PW en seuns

Gepubliseer: 9 Desember 2021

134

Beste Grootneef

Die ander dag oor ’n braaivuurtjie vra Buurman se seun hoe dit in die army was. Dit is so ver in die verskiet dat ek al van PW en seuns vergeet het. Maar ek het tog so goed as wat ek kon verduidelik.

Varkpanne, dixies en pikstelle was eetgerei. ’n Staaldak was nie ’n afdak nie. ’n 2,4 met full kit was soos vandag se Virgin Active – om jou mooi fiks en gesond te hou. As die korporaal nie gehou het van die manier hoe jou bed opgemaak was nie, het hy gesorg vir ’n oppie oor die skietwal. ’n Oppie was eintlik om af te chop.

My korporaal tydens basies was ’n vriendelike kêrel. Eers het hy al die langhaarrowe vir ’n gratis haarsny gevat en daarna verduidelik dat hulle laer as haaibollieskadu op die seebodem was. Werklik ’n innemende jongman. Klagtes kon enige tyd by die posbus voor die RSM se kantoor ingegee word. In die posbus was ’n swerm bye. Die RSM het daarop geroem dat hy nog nooit enige klagte by die basis ontvang het nie.

’n Kapelaan was iemand wat Sondae in jou slaap gepraat het. As die korporaal jou vang slaap as die kapelaan praat, moes jy na kerkparade vir ’n oppie gaan.

Dril het niks met jellie te doen gehad nie. Markeer die pas het beteken jy staan op een plek en dril – tot die korporaal moeg was. As die squad op aandag kom, moes dit soos een donderslag klap. As dit geklink het soos ’n trop beeste wat in die pad bollie, moes jy vir die korporaal ’n blaar uit die boom op die koppie gaan haal. Twee weke in basies in was die stomme boom sonder ’n enkele blaar.

As die Samil vol was, het die korporaal daarvan gehou om vir die drywer in een asem twee opdragte te gee – “ry” en “stop”. Die hele boksemdais agterin was dan bo-oor mekaar en dan was daar sommer plek vir nog tien troepe.

Browns word mettertyd vaal. Maar dit was ’n statussimbool van die ou manne om te wys hoe lank hulle al oorleef het. Rowe moes vir eerste drie maande “doibies” op hulle koppe dra voordat hulle die voorreg van ’n boshoed kon smaak. Goeie raad was om jou boshoed met ’n toutjie aan jou skouer­lapel vas te maak om te keer dat dit in die takke agterbly as jy met ’n looppasmars spoed vang teen die kop uit.

Step-outs was vir wanneer jy ’n pas gekry het. ’n Pas het beteken dat jy Vrydagmiddag by die “Ry veilig”-teken gaan staan en wag vir ’n lift. En jy moes Sondag 16:00 terug by die basis wees, anders nooi die korporaal jou vir ’n oppie.

Pos is een keer per week uitgedeel. Vir elke brief moes jy 10 push-ups doen. As die koevert effe na parfuum geruik het, was dit 20 push-ups.

Vasbyt het niks met tande te doen gehad nie. Dit was om aan te hou om aan te hou. ’n R1 of ’n R4 was nie ’n standerd op skool nie. En die states was eintlik die Republiek. ’n KO was laer as ’n koos – want hy het nog nie JL’s gemaak nie. Dié wat nie JL’s gemaak het nie, het drywers of kokke geword. In die army was daar net springstof, nie plofstof nie. Die korporaal het verduidelik dat plofstof net gebeur wanneer jy poeier in jou meisie se panty gooi en die rek laat los.

Kontak maak was nie om mekaar beter te leer ken nie. Dan het jy jou sanna op Afrikaans gesit en in kort sarsies geantwoord. Bossies was hoe party manne na ’n kontak geraak het. Hulle het dan vir enige harde slag dekking geslaan. Maar niemand het vir hulle gelag nie, want niemand het geweet hoe vlak hulle eie bossies was nie.

’n Lelie was nie ’n blom nie. En ’n rat-pack het niks met rotte te doen gehad nie. Dog biscuits was heel smaaklik as jy hulle met ’n klip kon breek en het baie myle terug in moeë bene gesit.

Kanondonkies was nie aan perde verwant nie. Dit was die battery-eenheid wat die kanon in die regte rigting moes laat skiet. En artillerie se korporaal was ’n bombardier.

Casevac het beteken dat nie almal terugkom nie. En ’n dog tag het niks met die honde-eenheid te doen gehad nie. Dit was wat nodig was om van die manne uit te ken wat oor ’n landmyn is.

Forty days het beteken dat jy nie meer vir ’n korporaal of generaal skrik nie – want daar was min dae oor. Jou eenheid, nommer, rang en naam het aan die einde van twee jaar saakgemaak – want dis hoe almal jou onthou het.

Nadat hierdie rykdom van kennis met Buurman se seun gedeel is, het hy laat weet dat hy nou beter verstaan. Hy het koers gevat kombuis toe om die wors en skaaptjops te loop haal. Om te dink dat die laaitie veertig jaar terug net na matriek by ’n basis sou moes aanmeld vir sý twee jaar van diensplig.

In die geselligheid van stilte met net die stompe wat knetter, vra Buurman toe twee vrae waarop ek nie ’n antwoord gehad het nie. Hoe en wanneer het die Buffel begin struikel? En was dit alles die moeite werd?

Op pad terug plaas toe, is die Kerslied van “Herders op die ope velde” oor RSG gespeel. Die volmaan het die velde verlig. Die Suiderkruis was helder teen die suidkant. Op dié Oukersaand het dit amper gevoel asof daar vrede op aarde was.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.