Om opsy te staan

Gepubliseer: 8 Julie 2021

1079

Beste Grootneef

Ou Neef, ons leef ’n nuwe, wilde woordeboek – met begrippe wat daagliks tot ons taal en bestaan gevoeg word.

Vat nou byvoorbeeld safe distance. Blesbokke verstaan die ding van safe distance heeltemal. Probeer net een deur ’n teleskoop bekyk, dan verdwyn die hele trop Vrystaat-Ferrari’s oor die bult.

Om “opsy te staan” is die ander een. In my oorle jongdae was opsystaan ’n danspassie tydens volkspele. Dit was in die dae toe regte dans nog sonde was en die koshuisseuns en -dogters op volkspele moes staatmaak om mekaar beter te leer ken. Al was dit op die wysie van “Kom Patertjie, kom buig jou stywe dop…”.

Nou is opsystaan iets heel anders. Hopelik met een stappie na links en ’n volgende passie na regs, reguit in ’n oranje oorpak in.

Nie dat diegene wat gevra word om opsy te staan vreeslik danig met die gedagte is nie. Meestal is dit ’n gekibbel en ’n ontkenning van alles waarvan opsy gestaan moet word – by Estina sien jy net melk spat, maar niemand wat opsy staan vir ’n oranje oorpak nie.

Ou Neef, so gepraat van volkspele. Dit laat my vanoggend dink aan die laaste 40 dae op skool. Dit was van al die gevolkspele dat Tati met die gedagte gekom het dat die matrieks van Opsaal-seunskoshuis Lentehof se matriekmeisies moes uitvat vir ’n fliek. Die probleem was egter dat die naaste fliek van die tyd ’n inryteater was, so 2 km buite die dorp. En anders as vandag se jongetjies, het nie een matriekseun oor ’n ryding beskik nie.

En toe maak Tati ’n plan. Hoe hy met die trekker en die sleepwa van die plaas tot voor Opsaal-seunskoshuis gekom het, weet nugter. Maar voor jy kon sê fliek, was al die matriekmanne agter op die sleepwa, reguit op pad Lentehof toe om die matrieknooiens te gaan oplaai. Dié is met ’n tiekieboks laat weet dat hulle moet regmaak.

Ou Neef, daar was daardie aand nie ’n vroliker vrag in die hele Republiek nie. ’n Sleepwa vol matrieks met die lewe voor hulle en met skooltyd bykans verby.

Die enigste oponthoud was by die inry se ingang. Die hoofman van die inry was effe onseker of ’n trekker en ’n sleepwa – met 20 matrieks op – een of twee voertuie was. Maar toe Tati die groen trekker se vet ’n tweede keer ooptrek, is ons deur die poorte. Die man se oë het oopgegaan om te sien en te verstaan dat ’n enkel voertuig so pas by hom verby is.

Dit was bykans die selfde geskil as met Langenhoven en sy mak olifant, Herrie, wat op toer by Oudtshoorn uit is. Die man van die tolhek wou ook eers redekawel of ’n olifant met ’n tremwa meer as een perdekar se tol moet betaal. Maar, soos Langenhoven met sy olifant en tremwa deur die tolhek geploeg het, is Tati met sy groen trekker en sleepwa ook dwarsdeur die inry se hek.

Dalk was die oorwinning by die hek so groot dat Tati bietjie vergeet het dat ’n inry vol kontoerwalle is – want hy is op vol spoed in die middel deur om met ’n sierlike draai teen die voorste wal te parkeer. Met die trekker en sleepwa oor al die walle, was die komberse, kussings, kos en passasiers heel deurmekaar geskommel. Dis die naaste wat jy in die Vrystaat aan seesiek kon kom.

Hoe dit ook al sy – met die trekker en sleepwa knus teen die voorste wal, het die spannetjie matrieks hulle vir die fliek van hul lewe tuisgemaak. Die storie op die silwerdoek was flou, maar die aand het ’n somerjoligheid gehad wat die grootste tranetrekker nie kon demp nie.

Laat ons egter nie te veel uitwei oor die aand se gefliek nie. Dis die pad terug waarvan ek wil vertel. Die sleepwa vol jillende matrieks is deur die dorp terug koshuis toe. By elke robot is vir bekommerde inwoners gewaai. En toe vang Tati gees en vat ’n draai met die trekker en sleepwa voor die Blou-skool verby, met almal wat hom aanmoedig om vinniger en groter te gaan. Dit was met die derde draai dat die trekker en sleepwa deur pa Toit se blombedding is.

Nou ja, na die Kaapse draai deur die bedding vygies, is die matriekdames by Lentehof afgelaai en is die manne met die trekker en sleepwa terug tot by Opsaal.

Pa Toit was ’n streng koshuisvader. Maar oor die vars trekkerspore deur die bedding vygies het hy nooit iets gesê nie. Want hy was ook eenmaal jonk.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.