Kanola nie bloot op sy baadjie getakseer nie

Gepubliseer: 9 Julie 2021

1278
Zander Spammer,
bestuurder: Landbou-kundige Hulpbronne, SOILL

Net soos by elke ander graansoort is dit van uiterste belang om die kwaliteit van gelewerde kanolasaad te bevestig, aangesien graad die gebruik daarvan bepaal.

Kanola wat as graad C1 geklassifiseer word, is geskik vir menslike gebruik, terwyl kanola­ wat nie aan C1-graadvereistes voldoen nie in die dieremark aangewend moet word. Die metode wat die kwaliteit van die kanola bepaal – of dit vanaf ’n plaas gelewer of tussen depots versend word – word gradering genoem. Dit vind plaas by alle depots wat kanola ontvang en versend.

Graan SA-fotokompetisie
– Marelize Wessels, 2017

Die kwaliteit van kanolasaad is onderworpe aan die volgende hoofkategorieë:

  • Voginhoud
    Die voginhoud van kanolasaad word bepaal deur die relevante gekali­breerde vogmeter te gebruik. Die algemeenste vogmeter wat in die Wes-Kaap gebruik word, is die NIR DICKEY-john- en/of Perten-modelle. Kanola sal tipies gelewer word met ’n vogpersentasie van 6% tot 8%. Enige kanola met ’n vogpersentasie van bo 8% moet gedroog word tot onder 8% voordat dit aan die pers gelewer kan word.
  • Vreemde materiaal wat hoofsaaklik uit sifsels bestaan
    Die kanolasaad gaan deur ’n 3,2 mm-rondegatsif om alle doppies en gebreekte peule uit te sif. Alle plantaardige materiaal wat op die sif agterbly, word as vreemde materiaal of sifsels geklassifiseer en dit wat onder die sif lê, word as kanola en bruikbare produk geklassifiseer.
  • Chlorofil of groen sade
    Om chlorofil waar te neem, moet die saad platgerol of -gedruk word om die binnekant of “vleis” van die kanola te sien. Wanneer meer as 50% van die “vleis” van die saad groen vertoon, word dit as groen sade geklassifiseer. Dit vind plaas wanneer die plant se rypwordingsproses aangejaag word, gewoonlik met uitermatig warm weer net na blomtyd.
  • Hittebeskadiging
    Hittebeskadigde sade is sade wat meer as 50% bruin vertoon nadat dit soos by chlorofil platgedruk is. Dit kan soms oorwegend swart vertoon, afhangend van die vlak van hittebeskadiging. Dit vind plaas wanneer saad teen te hoë vog gestoor word sonder die nodige deurlugting. Dit kan oornag gebeur en produsente word sterk aangeraai om nie kanola met ’n te hoë voginhoud op te berg nie. Hittebeskadigde saad het ’n baie kenmerkende reuk, wat waargeneem word nog voor die saad platgerol word.
  • Uitgeloopte sade
    Uitgeloopte saad is saad wat tekens van ontkieming toon – ’n klein uitgroeisel of worteltjie is sigbaar. Dit vind plaas wanneer die kanola te lank op die land staan voordat dit geoes word en die voginhoud te laag daal. As daar dan skielik reën voorkom, kan die saad begin ontkiem.
  • Muf en ander vreemde reuke
    Enige sigbare tekens van muf en suur of ongewenste reuke wat afwyk van die normale, kan nie aanvaar word nie. Die mufreuk by kanola is baie kenmerkend en mufkoeke sal in die saad vorm.
  • Sclerotinia
    Sclerotinia is ’n fungussiekte wat harde massas fungusmate­riaal produseer. Die massas (sklerotiums) kan in vorm en grootte varieer en het ’n swart, growwe eksterne oppervlak en ’n wit binnekant.
  • Ergot
    Ergot is ’n fungussiekte wat hoofsaaklik op rog en hawer voorkom en selde op kanola. Harde, digte fungusliggame met ’n pers-swart kleur en gladde voorkoms is sigbaar.
  • Klippe, glas of metaal
    Daar word soms klein klippies in lewerings aangetref. ’n Maksimum van 0,5% word toe­gelaat.
  • Ander sade en skadelike insekte
    Laastens kan daar ook skadelike sade soos akkerwinde en insekte soos die tropiese stoormot voorkom.

Graderingsveranderinge
Southern Oil het vanjaar saam met Graan SA se kanolaspesialis­werkgroep aan die grade­ringsregulasies geskaaf. Daar is besluit om twee veranderinge aan te bring:

  • “Ander grane” moet apart van vreemde materiaal gegradeer word.
  • Die maksimum toelaatbare hoeveelheid uitgeloopte sade is verhoog van 0% tot 0,5%.
’n Ronde sif van 3,2 mm wat gebruik word by die gradering van kanola.
Voorbeelde van uitgeloopte saad.
Saad wat gemuf het en ’n koek vorm.

Opsomming
Die kwaliteit van die kanolasaad wat aan Southern Oil verskaf word, is van uiterste belang. Nie net bepaal die kwaliteit van die rou materiaal (saad) die kwaliteit van die finale produk (olie) nie, maar daar moet aan streng voedselveiligheids- en kwaliteitsvereistes voldoen word. Elke produsent word vergoed op grond van die kwaliteit van kanola gelewer by die betrokke leweringspunt. Verder is dit belang­rik vir Southern Oil om konsekwent kanola van ’n sekere standaard te ontvang sodat verwerkingsprosesse gestandaar­di­seerd kan bly.