig is verder op die landbou­meesterplan ge­plaas en dr Taljaard het klem gelê daarop om die fokus, infrastruktuur en ondersteuning te kanaliseer sodat die landbou­sektor kan groei.

Die agenda is in twee paneelgesprekke aangebied om produ­sente meer geleentheid te bied vir gespreksvoering en interaksie.

Die eerste paneelgesprek het afgeskop met navorsing, ontwikkeling en innovasie: tegniese aspekte vir insetkos­tebestuur. Gewasbeskerming/landbouchemikalieë en saad het gefokus op stygende insetkoste en die behoefte aan innovasie en nuwe tegnologie om internasionaal mee te ding. Die paneel, bestaande uit Jozeph du Plessis, hoofbestuurslid vir Streek 2; Frank Rothweiler, globale mieliestra­tegie- en portefeuljehoof vir EMEA en APAC van Bayer; Steve Reno, president: Globale Saadbesigheidsplatform van Corteva Agriscience en Dipepeneneng Serage, hoofdirekteur van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) en gelei deur dr Taljaard, het ’n vyfjaarkliëntestrategie vir Suid-Afrikaanse produ­sente bespreek.

Paulus Mosia, 2018 se Graan SA/Bayer Potensiële Kommersiële Produsent van die Jaar, en Israel Motlhabane, hoofbestuurslid van Streek 31, beskou Kongres as een van die hoogtepunte op die landboukalender.
Streek 7 se Sarel Haasbroek (in die voorgrond) geniet ’n ligte oomblik saam met mede Kongresgangers.

Kunsmispryse en stygings van tot 40% in brandstofpryse bied konstante uitdagings aan produsente. Selfs met sterk kommoditeits­pryse los die finale som maar ’n klein marge – met die enigste oplos­sing eintlik om meer produktief te produseer. Dit plaas verder klem op die behoefte aan intelligensie en innovasie gebaseer op wetenskaplike navorsing om veral produksie van veilige voedsel te verse­ker. Du Plessis het ’n sterk produsentgedrewe perspektief verskaf en die uitdagings van produsente in Suid-Afrika uitgelig.

Produsente trotseer ’n moeilike en onstabiele klimaat met periodieke droogtes afgewissel deur vloede, wat vererger word deur klimaatsverandering. Hulle moet tevrede wees met verbrok­kelende infrastruktuur, soos paaie, spoorweë, hawens en elektrisiteits­voorsiening wat die koste om besigheid te doen, verder verhoog. Daarbenewens beleef die land ongekende misdaad en onrus asook op plaasvlak ’n kosteknyptang. Produsente kry verder geen onder­steuning van die regering nie en dus ook geen veiligheidsnet of omvattende versekeringskema vir landbou nie – met bogenoemde as klinkklare bewys dat die produsent se risiko’s uitermatig hoog is.

Jaco Minnaar, Graan SA se vorige voorsitter wat in 2020 uitgetree het en nou die voorsitter van Agri SA is, gesels na afloop van dag een van Kongres met Derek Mathews wat nou vir ’n derde termyn in die voorsitterstoel gaan wees.
Hentie en Jaco Kriel van Streek 26 sien reeds uit na hul volgende besoek aan NAMPO Park in Mei wanneer die Oesdag weer plaasvind.
Die damespersoneel van Graan SA het seker gemaak die registrasie van lede verloop seepglad.

Du Plessis het die spyker op die kop geslaan in sy opsomming dat produsente voortdurend opbrengs en produktiwiteit op hul plase moet verbeter – en eintlik meer moet doen met minder. Hy het gepleit dat graanprodusente, insetverskaffers, die landbouwaardeketting en die regering ’n vennootskap vorm en saamwerk. So kan ’n wen-wen-oplossing gevind word om die mededingendheid en volhoubaarheid van produsente te verseker, wat beide die landbousektor en die land sal laat floreer. Graanprodusente se behoef­tes is duidelik verwoord en daar moet gefokus word op die volgende: vennootskappe tussen alle belanghebbendes; wetenskaplik gebaseerde beleide deur reguleerders; konsekwente, tydige en betroubare regulatoriese prosesse vir produkte; vinniger beskikbaarheid en goedkeuring van nuwe tegnologie en genetika; en kreatiewe oplossings om die hoë koste van biotegnologie en genetika teen te werk.

