Ons venster van geleentheid

Gepubliseer: 9 Desember 2021

1008

Pieter Taljaard
HUB, Grain SA pieter@grainsa.co.za

By Graan SA het ons die afgelope tyd heelwat gesels oor die nuwe seisoen en wat dit werklik beteken. Dit behels baie meer as net die seisoensveran­dering of veranderinge aan die leierskap en bestuur by verskillende landbou- en staatsorganisasies en departemente. Dit gaan oor die globale en plaaslike veranderinge wat aan die kom is; veral in die landbou, aangevuur deur klimaat, verbruikerseise, internasionale handelsbetrekkinge en – natuurlik – politiek.

Alhoewel tegnologie ons wêreld toenemend verander aangesien ons reeds die Vierde Nywerheidsrewolusie betree het, spekuleer tegnologiekenners en -maatskappye steeds oor wat die toekoms inhou. Kunsmatige algemene intelligensie (KAI) is nog op pad en het skynbaar eindelose moontlikhede. Ons in die landbou behoort nie net uit te sien na kreatiewe nuwighede nie, maar moet ook spesifieke en unieke behoeftes beïnvloed en dryf deur saam te dink en te droom en voortdurend met hierdie innoveerders te gesels. Soos wat woorde soos “metaversum” al hoe meer verduidelik en bespreek word en met Facebook wat sy sambreelmaatskappy tot Meta herdoop het om sodoende sy reeks dienste beter te reflekteer, kan ek definitief nie help om te wonder oor wat aan die “ander kant” van alles wat ons gaan beleef, voorlê nie.Ek het nog altyd geglo verandering is goed! Sedert die uitslae van die onlangse plaaslike verkiesings bekendgemaak is, voel ek net dat hierdie nuwe seisoen se venster van geleentheid nou ontsluit is en dus amptelik geopen word. Ek is seker almal stem saam dat eiendomsreg ons grootste bekommernis en uitdaging in die landbou (en vir die breër ekonomie) was in die afgelope jare. Ons moenie geflous word om te dink dat deur slegs ons Grondwet te beskerm, hierdie uitdaging sal verdwyn nie. Ons sal hierdie saak trompop moet loop en verskillend hanteer ter wille van ons eie toekoms.

Die geskiedenis het bewys dat sommige van die grootste geleenthede voortgevloei het uit reuse-uitdagings en dis nou die tyd vir Suid-Afrika om nog ’n hoofstuk van hierdie omnibus te skryf. Baie is reeds in hierdie verband gedoen en as ons verfyn wat ons geleer het, sal entrepreneurs (of laat ek hulle eerder “planmakers” noem) se bedrywighede kan voordeel trek, groei en diversifiseer. Ek weet ons het van die kreatiefste sakemense wat daar buite boer. Met die regte ingesteldheid en bereidwilligheid is die geleentheid hier – saam met al die ander globale geleenthede – om jou besigheid na ’n volgende rat oor te skakel. Die spasie op hierdie bladsy is beperk, maar wees verseker dat ons vroeg in die nuwe jaar van Graan SA se kant af met julle sal gesels en persoonlik op gestruktureerde wyse met julle sal kontak maak.

Ek wil afsluit deur dankie te sê vir julle volgehoue ondersteu­ning en bydraes gedurende die afgelope jaar, veral vir elkeen wat hul kosbare gesins- en besigheidstyd afstaan. Ons het julle nodig; die bedryf het julle nodig en die belang­rikste, julle medeprodusente het julle nodig. Om dié rede waardeer ons julle – laat weet asseblief waar ons verder kan help en ondersteun. Laat ons aanhou om vrugbare gesprekke te voer.

Alles van die beste vir die res van die seisoen. Mag jy en jou gesin ’n waarlik geseënde Kersfeestyd beleef en ek sien uit om julle in 2022 te sien!

Kom ons gesels
Ek hoor graag van julle: Skryf vir my, kontak my, maak ’n afspraak of nooi my om julle te besoek (pieter@grainsa.co.za).