Om raak te skiet en mis te boor

Gepubliseer: 2 Junie 2021

186

Beste Grootneef

Vra maar vir Naas Botha, die verskil tussen ’n hero en ’n zero is soms so dik soos ’n polonieskil. ’n Menigte van sy skepskoppe is maar net-net tussen die pale deur. Effe meer links of regs – en dan het niemand vir Naas onthou nie.

Die verskil wat een millimeter aan jou status van óf held óf ploert kan maak, het ek ’n week terug self beleef. Vroulief por al lankal vir ’n nuwe handvatsel in die badkamer. Gewapen met ’n Metabo-boor, boorpunte, Hilti’s en ’n potlood vaar ek die Saterdagoggend die badkamer in. Die missie, heel eenvoudig – om ’n nuwe handvatsel teen die badkamermuur vas te sit.

Ou Neef, soos vir enige missie is ’n behoorlike visie egter nodig. En soms is dit nie so maklik nie. Want hoe weet jy wat ’n loodgieter se visie tien jaar terug was? Met die meet en pas van waar die handvatsel moet vas, was die volgende uitdaging om ’n skatting te maak van waar daar nié ’n pyp in die muur sal loop nie. Logika fluister dat enige redelike loodgieter die kortste pad kraan toe sal vat, sonder dat ’n pyp ’n U-draai in die muur sal maak – pype is mos duur.

Met dié oorwig van waarskynlikheid, is die gate netjies met die potlood op die muur gemerk vir die booraksie. Eers met ’n dun boortjie om deur die teël te kom. Maar ’n teël is nie ’n boor se maat nie, daardie boorpunt dans mos alkant toe voor hy vat. Einde ten laaste is die eerste gate deur die teëls – min of meer op die potloodmerkies.

Die tweede booraksie was bloot om die gate te verruim. Dis mos eintlik ’n maklike aksie, want die tweede boorpunt loop mos net agter die eerste gat se draai af. Ou Neef, met vyf gate wat netjies verruim is, het ek al die applous gehoor. Ek was in die pylvak om geskiedenis te maak: ’n eerste handvatsel teen ’n badkamermuur. Vroulief se held.

En toe vir daardie laaste gat. Die boor het mooi geloop. Amper op die einde van die gat voel ek so half van ’n weerstand op die boor. Ek dag so by myself dat dit snaaks is dat die steen nou so ’n harde knop maak. Ou Neef, ek stoot toe daai boor met mag en mening om deur te druk. En toe slaan ek sterk water.

Dit het so ’n breukdeel geneem om te verstaan waar die straal water vandaan kom. Maar ’n helder oomblik later het ek die moeilikheid besef. Die potlood is terstond as waterstop in die gat ingeslaan. Maar water laat hom nie met een potlood keer nie. Toe ek weer kyk, het die water sy eie pad gevind en by al die ander gate begin uitloop. Met al die potlode in die huis in die ander gate gekap was daar twee soeke op hande. Die eerste soek na die stopkraan in die agterplaas en die tweede soek na die loodgieter se nommer op die yskas.

Ou Neef, enige loodgieter wat sy sout werd is, fluit eers saggies en begin dan somme maak. Dit help ook hul som om lyf te kry as hulle nou en dan kop skud en bekommerd heen en weer loop. Want met ’n gat in ’n pyp in ’n muur agter teëls, is jy vas.

Einde ten laaste met die teëls af en die lood­gieter se voorganger se pyp in die oopte, was dit my beurt om te fluit en kop te skud. Want die pyp se kant is met ’n fraksie van ’n breedte van ’n polonieskil raak geboor. Dit was amper mis.

Ou Neef, toe dink ek by myself – die keuses in die lewe is nooit maklik nie. As daar gejag word, is dit beter om amper mis as amper raak te skiet. Maar as jy ’n gat in ’n muur boor, is dit weer beter om amper raak as amper mis te boor.

En dis nie noodwendig slimmigheid of goedheid wat van jou ’n held maak nie – dis meestal net genade.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.