Só integreer ons vee in ’n bewaringstelsel

Gepubliseer: 25 Februarie 2021

1781

Izak Dreyer, produsent, Dreyer en Dreyer Bdy Bk

Andre Naudé,
plaasbestuurder, Dreyer en Dreyer Bdy Bk

Marnus Strydom,
plaasbestuurder, Dreyer en Dreyer Bdy Bk

Japie Delport,
plaasbestuurder, Dreyer en Dreyer Bdy Bk

Hierdie is die tweede artikel waarin Dreyer en Dreyer Bdy Bk se reis van ’n konvensionele, gemengde boerdery na ’n bewaringslandboustelsel vanuit hul eie perspektief beskryf word.

Die boerdery is ’n gemengde boer­dery in die Vrede-distrik in die Noordoos-Vrystaat, wat bestaan uit akkerbougrond (20%) en natuurlike veld (80%), tipies van dié Hoëveldstreek. Diversifikasie word be­vorder deur ’n braaikuikenvertakking, hoewel dit nie verder in hierdie artikel bespreek sal word nie.

Integrasie van vee
Ons skaapraskeuse in die boerdery is die dubbeldoel SA Vleismerino. Bestuur word vergemaklik deur twee ooikuddes wat elk apart bestuur word. Ooie word jaarliks gepaar in twee groepe, met onderskeidelik ’n herfs- en lentelamseisoen. Vervangingsooitjies word op eenjarige ouderdom afsonderlik gepaar en hul lamseisoen volg sodra die groot ooie klaar gelam het. Dit bring mee dat ramme volwasse ooie en
ver­vangingsooie na mekaar dek. Dit verminder kompetisie tussen ooie en die ramme word meer effektief benut. Daar word gepoog om ooie net vir 35 dae by die ramme te hou. Vrouehelpers gedurende die lamperiode kan dan hulle volle aandag aan die jong ooie skenk (Foto 1).

Herfslamseisoen
Ooie word in November/Desember op die veld gedek. Ses weke voor die aanvang van die lamseisoen word hulle na die dekgewasse geskuif en bly daar tot en met speen op 100 dae wanneer die lammers gemiddeld 35 kg weeg. Ooie word van die lammers geskei en gaan na die veld of beskikbare oesreste. Lammers bly so lank as moontlik op die dekgewasse en word as vrylopend (free range) bemark op 45 kg tot 50 kg. Kruipvoer voor speen en afrondkorrels na speen word ad lib aan lammers voorsien (Foto 2).

1. Ooie word in twee groepe gepaar met ’n herfs- en lentelamseisoen.
2. Ooie in uitstekende kondisie.

Lentelamseisoen
Ooie word in Junie/Julie gedek op die winterdekgewasse. Winterweiding tot en met lam behels winterdekgewasse, oesreste en winteronkruide wat voor planttyd ’n groot probleem kan wees op die lande, maar besonder goed deur die skape bestuur en benut kan word. Ooie lam op die veld of op lande wat nog nie geplant is nie en nog genoegsame kos voorsien. Sodra die eerste somerdekgewasse gereed is om bewei te word, skuif die ooie en lammers daarheen. Op ongeveer 100 dae gaan die ooie terug veld toe, terwyl die lammers op die somerdekgewasse agter­bly tot en met bemarking. Daar word dus gepoog om lamtyd saam met die eerste groenweiding te laat val.

Vervangingsdiere word so ver as moontlik op dekgewasse uitgegroei om op ’n jaarouderdom gedek te word. Ramme word uit die kudde self teruggehou en geselekteer volgens vrugbaarheid, groei, bouvorm en woleienskappe. Ramme wat geselekteer word, word aan ’n veldtoets onderwerp en net die beste diere word uiteindelik vir gebruik in die kudde opgeneem.

Daar word deurgaans gepoog om ’n hoëdrukbeweidingstrategie op alle weidings te volg. Vir die skaapkudde het dit die voordeel dat die parasietla­ding (veral ’n probleem op aangeplante groenweiding) in groot mate onderdruk word, aangesien diere elke drie dae tot vier dae geskuif word. Dit het die bykomende voordeel dat on­gediertes grootliks uitgehou word deur die elektriese draadjies wat in die hoëdrukstelsel gebruik word.

Ooie word jaarliks voor die lamseisoen geskeer en lammers word net voor bemar­king geskeer. Bestuur, rekordhouding en akkurate meting van produksie word aansienlik vergemaklik deur die gebruik van radiofrekwensie-oorplaatjies op elke dier.