Bayer en Corteva het beide idees en innovasies gedeel wat ’n goeie bespreking tot gevolg gehad het en die passie van die Suid-Afrikaanse graanprodusent is toegejuig. Die landbouparadoks – om die wêreld te voed sonder om die planeet uit te honger – is in diepte bespreek en innoverende oplossings is aangebied. Die paneelgesprek is afgesluit deur die DALRRD met aanbevelings vir ’n beleidsomgewing om knelpunte by die kantoor van die Regi­strateur van Wet Nr. 36 van 1947 te voorkom. Die departement het die uitdaging van een registrateur vir ’n legio produkte uitgelig en het bevestig ’n bedrag van R6,5 miljoen is opsygesit om vakatures te vul met ’n registrateur vir elke deel van die wet wat tans onder een sambreel saamgegooi is.

Die tweede paneelgesprek, gefasiliteer deur Corné Louw, hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste by Graan SA, het gefokus op navorsing, ontwikkeling en innovasie van kunsmis. Ingelei deur André Kirsten, voorsitter van die Produksie/Insetwerkgroep, het die bespreking onder meer P- en N-hulpbronne en die optimalisering van plaaslike kunsmisproduksie met plaaslike hulpbronne gedek. Die ope vraag was of kunsmiskostestrukture vir plaaslike graanprodusente meer koste-effektief kan wees. Terugvoer is toe van regeringsverteenwoordigers rakende die beleidsomgewing ontvang. Die paneel, ongelukkig sonder Foskor se verteenwoordiger wat ter elfder ure gekanselleer het, het bestaan uit Louis Strydom, bemarkingsbestuurder van Omnia Kunsmis; Johannes Louw, vise­president: Beplanning en Optimalisering by Sasol; Kgampi Bapela, hoof: Agroverwerking en Landbou by die Nywerheidsontwikkelings­korporasie (NOK); en Ncumisa Mxhalisa van die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging (DHNM).

Kunsmispryse het tot ongesiene rekordvlakke gestyg en die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne het die situasie verder vererger. Die uitdaging in Suid-Afrika bly die toenemende afhanklikheid van kunsmisinvoere. Kirsten het bevestig dat kunsmis ’n uiters groot deel van produsente se veranderlike produksiekoste uitmaak, wisselend tussen 25% en 50%. Meer as 80% van die land se verbruik word ingevoer en volgens die Buro vir Voedsel­ en Landboubeleid (BFAP) is Suid-Afrika tans die derde duurste land wat kunsmiskoste betref. Suid-Afrika het natuurlike hulpbronne van stikstof en fosfaat, maar het geen kalium nie, wat die vraag weer laat of die land sy hulpbronne effektief gebruik.

Graanproduksie gebruik 65% van die kunsmis in landbou. Met invoere van meer as 2,2 miljoen ton in die vorige jaar is die afhanklikheid van invoere, van werkende hawe-infrastruktuur en die vervoer van kunsmis landswyd, weer eens beklemtoon. Foskor beskik oor die kapasiteit om 2,6 miljoen ton rotsfosfaat per jaar te ontgin en kan teen vol kapasiteit 690 000 ton fosforsuur produseer en 400 000 ton MAP. Onlangse syfers het egter uitgelig dat Foskor, wat ’n potensiële strategiese bate is, ver onder kapasiteit presteer – juis met ’n kunsmiskommoditeit wat produsente tans erg knyp. Daarbenewens plaas die absolute afhanklikheid van invoer die hele waardeketting onder druk en alhoewel Suid-Afrika tot dusver ’n sterk insetbedryf gehad het, is insetsekerheid skielik op die voorgrond.

Sasol het sy rol in die stikstofwaardeketting in perspektief geplaas en verduidelik dat ammoniak – waarvan hy die enigste vervaardiger in Suidelike Afrika is – wêreldwyd dié grondstofkommoditeit is wat vervaardigingskoste en -pryse aandryf. Ten spyte van die feit dat Sasol sy kapasiteit tot die beste van sy vermoëns maksimeer, is daar ’n groeiende tekort aan ammoniak, met soveel as 200 000 ton wat ingevoer word. Die risiko vir plaaslike vervaardiging vergroot teen rasse skrede.

Die maatskappy het sy toekomsvisie vir die vervaardiging van “groen produkte” bekend gemaak met planne om “groen ammoniak” te produseer. Dit word gedoen deur die gebruik van hernubare elektrisiteit en sonkrag of wind om “groen waterstof” te produseer en dan deur ’n elektroliseproses water in waterstof en suurstof op te deel en die waterstof as voermateriaal te gebruik. Selfs met dié visie, is die plan om “groen produkte” kommersieel lewensvatbaar te maak teen fossielbrandstofalternatiewe, makliker gesê as gedaan. Dit sal nog lank neem vir produksie van “groen ammoniak” op kommersiële skaal om effektief te kompe­teer met ingevoerde alternatiewe.

