’n Sakkie hoop

Gepubliseer: 8 April 2022

217

Beste Grootneef

Die ander dag op pad dorp toe sien ek enkele bome wat al met ’n geel blaarkleed spog. Bykans klaar gesomer en besig om reg te maak vir die droë, wit seisoen. As jy douvoordag opstaan, word jy beloon met die Skerpioen se konstellasie wat voor sonop saam met Venus aan die oostekant skitter. Orion en Sirius maak aanstaltes vir hul jagseisoen in die Noordelike Halfrond, en sak saans al vroegaand in die weste.

Ou Neef, die somer van ’22 is besig om die stokkie oor te gee aan herfs ’22. Met die veld wat in najaarkleure rypword, praat alles in die natuur van die seisoen wat besig is om te draai en dat die lang somerdae eersdaags plek vir winternagte gaan maak.

In die dorp by die Kontreiwinkel gekom, is dit soos altyd aangenaam om bekendes raak te loop en nuus uit te ruil. Binne die winkel word besigheid nog soos 50 jaar terug gedoen, met rakke vol negosie, rolle blou en bruin rokmateriaal en fietse wat aan hake van die dak hang. Die winkel is soos altyd koel, met die reuk van tabak, sis en gelooide leer. Vrypippermente, chappies en stringe liquorice staan uitgepak in die groot bottels op die houttoonbank. Oom Isaac lyk altyd netjies en staan penregop naby die geldlaai, met sy assistent wat bestellings saam sit vir later se afhaal óf groter items in die stoor gaan soek.

Buite stop ’n bakkie met ’n vreemde nommerplaat. ’n Man klim uit, kyk rond en kom aangestap na die winkel – duidelik ’n stadsjaap. Oom Isaac staan nader om te hoor waarmee hy kan help, maar die vreemdeling vra toe vir iets wat hom laat kopkrap – ’n sakkie hoop. Oom Isaac het hoflikheidshalwe begin rondkrap tussen die botteltjies Lennon-medikasie, onder die toonbank en heel laaste tussen die pakke batterye op die rak agter hom. Hy het ook ’n draai in die stoorkamer gaan maak, maar einde ten laaste die vreemdeling ingelig dat alle hoop uitverkoop is, en dat hy nie seker is wanneer daar weer daarvan beskikbaar sal wees nie. Die vreemdeling is met hangskouers daar weg in sy bakkie, sy toekoms in.

Ou Neef, met die groetslag het oom Isaac nog vir oulaas laat weet dat hy alles koop en verkoop, maar nog nooit vir ’n sakkie hoop gevra is nie. Hy sou óók graag wou weet waar om dié rare, edel stof tot nadenke in die hande te kry.

Op pad terug plaas toe, is ’n nuusbulletin uitgesaai. Die nuusleser het luisteraars ingelig dat die Russe die Oekraïne al hoe dieper inval, met meer as ’n miljoen vlugtelinge wat probeer om ’n veilige hawe in buurstate te vind. En van petrol en diesel wat dalk later vanjaar meer as R40/liter kan kos indien die oorlog nie spoedig tot ’n einde kom nie. En van kunsmispryse wat weghol en die gelykbreek of winsteiken vir graanboere al hoe moeiliker maak. Ou Neef, toe sit ek die draadloos af, want die vrag hopeloosheid het te veel vir die bakkie en my skouers geraak.

Net voor die afdraai plaas toe, stop ek langs die ou bloekomboom. Dié oupagrootjie van bome het menige storm oorleef. Maar in die vroegsomer het ’n weerligstraal die boom van bo tot onder deurgekloof en uitmekaargeslaan. Die geweld van die slag het stukke hout in alle rigtings geslinger, met ’n skeur deur die boom se stam tot in die grond in. Die ou boom was dood. Van tyd tot tyd het ek tog by die ou stam gestop, net om weer die krag van die natuur te aanskou. ’n Mens sukkel om met die swaarste byl ’n stukkie bloekomhout middeldeur te kap, maar weerlig het in daardie stormnag ’n boom van 100 jaar van bo tot onder oopgekloof!

Ou Neef, toe sien ek die wonderwerk. Onder aan die dooie stam was ’n spruit met jong, sagte, groen blaartjies. Die boom het sy grootste storm oorleef – en lewe van onder met ’n nuwe takkie uitgestoot.

Ek het verwonderd omgedraai en daar en dan die laaste hopeloosheid van die bakkie afgelaai. Want skielik het ek verstaan dat hoop nie te koop is nie. En dat Poetin nie die ge­skiedenis van die mensdom skryf nie. Daar is ’n groter Krag wat selfs uit verdorde hout lewe kan laat spruit. En dis hoekom hoop en geloof in dieselfde asem genoem word. Want hoop is daar­die stukkie misterie wat ’n visserman weer op die oop see laat uitgaan, en ’n saaiboer weer saad in die grond laat plant. Want geloof en hoop beskaam nie.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.