Wintergraan: hoogste oes op rekord

Gepubliseer: 10 Desember 2021

1173
Luan van der Walt
landbou-ekonoom, Graan SA
luan@grainsa.co.za

16/11/2021

Wat wintergrane betref, was die afgelope twee bemarkingseisoene (vorige en huidige seisoen) oor die algemeen uitstekend. Toestande in veral die Wes-Kaap, waar die meeste wintergrane geproduseer word, was uiters positief en het gestrek vanaf plant- tot en met oestyd.

Die goeie produksie-omstandighede het by die meeste van die plaaslike wintergrane gelei tot nuwe hoogtepunte in produksie. Die garsoes van 588 000 ton wat tydens die 2020/2021-seisoen gerealiseer het, was die hoogste op rekord, terwyl die produksie van koring die hoogste vlakke in die afgelope twaalf jaar bereik het gedurende dié seisoen. Vir die 2021/2022-seisoen sal die geskatte 190 000 ton kanola asook die 80 473 ton hawer die hoogste binnelandse produksie tot dusver vir hierdie twee gewasse wees indien dit so realiseer.

Alhoewel wintergrane, behalwe vir koring, relatief klein is wat totale graan- en oliesaadproduksie in Suid-Afrika betref, speel dit tog ’n belang­rike rol in die plaaslike graanproduksiestreke. Die plaaslike verbruik van wintergrane het oor tyd toegeneem en in sommige gevalle het Suid-Afrika meer afhanklik geraak van invoere – wat ’n aanduiding is van die belang­rikheid van hierdie gewasse in die plaaslike graan- en oliesadevoedsel­mandjie.

Binnelandse koringtendense
Koring is tans wat produksie betref steeds die tweede grootste graangewas wat in Suid-Afrika verbou word en dien as ’n belangrike stapelvoedsel vir ’n groot gedeelte van die land se bevolking. Die totale binnelandse verbruik van koring het met ongeveer 41% toegeneem sedert die ontstaan van die vrye mark in die laat 1990’s en dit staan tans op ongeveer 3,38 miljoen ton/jaar. Ten spyte van die toename in verbruik wat oor hierdie tydperk plaasgevind het, het die produksie van koring nie dieselfde tendens gevolg nie.

Alhoewel koringproduksie oor hierdie tydperk besonder wisselvallig was, is die algemene tendens van plaaslike koringproduksie afwaarts. Die tendens het wel die afgelope twee tot drie seisoene weer omgedraai weens die goeie produksietoestande wat in die grootste gedeelte van die koringproduserende gebiede geheers het. Grafiek 1 toon die driejaar- skuiwende gemiddeld van binnelandse koringproduksie, -verbruik asook die produksie plus invoere van koring.

Grafiek 1: Driejaar- skuiwende gemiddeld van Suid-Afrikaanse koringproduksie, -verbruik en produksie plus invoere.
Bron: SAGIS

Die grafiek toon tendense sedert die ontstaan van die vrye mark aan. Dit is duidelik dat Suid-Afrika se produksie oor hierdie tyd in ’n afwaartse tendens was, terwyl die verbruik in ’n opwaartse tendens was. Dit het Suid-Afrika meer afhanklik gemaak van koringinvoere oor hierdie tydperk om in die plaaslike behoefte te voorsien. Dit is egter duidelik uit die grafiek dat die afwaartse tendens in produksie die afgelope twee tot drie seisoene weer begin draai het. Daar het baie werk, tyd en energie ingegaan om te verhoed dat die afwaartse produksietendens in die plaaslike koringmark voortduur en om te sorg dat die tendens wel verander sodat Suid-Afrika minder afhanklik van invoere raak.

Plaaslike garstendense
Gars is die tweede grootste wintergraangewas wat in Suid-Afrika verbou word wanneer na totale produksie gekyk word. Wat gars betref, het beide die produksie sowel as die verbruik toegeneem sedert die laat 1990’s. Totale binnelandse garsproduksie het met ongeveer 62% toegeneem sedert die ontstaan van die vrye mark, terwyl die verbruik met ongeveer 88% oor dieselfde tydperk toegeneem het. Grafiek 2 toon die driejaar- skuiwende gemiddeld van Suid-Afrika se garsproduksie, -verbruik asook produksie plus invoere van gars.

Grafiek 2: Driejaar- skuiwende gemiddeld van Suid-Afrikaanse garsproduksie, -verbruik en produksie plus invoere.
Bron: SAGIS

Die grafiek toon duidelik dat die plaaslike mark oor tyd minder afhanklik van invoere geraak het. Invoere het oor tyd afgeneem van meer as 100 000 ton tot minder as 10 000 ton. Die toename in die binnelandse produksie het die toename in die vraag oorskry en dus produseer Suid-Afrika sedert die 2017/2018-seisoen genoeg gars om aan die plaaslike vraag te voldoen.

Tendense in die plaaslike hawermark
Hawer is die kleinste van die wintergrane wat in Suid-Afrika geproduseer word. Dit word hoofsaaklik gebruik vir menslike voedseldoeleindes, waarvan die grootste deel vir ontbytgraan verwerk word. ’n Gedeelte van die hawerproduksie word in die veevoermark aangewend, alhoewel dit kleiner is as die deel wat vir menslike voedseldoeleindes gebruik word. Die gemiddelde produksie van hawer in Suid-Afrika het meer as vervierdubbel, met produksie wat toegeneem het vanaf ongeveer 10 000 ton in die laat 1990’s tot en met amper 60 000 ton tans.

Die verbruik van hawer het ook verdubbel gedurende hierdie tydperk vanaf ongeveer 30 000 ton tot net oor die 60 000 ton. Grafiek 3 toon die driejaar- skuiwende gemiddeld van plaaslike hawerproduksie en -verbruik asook produksie plus invoere van hawer. Dit is duidelik dat Suid-Afrika oor die algemeen minder produseer as wat die plaaslike verbruik is en dus moet die land steeds hawer invoer om aan die plaaslike vraag te voldoen. Alhoewel plaaslike produksie in ’n opwaartse tendens is, is dit steeds wisselvallig soos oor die afgelope paar jaar waargeneem is. Die plaaslike mark is steeds tot ’n mate afhanklik van invoere, alhoewel plaaslike produksie verbruik gaan oorskry indien die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se huidige skatting rakende produksie vir die seisoen realiseer.

Grafiek 3: Driejaar- skuiwende gemiddeld van Suid-Afrikaanse hawerproduksie, -verbruik en produksie plus invoere.
Bron: SAGIS

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.