Gemengde finansiering straks die antwoord

Gepubliseer: 8 Februarie 2022

932

Pieter Taljaard
HUB, Grain SA pieter@grainsa.co.za

Die nuwe jaar is volstoom aan die gang en soos elke jaar gaan almal kort voor lank nie kan glo hoe vinnig die tyd vlieg nie. Wat ’n uitsonderlike jaar beleef ons nie! Vir die wydverspreide reën wat ons oor die hele land ontvang het, is ek saam met elke produsent dankbaar en bly. In dieselfde asem gaan my hart egter ook na elkeen uit.

Ek kan myself nie indink hoe moeilik dit moet wees – veral sielkundig en geestelik – om soveel skade te ly onder die omstandighede wat sommige produsente die afgelope drie maande moes deurgaan nie. Dit het begin met die moeilike, nat oestyd in die Wes-Kaap en daarmee saam die beurtkrag wat dinge vererger het. Produsente in die Vrystaat wat glad nie eers hul (fantastiese) koringoeste kon stroop nie, jong saailinge wat versuip en selfs produsente wat wesenlike gedeeltes nie betyds kon aanplant nie. Ten spyte hiervan weet ek elkeen is dankbaar – dankbaar vir al die genadewater.

Soos wat ons hoop dat die einde van die COVID-pandemie in sig is, skuif ons die visier na die volgende kwessies. Ons weet dat ons heel waarskynlik nóg COVID-variante gaan beleef en sal moet mitigeer, maar daar is vir my twee ander groot sake wat veral graanverbouing bedreig.

Eerstens – en beslis die grootste bedreiging op kort termyn – is die absur­de styging in insetkoste, veral van kunsmis wat ’n graanprodusent se grootste enkele veranderlike koste is en graanproduksie moontlik maak. Ek sien dit as ’n korttermynbedreiging, aangesien ons glo die internasionale faktore sal verander, maar daar is vir seker unieke plaaslike faktore wat ons terselfdertyd moet oplos.

Tweedens weet ons almal dat die onsekerheid rakende eiendomsreg die grootste uitdaging is wat ons land se groei en vooruitgang op die duur bedreig en totaal en al beperk. Ja, daar is ander dinge ook, maar persoonlik sien ek dit as die belangrikste struikelblok. Politici baat by die retoriek daaroor – die aanslag teen en druk om die Grondwet te wysig, gaan heel waarskynlik aanhou en toeneem in die komende jaar en in die aanloop tot die 2024-verkiesing.

Verder weet ons die nuutste politieke taktiek is om die Grondwet te blameer vir gebreke in diensle­wering om korrupsie so weg te steek. Na ’n kwarteeu behoort almal tog duidelik te sien dat net dié wat polities gekonnekteer is daarby baat vind en dit ten koste van die meerderheid wat arm bly. Daarom moet en sal ons dit bly beveg en debatteer – selfs tot op die hoogste vlak. Boonop weet ons mos wat die gevolg daarvan is om dieselfde dinge aan te hou doen en ’n ander uitkoms te verwag!

Is die regte en – heel waarskynlik – wysste ding wat ons kan doen nie om meer nuwe, volhoubare kommersiële (graan)boere te help vestig en ondersteun nie? Die beweegrede hiervoor is dat ’n groter gedeelte van die nasionale oes uit dié geledere gelewer word. Daar is genoeg bewyse dat dit nie werklik oor die grond self gaan nie en ons weet ook almal daar is genoeg grond in die mark. Indien ons daadwerklik anders begin dink en die uitdaging as ’n geleentheid aanpak, kan ons sake op langer termyn vir onsself, ons kinders, ons land en sodoende vir almal verbeter.

Wanneer ons dus na die nuutste gemengdefinansieringskema (in Engels afgekort BFS vir blended finance scheme) en die intense fokus daarop in die Landbou- en Agri-prosesseringsmeesterplan (beter bekend as AAMP) as “hoofbron” van ontwikkelingsfinansiering kyk, sien ons die BFS as ’n nuwe geleentheid en potensiële oplossing vir grondhervormingsprojekte. Daar is vir seker maniere om dit in geleenthede te omskep. Ons het elke entrepreneur se grys­stof nodig om hiermee te help, want dit is nie ’n een-pas-almal-benadering nie. Ons moet net aanhou om die regte dinge te doen, want ons weet dit is die regte ding om te doen!

Baie sterkte met die res van die seisoen: Kom ons konsentreer en fokus te midde van die geraas op die dinge wat binne ons vermoë is om te verander en te verbeter. Geniet dit, dit bly ’n voorreg!

Ek hoor graag van julle: Skryf vir my, kontak my, maak ’n afspraak of nooi my om julle te besoek (pieter@grainsa.co.za).