Sonneblomsaad – laer produksie se impak op prys

Gepubliseer: 5 November 2021

1803
Luan van der Walt
landbou-ekonoom, Graan SA
luan@grainsa.co.za

06/10/2021

Die Suid-Afrikaanse sonneblomsaadmark het die afgelope paar jaar wankelrige toestande beleef. Oor die algemeen is die tendens rakende oppervlakte en aanplantings van sonneblomsaad in Suid-Afrika redelik sywaarts, met ’n groter oppervlakte wat gewoonlik gedurende droër jare aangeplant word. Dit is omdat sonneblomsaad ’n goeie alternatief vir produsente bied in tye wanneer dit later as normaal reën en die groeiseisoen dus korter is.

In jare met gunstiger produksie-omstandighede tydens planttyd, is produsente geneig om minder sonneblomsaad aan te plant. Die 2021/2022-seisoen is ’n goeie voorbeeld daarvan, met die laagste sonneblomoppervlakte wat sedert die 2012/2013-seisoen aangeplant is. Die laer produksie vir die seisoen het gelei tot ’n tekortsituasie in die plaaslike sonneblomsaadmark, met plaaslike pryse wat gevolglik deur die loop van die seisoen goeie ondersteu­ning gevind het.

Korrelasie met die internasionale mark
Net soos met ander gewasse, speel die internasionale mark ook ’n beduidende rol in plaaslike sonneblomsaadpryse. Alhoewel Suid-Afrika nie werklik ’n invoer­der van sonneblomsaad is nie, is plaaslike pryse steeds tot ’n groot mate gekoppel aan internasionale sonneblomsaadpryse. Die olie en oliekoek (produkte wat verkry word met die verwerking van sonneblomsaad) speel ’n belangrike rol in plaaslike sonneblomsaadpryse. Suid-Afrika is ’n netto invoerder van sonneblom­olie, met veral olie wat dus ’n rol in plaaslike prysbepaling speel. Aangesien sonneblomoliekoek soos benodig ingevoer word, word hierdie prys ook in ag geneem. Grafiek 1 toon die jaar-op-jaar-verandering van sonneblomsaadpryse asook die produkpryse vanaf verskillende oorspronge. Dit is duidelik uit die grafiek dat die beweging van plaaslike pryse meestal oor tyd die internasionale tendense gevolg het. In sommige gevalle het dit skerper toenames getoon, terwyl dit in ander tye weer minder as die internasionale pryse beweeg het.

Grafiek 1: Jaar-op-jaar-verandering van sonneblomsaadpryse asook pryse van sonneblomolie en -oliekoek.
Bron: IGR, Safex, Graan SA

Plaaslike markbeweging
Grafiek 2 toon die plaaslike beskikbare voorraad as persentasie van die verbruik sowel as die plaaslike sonneblomprys as persentasie van die uitvoerpariteitsprys en die afgeleide prys. Aangesien Suid-Afrika sonneblom­olie en -oliekoek invoer, kompeteer die plaaslike mark met invoere hiervan. Die doel van die afgeleide prys is om ’n prys te bereken waarteen die plaaslike sonneblomsaadmark moet verhandel om min of meer dieselfde relatiewe waarde as die ingevoerde olie en oliekoek te hê. Die invoerpryse van sonneblomolie asook -oliekoek word dus in berekening gebring wanneer die afgeleide prys bereken word.

Grafiek 2: Beskikbare plaaslike voorraad as persentasie van verbruik asook plaaslike sonneblomsaadprys as persentasie van die uitvoerpariteits- en afgeleide prys.
Bron: Graan SA, SAGIS

Oor die algemeen verhandel plaaslike pryse nader aan die afgeleide prys wanneer daar plaaslik ’n voorraadtekortsituasie is. Aangesien Suid-Afrika nie regtig fisiese sonneblomsaad invoer nie, verhandel die mark selde teen invoerpariteit. In die meeste gevalle sal die pryse toeneem tot by die afgeleide prys, wat mees­tal tussen in- en uitvoerpariteit verhandel. Volgens Grafiek 2 kan duidelik gesien word dat plaaslike sonneblomsaadpryse meestal bo uitvoerpariteit verhandel (>100%), terwyl dit die meeste van die tyd onder die afgeleide prys verhandel (<100%). In tye wanneer die plaaslike voorraad laag is, verhandel die plaaslike prys nader en tot selfs bo die afgeleide prys. Die sonneblomsaadmark word net soos ander kommoditeitsmarkte deur siklusse in die vraag-en-aanbod-patroon gedryf.

Tydens strooptyd en die eerste paar maande daarna, is daar gewoonlik plaaslik baie voorraad beskikbaar en dit is tradisioneel wanneer die prys teen laer vlakke verhandel. Soos die seisoen vorder, daal die beskikbare plaaslike voorraad tot dit oor die algemeen ’n laagtepunt in Januarie tot Maart bereik – net voor die nuwe seisoen se produksie gestroop word. In die meeste gevalle is dit die tydperk wanneer plaaslike markpryse teen hoër vlakke verhandel. Gedurende Januarie tot April 2021 het die plaaslike sonneblomsaadprys nader aan uitvoerpariteit verhandel, terwyl dit algemeen verwag is dat dit nader aan die afgeleide prys behoort te verhandel tydens hierdie tydperk.

Pryse het egter eers later in die seisoen begin toeneem en nader aan die afgeleide prys begin verhandel toe die nuweseisoenvoorraad in die mark begin kom het. Daar kan verskeie redes wees vir hierdie tendens wat aan die begin van 2021 gesien is. Wanneer daar gekyk word na die verhandelingsvolumes wat op die Maart 2021- en Mei 2021-sonneblomsaadkontrakte plaasgevind het, is dit duidelik dat dit sedert die begin van 2021 laer as die normale volumes op hierdie kontrakte was. Dit kan ’n aanduiding wees dat die vraag in hierdie tydperk van laer voorrade ook laer was met minder aktiwiteit wat op die Safex-kontrakte plaasgevind het. Die pryse het dus nie skerp gereageer in hierdie tydperk nie. Die verwagting in die mark was wel dat die produksie van die seisoen laer sou wees weens die kleiner oppervlakte wat aangeplant is.

Die vraag en aktiwiteit op die Safex-sonneblomkontrakte het toegeneem soos die nuweseisoenvoorraad in die mark ingekom het. Hierdie tendens kan moontlik wees omdat die aankopers in die mark beperk was tydens die tydperk van die lae voorraad, maar dat meer mark toe gekom het toe die nuweseisoenvoorraad in die mark ingekom het om te verseker dat hulle wel voorraad in die hande kon kry vir die seisoen wat voorlê. Daar was dus ’n sloerperiode in die prysstyging tussen die tydperk met die lae voorraad en wanneer die nuweseisoenvoorraad in die mark ingekom het. Die plaaslike sonneblomsaadmark verhandel tans tussen die afgeleide prys en die invoerpariteitsprys, wat nader is aan die bokant van die plaaslike prysband.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.