George Hutchinson

Gepubliseer: 4 November 2021

189

Beste Neef

George Hutchinson was kiertsregop, grys en waardig.

Ons eerste ontmoeting was op die lughawe van Harare. Die vlug was op tyd – en alles mooi en netjies. Maar die vraag van Air Zimbabwe se lugwaardin oor “chicken or beef” was meer op die bagasie as op die spyskaart gefokus (net ’n grappie). Wat wel opgeval het, was dat die vliegtuig meer leeg as vol was. Bykans net elke derde sitplek het ’n passasier gedra. Nie baie mense het Harare as bestemming gekies nie.

Met die afklimslag het die hitte van die Afrika-son van die aanloopbaan opgeslaan. Dit was regtig soos ’n oonddeur wat oopgemaak is. Die doeanemanne was nie oorvriendelik nie, maar ook nie stuurs nie. Hier en daar op die lughawe was gewapende polisie. Die strate was vol mense wat hul gang gegaan het. Orals was stalletjies waar snuisterye of groente verkoop is. Maar alles rustig – net nog ’n dag in Harare.

By die hotel aangekom, was dit soos om terug in die Republiek te wees. Die teëlvloere het geblink en die personeel was hulpvaardig in hul swart broeke, wit hemde en onderbaadjies. Hier en daar een met ’n skinkbord op vingerpunte gebalanseer met ’n bier of mengeldrankie op pad swembad toe. Met die deurstap na die hotelkamer het ek die koel swembadarea gesien, waar enkele toeriste rondgehang het. Ek het by myself gedink dat daar meer kelners as gaste om die swembad was.

Hoe dit ook al sy – na ’n smaaklike middagete het ons met die werk begin. George Hutchinson van Zimbabwe, ’n Amerikaner van die American Soybean Association en ’n paar wetenskaplikes en andere wat besig was met kultivarproewe êrens in Zim. Die manne om die tafel en die tekenborde was toegewy aan die sojafilosofie. Inligting is uitgeruil oor produksie, nuwe kultivars, markte, uitvoere na China, vraag-en-aanbod en hoe om die sojabroederskap met meer boere uit te brei. Soja se eie hoender-of-eier-debat – of daar eers persaanlegte of eers groter produksie moes wees – was ook op die tafel.

Ou Neef, die manne het die sojataal verstaan en gepraat. Die Amerikaner was ewe entoesiasties en het aangebied om ’n databasis te befonds om die wonderboontjie nog meer aanloklik te maak.

Laat die middag het die planne opgedroog en was dit nodig om die batterye met ’n biertjie of twee te herlaai. Mosi-bier was koel op die tong en het die geselsspiere gekielie.

Later die nag, toe die Amerikaner gaan slaap het, het ek vir George gevra hoe dit gaan. En toe vertel George in sy suiwer Afrika-Engels. Dit gaan “okay”. Mense leef van dag tot dag, maar dis moeilik om te lank vooruit te beplan. Die owerheid maak almal in Zim onseker. Nadat die weermag deur Matebeleland is, het mense ook opgehou om landsake te praat want niemand was seker of daar ’n loervink rondhang nie.

George het ook vertel van die sweet om ’n plaas in Zim staan te maak. Afrika is nie vir sissies nie. Daar was baie meer padblokkades. Die weermag was gewapen en gereed. Soms was dieselvoorrade skraps. En die paaie in die platteland het so agteruitgegaan dat dit al hoe moeiliker was om vrag na en van plase te skuif.

En toe laat George sy kop sak. Ná ’n leeftyd se harde werk het hy soms soos ’n vreemdeling in sy eie land gevoel. Met baie winters agter hom wou hy ook nie noodwendig in ’n ander land gaan woon nie. Maar op ’n manier is sy keuse weggeneem.

Want die Zim-dollar se waarde het so verswak dat hy net nie meer huisvesting in die Repu­bliek of elders sou kon bekostig nie. En boonop was daar geen kopers in Harare oor nie. Die wat daar was, het die kat uit die boom gekyk. Maar die ding wat George dié aand die meeste gepla het, was die praatjies oor grond. Daar was al hoe meer gerugte dat die owerheid die klompie kommersiële plase wat nog in produksie was, wou gryp.

George het my die volgende middag op Harare se lughawe afgelaai met die groet: “Till we meet again.” Ek het dit baie naïef beaam. In die volgende klompie jare het die nuus gebreek van die Zim-regering wat die laaste kommersiële boere van hul plase verjaag het – met ons eie regering se stille diplomasie as antwoord op hierdie vergrype.

Ek het oor die jare kontak met George Hutchinson verloor. Die dag op die lughawe was die laaste keer dat ons mekaar gesien het. Ek wonder egter wat George vandag sou sê oor die owerstes van die Republiek wat luidkeels verkondig dat dit reg en billik is om die Grondwet te verander, sodat plase teen ’n nulwaarde “gekoop” kan word. En wat van hierdie land se mense sal word as daar nie meer boere is om kos te produseer nie.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.