Die seën van ’n swak staat

Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad
Gepubliseer: 4 Oktober 2021

166

Ja, daar’s baie in Suid-Afrika om oor te kla. Somtyds, soos onlangs met die plundery in KwaZulu-Natal en Gauteng, kan ’n mens skoon neerslagtig raak. Maar daar is straks ’n redelik breë silwer randjie om al die mismoedigheid om die braaivleisvure te versag.

“Wat jou nie doodmaak nie, maak jou sterker,” was die taamlik brutale gevolgtrekking van die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche. ’n Waarneming wat al deur menige pa ingespan is om ’n klaerige, nat en koue laaitie langs die viswater te paai of miskien een wat ongeduldig in krakerige ryp moet sit en wag vir ’n springbok om sy verskyning te maak.

Nou het wetenskaplikes by die Northwestern-universiteit se Kellogg-bestuurskool in die VSA bevind dat oubaas Nietzsche (en al daai pa’s) toe reg was. Daar bestaan wel ’n verband tussen mislukking en swaarkry en toekomstige sukses. Vra maar die manne wat diensplig moes doen hoe die aftjop hulle later in hulle lewe laat fokus het. Soos die Britse oorlogleier Winston Churchill dit gestel het: “Sukses is nie finaal nie, mislukking nie fataal nie, dis eerder die moed om aan te hou wat tel.”

Vasbyt is iets wat ons Suid-Afrikaners verstaan. Ons word daagliks gekonfronteer met die mislukkings van ’n sukkelende staat. Ons verstaan ons planne mag nooit opraak nie. Partykeer, te midde van die storms, kan ons geneig wees om te vergeet hoe aanpasbaar ons werklik is en hoeveel vordering ons reeds oor die jare gemaak het.

Chris Burgess

Daardie unieke Suid-Afrikaanse plooibaarheid is mooi deur Louis van der Watt van die Atterbury-groep by een van Landbouweekblad se konferensies gestel. Gefrustreerd met die onredelike vereistes van swart ekonomiese bemagtiging, besluit die Atterbury-groep om eerder na Oos-Europa te begin kyk as ’n mark waar hulle hul inko­piesentrums kon ontwikkel. Tot hulle verbasing is dit ’n groot sukses. Na jare van planmaak tuis, kan die Suid-Afrikaners op hulle voete dink en hardloop hulle kringe om hulle Europese mededingers.

Dieselfde geld vir landbou. Daar steek ’n groot waarheid in die ou sêding dat ons manne lekker in die Amerikaanse Midde-Weste mielies sal kan plant, maar dat Amerikaanse produsente maar harde klippe gaan kou om ’n skaflike oes in ons moeilike Noordwes te maak. Daar is immers ’n rede hoekom die Amerikaanse president, Joe Biden, ’n spesiale vergunning gemaak het gedurende sy land se COVID-19-inper­kings om ons kundige jong plaaslatte op hulle plase te kan kry.

Oor die jare het ons saaiprodusente hulle staal gewys. Vandag word daar meer mielies op aansienlik minder grond met minder gifstowwe geplant. Hierdie toenemende doeltreffendheid tel as een van ons land se groot landbousuksesse. ’n Prestasie wat nêrens elders op die Afrika-vaste­land te vinde is nie.

Die sukses is buiten vir ons produ­sente se toewyding en aandag aan elke detail van hulle besighede ook te danke aan ons wêreldklasinsetverskaffers. Deur hulle word van die beste tegnologie ter wêreld deur­gaans aan ons produsente beskikbaar gestel. Dit stel ’n stewige tegniese onderbou daar vir ons primêre produsente en verleen ontsaglike veerkragtigheid aan die bedryf.

Om alles te koördineer en fasiliteer, is daar die uitsonderlike rol van bedryfsorganisasies soos Graan SA. Met die staat se afwesigheid in die meeste sleutelareas het Graan SA reeds vroeg in ons demokrasie besef produsente gaan self skouer aan die wiel moet sit.

Vandag, deur sy netwerk van streeks- en werkskomitees, beman deur van die kundigste graanprodusente in die land, word elke aspek van graanproduksie deur­gaans onder die vergrootglas ge­plaas. So is daar deur die jare nie net elke plant- en stroopseisoen verseker dat daar genoeg en bekostigbare insette sal wees om ’n oes te maak nie, maar die bemarking, gradering en vervoer word ook fyn bestuur. Onder van die grootste suksesse tel ’n reddingsplan vir die koringbedryf, ’n nuwe sojabedryf wat staangemaak is en verbeterde uitvoermoontlikhede.

Geseënd met versiende leierskap soos dié van voormalige uitvoerende hoofbe­stuurder Jannie de Villiers, maak Graan SA ook wyer as die plaas ’n impak. Met sy bystand aan opkomende graanprodusente deur ’n netwerk van kommersiële mentors, is ’n ont­saglike groot bydrae gemaak om nuwe welvaart en hoop te skep. Daar is ook die grensverskuiwende Leadership Academy, waar talent­volle jong Suid-Afrikaners oor kleur­grense heen bymekaar gebring is om belang­rike nuwe netwerke te bou waarop ons in die toekoms sal kan steun.

Hierdie uitnemendheid en uiters pragmatiese plooibaarheid wat in die afwesigheid van die staat kon blom, het ook mettertyd na die res van die samelewing gesuurdeeg.

Gewone Suid-Afrikaners is deur ordentlikheid, goeie buurmanskap en gedeelde ekonomiese belange nader aan mekaar gebring. Opvallend, byvoorbeeld, is die vraag wat ons aan al die swart kommersiële produsente stel wanneer ons onderhoude met hulle voer vir ons Engelse susterlandboutydskrif en TV-reeks, African Farming, wat nou amper ’n halfmiljoen kykers op ’n slag trek.

“Hoe is julle verhouding met julle kommersiële bure?” “Uitstekend,” kom die antwoord, voor daar ’n staaltjie volg van hoe ’n kommersiële buurman op ’n kol ’n planter, stroper, trok of bul beskikbaar gestel het wat hulle besigheid letterlik van ondergang gered het.

Daar is taxibestuurders wat hulle by produsente skaar oor swak paaie of gedurende die onluste in KwaZulu-Natal by gemeenskaps­padversperrings aangesluit het om dorpies te beskerm. Die besef dat ons almal saam staan of saam val, is die sterkste wat dit nog ooit was.

Ja, daar is dus groot uitdagings, soos insetkoste wat tans die hoogte inskiet, maar tot dusver het dit ons allermins ondergekry. Inteendeel, dit maak ons net sterker en daarin lê, soos Nietzsche beaam, ons groot hoop.