Swartstam by kanola – siektebeheer deur swamdoders

Gepubliseer: 23 Februarie 2022

260
Huibré Schreuder,
PhD-student, Departe-ment Plantpatologie, Universiteit Stellenbosch
Dr Gert van Coller, Direktoraat: Plantweten-skap, Wes-Kaapse De-partement van Landbou, Elsenburg
Dr Diane Mostert, Departement Plant­patologie, Universiteit Stellenbosch

Deel 3

Swartstam word beskou as die mees vernie­tigende siekte op kanola wêreldwyd – insluitend die Wes-Kaap. Effektiewe beheer van swartstam word behaal deur die geïntegreerde gebruik van verskillende hulpmiddels, insluitend die plant van weerstandige kultivars, ’n gepaste wisselboustelsel, die tyd wat
gesaai word, die bestuur van oesreste en die gebruik van swamdoders.

Elke streek waar kanola verbou word, het ’n spe­sifieke potensiaal vir die ontwikkeling van swartstam. Dit is dus uiters belangrik dat die historiese voorkoms van swartstam in ’n streek in ag geneem word voordat daar op ’n strategie vir siektebeheer besluit word.

Alhoewel kultivarweerstand en swamdodergebruik die effektiefste maniere is om ernstige verliese te voorkom, is dit belangrik om nie slegs daarop staat te maak nie. Die gebruik van ’n kombinasie van verskillende hulpmiddels verminder die druk op die swartstampatogene (Leptosphaeria maculans en Leptosphaeria biglobosa) om kultivarweerstand te oorkom en swamdoderweerstand te ontwikkel, wat die langtermyneffektiwiteit van beide verseker. In die Februarie-uitgawe van SA Graan/Grain is kultivarweerstand teen swartstam bespreek. In hierdie artikel word daar gefokus op die gebruik van swamdoders.

Swamdoders teen swartstam kan as saad­behandeling of blaarbespuiting toegedien word. Kanolasaad wat in Suid-Afrika geplant word, word hoofsaaklik vanaf Australië ingevoer en word dikwels aan produsente verkoop met ’n saadbehandeling reeds toegedien. Tabel 1 gee meer inligting oor produkte wat in Suid-Afrika geregistreer is vir die gebruik teen swartstam.

Bron: https://www.soill.co.za/farmers-portal/#1625606837537-285c0b95-a194

Om effektiewe bestuur van swartstam met swamdoders te verseker, moet dit voorkomend toegedien word. Wanneer simptome op die jong blare duidelik sigbaar is, het swamgroei alreeds gevorder na die blaarsteel om in die ontwikkelende stam te vestig. Skadelike kroon- en stamkankers wat later in die seisoen voorkom, is die gevolg van infeksies wat deur die blare plaasvind in die saailing tot ongeveer die vyfblaargroeifase. (Sien die artikel “Swartstam by kanola – agtergrond en siekteverloop” in die November­ 2021-uitgawe van SA Graan/Grain of by sagrainmag.co.za vir ’n uiteensetting van die siekteverloop.) Dit is waarom tydige toediening van swamdoders so belangrik is. Indien infeksie suksesvol plaasgevind het gedurende hierdie fase, sal swamdoderbespuitings daarna nie die ontwikkeling van kroon- en stamkankers voorkom nie.

Behalwe vir die beperkte effektiwiteit van die swamdoder in so ’n geval, verhoog dit ook seleksiedruk op die aktiewe bestanddeel in die swamdoder wat weerstand teen die middel in die patogene kan bewerkstellig. Saadbehandelings gee belangrike beskerming in die saailingfase deur infeksie in die twee- tot vyfblaarstadium te help beperk. In situasies met hoë siektedruk moet blaarbespuitings in die vier- tot vyfblaarstadium oorweeg word om infeksie te beperk. Vir blaredakinfeksie is daar nog nie genoeg inligting om aanbevelings oor bestuur te maak nie. Uit navorsing het dit wel geblyk dat ’n blaarbespui­ting teen Sclerotinia-stamvrot wat teen 30% blom toegedien word, ook ’n beperkende effek op blaredakinfeksie deur swartstam kan hê. Verdere navorsing is egter nodig om dit te bevestig. Met die uitsondering van letsels wat af en toe op peule en sytakke opgemerk word, is blaredakinfeksie op hierdie stadium nie ’n probleem in Suid-Afrika nie.

Swamdoders word in groepe verdeel op grond van hulle werking (Tabel 1). Die verskillende groepe swamdoders teiken verskillende prosesse/strukture in óf die plant (gasheer) om die verdedigingsmega­nisme daar­van te ver­sterk/aktiveer óf in die patogeen om belangrike funksies te ontwrig. Elke groep swamdoders beheer dus die patogeen op ‘n ander manier. Om swamdoders uit dieselfde groep herhaaldelik te gebruik, verhoog die kans dat die patogeen weerstandig raak teen die middel. Die werking van die aktiewe bestanddele wat vir saadbehandelings gebruik word, moet verkieslik nie herhaal word in die saailingtoediening by die vier- tot vyfblaar­stadium nie. Alhoewel swamdoderweerstand in die swartstampatogeen (Leptosphaeria maculans) in Suid-Afrika tans nog onbekend is, is daar wel weerstand teen groep 3-swamdoders (demetilase-inhibeerders of triasool) in Australië en Kanada aangemeld. Daar moet dus ’n poging aangewend word om dit in ons plaaslike swampopulasie te voorkom.

Kanola in blom by Tygerhoek-navorsingsplaas in die Overberg.

Die gebruik van swamdoders hou egter nie altyd ’n ekonomiese voordeel in nie. Dit is uiters belangrik om elke unieke situasie te eva­lueer voordat besluit word of die toediening van swamdoders nodig is. Dis net ekonomies as die verlies as gevolg van swartstam groter is as die koste van die swamdoder. Die punt waar dit ekonomies raak om ’n swamdoder toe te dien, hang af van die koste van toedie­ning en die potensiële oesverlies wat deur toediening voorkom gaan word. Die effektiwiteit van die swamdoder word bepaal deur die hoeveelheid siektedruk in ’n betrokke omgewing en die weerstandstatus van die aangeplante kultivar.

Oor die algemeen moet swamdodertoediening net oorweeg word as daar ’n geskiedenis van ernstige swartstam in die spesifieke gebied is wat gelei het tot oesverliese. Indien die kultivar wat geplant word weerstand teen swartstam het en die siektedruk in die gebied laag is, gaan toediening van ’n swamdoder waarskynlik nie ’n ekonomiese voordeel inhou nie. Die gebruik van swamdoder sal egter wel ’n ekonomiese voordeel inhou as die siektedruk in die omgewing hoog is en die kultivar wat geplant is lae swartstamweerstand het.

As deel van swartstamprojekte van die Universiteit Stellenbosch en die Wes-Kaapse Departement van Landbou wat sedert 2021 deur die Olie- en Proteïensade-ontwikkelingstrust (OPOT) befonds word, is een van die doelwitte om die gebruik van swamdoders vir die bestuur van swartstam plaaslik te eva­lueer. Dit beoog om sensitiwiteit van die swartstampatogeenpopulasie in die Wes-Kaap teen ’n reeks swamdoders te toets en ook om die effektiwiteit van verskeie swamdoders onder veldtoestande te evalueer.

Vir meer inligting en vir die bronne gebruik vir die skryf van die artikel, kontak Huibré Schreuder by huibrecht@sun.ac.za of dr Gert van Coller by gertvc@elsenburg.com