Die DHNM, met ’n fokus op invoervervanging, het die regering se samewerking met Graan SA aan ’n aantal intervensies van­uit ’n nywerheidsoogpunt uitgelig as deel van sy herbedinkte nywerheidstrategie. Die belangrikheid van die landboumeesterplan onder die vaandel van openbare/private samewerking is uiteengesit, onder meer om die vervaardigingsvermoëns van die bedryf deur intensiewe programme te verbeter. Omnia het verder die grootste uitdagings en geleenthede in die kunsmisbedryf uitgelig en die organisasie se rol as invoerder, vervaardiger en verspreider van kunsmis uiteengesit. Infrastruktuur bly steeds die grootste knelpunt en benodig intensiewe probleemoplossing in Suid-Afrika, nie net vir die insetbedryf nie, maar vir die totale waardeketting. Dit, saam met die moontlikheid dat Foskor teen kapasiteit kan produseer, kan produksie vir die hele Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) realiseer, wat reeds die dinamika van die invoerbehoefte sal verander.

Ter afsluiting het die NOK, wat aandag aan die lokalisering van nuwe projekte gee, bevestig dat waterstofekonomie, tans nog in die voorhaalbaarheidstadium, wel in die pyplyn is. Bapela het die behoefte aan tegniese vennootskappe beklemtoon om die NOK se rol van befondsing en verbetering van projekte te ondersteun. Te midde van die wete van die wêreldwye strewe om na skoner energie en omgewings oor te skakel, het die NOK erken dat steenkool steeds een van die mees geredelik beskikbare hulpbronne in Suid-Afrika bly waaruit voordeel getrek moet word. Bapela het die uitdagings, waaronder water, weer uiteengesit en ’n beroep op moontlike vennote gedoen om die organisasie by te staan in die agro-verwerkingsruimte.

Klik op die QR-kode vir die volledige voorsittersverslag.

Na afloop van die bespreking het Corné Louw die laag­hangende vrugte geïdentifiseer as logistiek, Transnet en infrastruktuur – aspekte waaraan indringende aandag gegee moet word om die insetbedryf te ondersteun.

Kongres het Graan SA-voorsitter, Derek Mathews, en visevoorsitter, Richard Krige, onbestrede herkies. Hulle word deur die nuutverkose tweede visevoorsitter, Jeremiah Mathebula, ondersteun. Die bestuurspan is gereed vir die taak wat voorlê en sal daarop fokus om ten alle tye die belange van Graan SA-lede te bevorder en te beskerm.

Graan SA bedank alle lede, vennote, rolspelers en borge, sonder wie se deelname ’n uiters suksesvolle 2022-Kongres nie moontlik sou gewees het nie. In die komende jaar gaan samewerking van kardinale belang wees om die organisasie terug te neem na dit wat vir sy lede belangrik is – die fokus op die boerdery! Graan SA as bedryfsorganisasie onderneem om die knelpunte wat tydens Kongres bespreek is, sinvol aan te pak en om daardeur die organisasie te laat groei en ’n bemoedigende boodskap aan alle produsente oor te dra.

Twee jonger produsente uit KwaZulu-Natal – Mvelo Mthethwa en Khaelihle Mazibuko – bespreek die hoë insetkoste met Thomas Sibiya, hoofbestuurslid van Streek 29 (links), wat ook die toekenning ontvang het vir die beste spreker van die vloer af op Kongres.
Die samesyn op NAMPO Park was vir almal ’n hoogtepunt. Hier is Colin Schobach en Jaco Strauss van Streek 3 by Jean-Pieter Corver en Hermanus Swart van Streek 17.
Die energiedrankie wat tydens teetyd uitgedeel is, het verseker dat Danie Minnaar, voorsitter van die NAMPO Oesdag, Thabo van Zyl (agter) en Frikkie Minnaar in ligte luim bly.
Magda du Toit (landboujoernalis) is ’n bekende gesig in landbou­kringe. Hier geniet sy ’n ligte oomblik met Gert Heyns, hoof-uitvoerende beampte van SACTA, en Kallie Schoeman, hoofbestuurslid van Streek 9.
Dr Sandile Ngcamphalala, hoof: Landbou-ontwikkeling by Graan SA, geniet ’n ontspanne oomblik saam met Calvin Mojapelo van Standard Bank en Thapelo Maboko van BASF. Dié twee instansies is vennote van Graan SA se landbou-ontwikkelingsprogram.