Grondonteiening – Agri SA se hoofbesware teen wetsontwerp

Annelize Crosby, hoof: Grond- en Regsake, Agri SA
Gepubliseer: 28 Januarie 2021

1113

Vroeg in Desember 2020 is die sesde weergawe van die nuwe Onteieningswetsontwerp gepubliseer vir openbare kommentaar. Lede van die publiek het kans tot 10 Februarie om te reageer.

Die eerste poging was twaalf jaar gelede in 2008, maar die wetsontwerp is later onttrek as gevolg van die beperkings wat dit op die howe se rol geplaas het. ’n Verdere poging is in 2013 aangewend. Die 2013-wetsontwerp is verfyn en het die 2015-wetsontwerp geword, maar is in 2018 weer eens onttrek as gevolg van die debat rondom onteiening sonder vergoeding wat gevolg het na die ANC-beleidskonferensie in 2017. Hierdie 2015-weergawe is toe gewysig om voorsiening te maak vir die moontlikheid van “nulvergoeding” in sekere omstandighede. Die gewysigde wetsontwerp is by Nedlac ter tafel gelê en Agri SA het deelgeneem aan die Nedlac-samesprekings as deel van die besigheidsgroep. Dié afvaardiging het in beginsel hewig beswaar aangeteken teen die konsep van R0-vergoeding en sodanige beswaar is ingesluit by die Nedlac-verslag wat na die Parlement gestuur is.

Agri SA se hoofbesware teen die huidige weergawe van die wetsontwerp is soos volg:

  • Die definisie van onteiening, wat eng fokus op verkryging deur die staat. Hierdie definisie wat by die vorige parlementêre proses ingesluit was, is steeds rede tot ernstige kommer aangesien dit die deur oopmaak vir staatsinmenging by eiendomsregte, of verkryging namens derde partye waar vergoeding nie betaalbaar is nie.
  • Klousule 12(3) en (4), wat voorsiening maak vir onteiening van grond in die openbare belang teen nulvergoeding in sekere omstandighede.

Op ’n meer positiewe noot, word daar kennis geneem van die feit dat die wetsontwerp voorsiening maak vir volledige toegang tot die howe om enige geskille by te lê, ongeag of dit verband hou met die doel van die onteiening of die bedrag van vergoeding. Onteiening is ook slegs ’n laaste opsie en die staat moet eers poog om ’n ooreenkoms met die grondeienaar te bereik. Artikel 2(3) bepaal dat ’n bevoegdheid om te onteien nie uitgeoefen mag word tensy die onteieningsowerheid onsuksesvol was ’n sy poging om ’n ooreenkoms met die eienaar of houer van ’n reg in die eiendom vir die verkryging daarvan op redelike terme te bereik nie (A power to expropriate property may not be exercised unless the expropriating authority has without success attempted to reach an agreement with the owner or holder of a right in property for the acquisition thereof on reasonable terms).

In sy voorlegging, beklemtoon Agri SA die volgende:

  • Die belange van ons lede. Agri SA verteenwoordig die grootste groep landelike grondeienaars en wil ’n volhoubare, lewensvatbare sektor vir hulle verseker.
  • Vandag se produsente kan nie alleen aanspreeklik gehou word vir historiese gebeure nie en daar kan nie van hulle verwag word om die las van apartheidsera-onteiening en -ongeregtighede te dra nie.
  • Ons ondersteuning van vryemarkbeginsels en ons standpunt dat onteiening ’n laaste opsie moet wees.
  • Grondeienaars wie se grond onteien word, moet altyd die reg hê om hulle tot die howe te wend.
  • Verwysing word gemaak na die studie deur dr Roelof Botha oor die potensiële ekonomiese impak en spesifiek die impak op kapitaalformasie.
  • Die meeste lande se grondwette vereis vergoeding, met verwysing na die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) se studie oor beste praktyk vir verpligte verkryging.
  • Lesse geleer uit Zimbabwe en Venezuela word gedeel en illustreer die rampspoedige gevolge van hul grondbeleid vir die onderskeie ekonomieë.
  • Die belastingimplikasies betreffende ’n potensiële verlies aan belastinginkomste vir die regering word uitgelig asook die potensiële nadelige impak op voedselsekerheid.
  • Kommentaar op spesifieke definisies en klousules, soos die omskrywing van “onteiening” en “openbare belang” en die R0-vergoedingsklousules.
  • Huidige grondeienaars behoort onmiddellik genoegsame en effektiewe vergoeding te ontvang, wat hulle dan in staat sal stel om elders weer te begin. Hulle moet nie swakker daaraan toe wees as gevolg van sodanige onteiening nie.

Agri SA sal aktief deelneem aan alle verdere konsultasieprosesse. Die organisasie is besig om sy skriftelike voorleggings aan die portefeuljekomitee vir openbare werke te finaliseer en sal ook vra vir ’n geleentheid om sy standpunte tydens openbare verhore te stel. Agri SA het sy beswaar teen die konsep van nulvergoeding duidelik uiteengesit asook die moontlike nadelige gevolge daarvan op die ekonomie en voedselsekerheid.

Na afloop van die portefeuljeproses sal die wetsontwerp verwys word na die Nasionale Raad van Provinsies en die provinsies sal mandate ten opsigte van die wetsontwerp moet verkry, waarna albei huise sal moet stem oor die wetsontwerp. Agri SA sal deelneem aan elke stap in hierdie proses. Agri SA behou ook al sy regsopsies voor en beraadslaag op ’n gereelde basis met sy senior regspan.