Kongres spreek van positiewe gesindheid vir pad vorentoe

Gepubliseer: 29 Maart 2021

1161

Kongres 2021 is so pas agter die rug – nogal ’n virtuele een. En was dit nie ’n verandering nie! Ek was skepties of ons produsente vir soveel ure agter ’n skerm sou sit en oor hulle toekoms besin. Die span in die kantoor was buite elke moontlike gemaksone en tog – so tipies aan ons Graan SA-kultuur – het hulle by die nuwigheid aangepas. Hulle het nie net ’n fantastiese Kongres gelewer nie, maar ’n nuwe standaard vir landbou gestel. Die bykans 1 000 besoekers wat ons op YouTube gevolg het, dui op ’n nuwe behoefte – wat ons sal kan bevredig selfs as ons weer terug op NAMPO Park is.

Dit was lekker om na ’n internasionale kundige se opinie oor ons land se kwaliteitinligting te luister. Dit is iets wat Suid-Afrika min hoor: dat ons in dié dag en tyd nog kan meeding met die bestes in die wêreld – en dit is nou oor iets positiefs, nie korrupsie nie! Ek dink net as een van die wêreld se bes gekwalifiseerde kundiges, wat die belangrikste ekonomie met graanvraag-en-aanbodsyfers lei, sê Suid-Afrika se data is goed en reg en van hoë kwaliteit, moet ons dit begin glo in plaas daarvan om ons ore uit te leen vir een of ander keyboard warrior op sosiale media. Kom ons beskou dit nou as afgehandel en bly poog om dit selfs te verbeter.

Die interaktiewe gesprekke wat oor infrastruktuur, logistiek en veral uitvoer gehandel het, het vir my aangedui dat ons produsente na die toekoms kyk. Ons wil meer produseer. “Graan SA, julle moet markte kry en seker maak ons kan uitvoer,” is wat ek gehoor het. Die spoke uit die verlede van “plant minder” is beslis begrawe. Die vraag na sojabone groei nou so dat dit ’n beter balanseffek op die mielievoorrade het as om produsente te vra om minder te plant. Dit is positief! Dr Justin Choe van die VSA se landboudepartement (USDA) het ook aangedui dat solank die groot ekonomieë groei, hulle ’n volhoubare styging in vleisverbruik en gevolglik graanverbruik voorsien. Dit is goeie nuus vir ons graanpryse.

Wanneer ’n mens in ’n leiersposisie dien, voel dit maar meestal of jy in die donker loop – met net so nou en dan ’n streep lig oor hoe die pad vorentoe lyk. Wanneer jou leierskap bevraag­teken word deur die mense wat jy lei, is dit nie net donker nie, maar ook opdraande met baie struikelblokke in die pad.

Saam met die COVID-pandemie en al die gevolge daarvan het Graan SA se leierskap terselfdertyd onrus onder graanprodu­sente be­leef ten opsigte van die mark se geloofwaardigheid. Ons moes laer trek en koppe bymekaar sit oor hoe om die situasie te hanteer: Bly by die feite, moenie paniekerig word nie en hou aan om die regte ding te doen. Dit was die resep wat die leiers uitgedeel en toegepas het. Na al die insette en vrae by Kongres moes die produsente hulle stemme uitbring oor die resultate van die resep. Al die leiers is her­kies, die verhoging in die heffings is goedgekeur en daar is selfs ’n spesiale heffing toegestaan om Graan SA sterk en gesond te hou om die volgende uitdaging die hoof te bied.

Ons is ons leiers en lede groot dank verskuldig dat hulle ons die pad met dié gesindheid vorentoe wys en dat ons nie nou die geledere verdeel en swakker raak nie. Die toekoms bly onseker, maar ons mandaat van die lede was baie suiwer en duidelik: Hou die oog op ons volhoubaarheid; winsgewende graanproduksie; ontwikkel ons mense op elke vlak en beskerm die bodem waarop ons boer sodat ons kinders ook nog daarvan kan leef.

Voorwaarts, Graan SA!