Beeste se rol in bewaring
Ou, konvensionele stelsel
Konvensionele kuddebestuur het bestaan uit troppe van 70 tot 120 vroulike diere wat deur die jaar volgens die drakrag tussen vyf en sewe kampe gewissel is. Die hooffokus was om ’n swaar speenkalf te produseer wat aan voerkrale bemark kon word. Om dit te vermag, moes speenkalwers vir so lank as moontlik veld in ’n goeie toestand benut, wat daartoe gelei het dat die koeie op veld in swak toestand moes kalf. Vir die koeie om kondisie te behou en melk te produ­seer, was dit noodsaaklik om bale en byvoe­ding te voorsien. Aanhoudende selektiewe beweiding het die veldtoestand nadelig beïn­vloed ten opsigte van spesiesamestelling en met indringerplante soos slangbos wat vermeerder het. Die uitgawe verbonde aan die maak van bale (sny, windrye maak, baal, hantering en beheer van indringers) het oorhoofse koste meegebring wat die bruto marges negatief beïnvloed het. Selektiewe beweiding het ook die veld se kwaliteit toe­nemend negatief geaffekteer. Verse en manlike diere wat in veldtoetse ingesluit moes word, is deurlopend proteïenaanvul­lings gevoer om minimum gewig te bereik om gedek of getoets te word.

Nuwe stelsel
Om hoëdrukbeweiding te laat werk, moes ons die troppe diere vergroot, maar dit op sigself het egter nie die veelading verander nie. Om beter benutting te kry, moes kampe verklein word en op ’n meer gereelde basis geskuif word. Hiervoor was beter infrastruktuur nodig. Boorgate is gesink, damme is gebou en pype om water oor die eiendom te versprei, is aangelê. Stelselmatig is die elektriese drade regoor die eiendom uitge­brei. Om te voorkom dat diere die infrastruktuur vernietig, is groter krippe geïnstalleer sodat alle vee met gemak toegang tot water kon kry (Foto 3 en Foto 4).

3. ’n Waterkrip geskik vir groot troppe beeste.
4. ’n Elektriese heining wat met sonkrag werk.

Daar is besluit om speenkalwers terug te hou. Speenkalwers het veld en dekgewasse as weiding benut voordat hulle dan in ’n voerkraalstelsel afgerond en verkoop is. Hierdie stelsel was egter nie volhoubaar nie. Meng en voer van rantsoene is duur en arbeids­intensief. Die praktyk is gestaak nadat besluit is om diere as vrylopend te bemark op twee en ’n half jaar as gekastreerde osse.

Om nader aan ’n natuurlike stelsel te beweeg, het ons die koeie se kalfperiode aangeskuif om op groen veld te kalf. Dit bring mee dat minder byvoeding en bale benodig word. Kalwers word nie meer gespeen nie en loop saam met die koeie totdat hulle deur die koeie self gespeen word.

Aanvanklik het ons gedink dit gaan nie werk nie, maar ons sien tog dat kalwers deur die winter steeds gewig optel. Omdat koeie eers later gedek word (Januarie tot Maart) het hulle genoeg tyd om kondisie te bereik. Hierdie praktyk maak bestuur heelwat eenvou­diger aangesien speenskok, wat met gewigsverlies gepaard gaan, heeltemal uitgeskakel word (kalwers groei ongeveer 0,2 kg/dag deur die wintermaande) en die kalwers baie rustiger by die koeie is. Die koeie breek ook nie drade om by die kalwers te kom nie. Jong bulle en verse word dan as ’n trop van September af in hoëdruk­toestande geëvalueer (Foto 5).

5. Jong bulle en verse word as ’n trop in hoëdruktoestande geëvalueer.

Bulle wat gekeur word, word blootgestel aan veldbultoetse onder leiding van dr Hannes Dreyer van Veldbul SA. Slegs ons beste bulle wat betref voeromsetverhouding (VOV), funksionaliteit en manlikheid word in die kuddes gebruik om aangepaste diere te teel.

Soos die skape, het elke kalf ’n radiofrekwensie-oorplaatjie wat monitering vergemaklik. Hoewel daar algemeen aanvaar word dat die maksimum kilogram vleis geproduseer per hektaar die doelwit is, is dit vir ons net so belangrik om ’n goeie kalfpersentasie te handhaaf. Om droë koeie bloot as C-grade te verkoop, beteken ’n verlies aan inkomste.

Deur selektiewe beweiding van grasse te verminder, het die drakrag van die natuurlike weiding met 30% in jaar 1 verbeter. Mis en urine is meer egalig oor die kampe versprei en miskruieraktiwiteit is nou ’n algemene verskynsel (Foto 6).

6. Miskruiers in natuurlike veld.

Klik op die QR-kode om die eerste artikel oor Dreyer en Dreyer Bdy Bk se reis van ’n konvensionele, gemengde boerdery na ’n bewaringslandboustelsel te lees.