Ons wou so graag die beste wees

Gepubliseer: 10 Augustus 2021

350

Beste Grootneef

Ons wou so graag die beste wees. Kan jy nog so ver terug onthou, ou Neef? Hier en daar was daar briljante oomblikke wat ons in die oë van die wêreld mooier, slimmer en beter laat lyk het.

Chris Barnard – die pionier wat dapper genoeg was om ’n hart in ’n mens oor te plant. Ou Neef, toe ons die ander dag ’n blesbok slag, dink ek so by myself – om ’n hart uit ’n lewende wese uit te haal, ’n ander hart weer in daardie lyf op te koppel en die spulletjie aan die klop te kry, is nie vir sissies nie. Dit moes baie moed van beide die dokter en die pasiënt geverg het. Dit het die wêreld se oë vlugtig na die suidkant van Afrika laat draai met die erkenning dat iets besonders vermag is.

Die ridder in swart het ons ook trots gemaak. Hoewel die gemiddelde Suidland-bewoner nie noodwendig naby ’n gholfbaan gewoon het nie, het elke oorwinning van Gary Player ons laat voel asof ons met die bestes in die wêreld kon meeding. Sy sêding van “hoe meer jy oefen, hoe gelukkiger is jy” was vir baie ’n inspirasie. Al was dit met ’n krom stok, ’n tennisbal en ’n jêmblik waarmee geoefen is – almal wou soos Gary wees.

Dan was daar Anneline. Anneline Kriel natuurlik. Die mooiste in die wêreld. Die aankondiging dat sy gekroon is as die mooiste tussen die gros meisies van oor die hele planeet, het almal hier in die Suidland trots laat voel – so asof almal bietjie van Anneline se slim en mooi gene gedeel het. Anneline was na­túúrlik slim ook – sy het later vir Sol Kerzner van Sun City ingekatrol. Daar word vertel dat hy in die laaste seisoen van sy lewe slegs margarien geëet het. Blykbaar het hy teenoor almal wat wou luister die klaaglied gehef dat Anneline met haar alie in die botter geval het.

En wat van Gerrie Coetzee? Het hy dan nie een oggend vroeg vir Leon Spinks disnis geslaan nie? Toe Gerrie die wêreldswaargewigkampioenbelt omhoog hou, het almal in die Suidland saamgejuig. Net jammer hy kon nie in die volgende jaar of wat daardie titel verdedig nie. Maar die wen in September 1983 was vir ons genoeg. Die suiker om die beste in die wêreld te wees, het lank gehou.

Wat van Sarel van der Merwe in sy Quattro? In die plaaslike Parys na De Aar-wedren was hy los voor. In Suider-Afrika, die beste – niemand kon by hom kers vashou nie. As hy tog net kans teen die wêreld se grotes kon kry in die regte wedren van Parys na Dakar. Sarel sou stof in die ander se oë gery het. Maar die sanksiehekke het toegebly en ’n held die geleentheid ontneem om te wys dat hy die beste is.

En dan die Bokke … Almal wou teen die Bokke speel – want die Bokke was die rugbylegendes uit die Suidland. Geen span kon aanspraak maak op die titel as die beste van die bestes voor daar nie teen die Bokke op Loftus gedryfmaal is nie. Maar dit was of die spel vasgehaak het na die meelbomtoer in die land van die Silwer Varings en die betogertoer in Engeland. En toe die wêreld se spanne nie meer teen ons wou speel nie, toe speel ons teen onsself met die Curriebeker as die grootste prys.

Dit was destyds moeilik om te sien hoe die res van die wêreld se spanne om die wêreldrugbykroon meeding sonder die Bokke. En toe in ’95, flussies na die ’94-verkiesing, vermag Francois Pienaar se span die onmoontlike. Dit deur die All Blacks in die laaste minuut van ’n epiese eindstryd met ’n skepdoel in ekstra tyd uit te knikker. Madiba was ook daar om in die Wêreldbekerglorie te deel. Met die nommer 6 op sy rugbytrui het ons gevoel of ons regtig weer die beste is. Die wêreld se rugbykampioen met ’n jong demokrasie, ’n president wat versoening najaag en ’n blinknuwe grondwet vol beloftes. Niks kon ons keer om die beste te wees nie.

Hoe en wanneer dit gebeur het, is moeilik om te sê. Maar die samesnoering oor alle grense van ’95 se rugbybeker onder ’n reënboogwolk, is met tyd geblus. Met ou ver­wyte … en nuwe vrese. En aansprake op grond en goed uit Jan van Riebeeck se tyd. Die snelweg na groei en ontwikkeling met ’n geleentheid vir almal het vol slaggate geraak. Sodanig dat dit in sekere gebiede totaal verbrokkel het tot ’n stamperige sinkplaatpad vol vooroordele.

Ou Neef, die oplossing – soos ook in die jare toet – is egter nie van buite nie, maar van binne. Europa is ver en die VSA is aan die ander kant van die aardbol. In hulle werklikheid is die Suidland so ver weg dat wat hier gebeur, hulle nie sleg sal laat slaap nie. Die enigste manier om werklik die beste te wees, is om hande te vat en self hand aan die ploeg te slaan vir ’n beter Suidland. Vergeet daar­van dat iemand anders dit vir ons sal doen. Dit is tyd vir die stille meerderheid om te wys dat ons ten spyte van ’n woeste verlede, ’n beter toekoms vir ons kinders kan bou. Want ons is almal hier om te bly.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.