Koringaanbod styg terwyl vraag krimp

Gepubliseer: 10 Desember 2020

64
Ruan Schutte,
ekonoom en bemarker, Graan SA
ruan@grainsa.co.za

16/11/2020

Die 2020/2021-produksieseisoen het aangebreek en stropers dreun die wêreld vol. Graan SA het in middel November die maandelikse oesstatusvraelys uitge­stuur. Hierdie artikel gee inligting oor die huidige wintergraanoesstatus en die beskikbare markinligting tot en met 15 November 2020.

Internasionale markte
Dit is geen geheim dat die eindvoorraad van die wêreld vinniger as die vraag na koring toeneem nie. Volgens die Internasionale Graanraad (IGC) se inligting wat in Grafiek 1 uitgebeeld word, neem wêreldproduksie tans teen 7% per jaar toe en die vraag na koring teen slegs 3% per jaar.

Grafiek 1: Wêreldvraag en -aanbod.
Bron: Internasionale Graanraad (IGC).

Die Europese Unie (EU) se produksie het sedert die 2011/2012-bemarking­seisoen met 8% per jaar toegeneem, maar die vraag na EU-koring het met 3% per jaar oor dieselfde tydperk afgeneem. In Rusland lyk dinge nie veel anders nie. Die aanbod van Russiese koring het met 6% per jaar toegeneem, terwyl die vraag na koring met 0,25% per jaar afgeneem het. Die aanbod van koring in die VSA en Kanada het onderskeidelik met 3% en 16% per jaar toegeneem en die vraag na die twee lande se koring het onderskeidelik met 0,65% toegeneem en met 5% afgeneem. Die Oekraïne, ook een van die vyf topproduserende lande, se koringaanbod het met 9% per jaar toegeneem sedert die 2011/2012-seisoen. Die vraag na Oekraïense koring het egter met 28% afgeneem. Dit is die groot rede waarom wêreldeindvoorraad toeneem – die vyf topproduserende gebiede se produksie neem toe, maar die vraag na hulle koring neem af.

Plaaslike markte
Graan SA stuur elke maand ’n vraelys oor die somer- en wintergraanoesstatus uit. Ons verwerk dan die resultate wat vanaf produsente verkry word om ’n maandelikse oesstatusverslag te lewer. Die nuutste inligting is op 15 November 2020 vanaf die vraelyste teruggekry en verwerk. Aangesien dit die middel van oestyd was, verteenwoordig die data nie die hele oes nie en is dit net ’n aanduiding van hoe dinge op grondvlak gelyk het. In die vraelys het ons vir produsente gevra om aan te dui hoe hulle oesproses vorder:

  • 32% van produsente het aangedui dat hulle nog minder as 10% van hulle koring gestroop het.
  • 16% het aangedui dat hulle tussen 10% en 40% gestroop het.
  • 52% het aangedui dat hulle reeds tussen 40% en 80% gestroop het.

Volgens die data kan afgelei word dat ongeveer:

  • 10% van die koring wat al gestroop is, supergraad is;
  • 28% B1-, 26% B2- en 28% B3-kwaliteit is; en
  • dat die ander 6,52% van die koring as klas ander koring (COW) geklassifiseer is.

Die data het ook aangedui dat:

  • 35% van die produsente 3,5 t/ha gestroop het;
  • 60% opbrengste van tussen 3,5 t/ha en 4,5 t/ha behaal het; en
  • die oorblywende 10% bo 5 t/ha gelewer het.

As daar na die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se syfers gekyk word, word die volgende vanjaar verwag:

  • ’n koringoes van 2,134 miljoen ton
  • ’n garsoes van 526 706 ton
  • ’n kanola-oes van 137 356 ton
  • ’n haweroes van 47 400 ton

Volgens die NOK word die volgende gemiddelde opbrengste verwag: 4,19 t/ha vir koring, 3,2 t/ha vir gars, 1,85 t/ha vir kanola en 1,81 t/ha vir hawer. Dit is goeie gemiddelde opbrengste, wat beter is as die vorige paar seisoene s’n wat gekniehalter is deur die droogte wat in die winterreënvalstreke geheers het.

Graan SA se oesstatusverslag dui daar­op dat produsente tans tussen 2 t/ha tot 3 t/ha met kanola behaal. Haweropbrengste wissel tussen 2 t/ha en 3 t/ha en garsopbrengste tussen 4 t/ha en 5 t/ha, met enkele produsente wat aangedui het dat hulle meer as 5 t/ha kry.

Daar is egter nog baie faktore wat ’n rol kan speel tydens die laaste gedeelte van die oesproses. Ongunstige weer kan ’n nadelige effek op die graderings hê, terwyl sterk winde opbrengsverliese kan veroorsaak.

Samevatting
Die goeie neerslae wat vanjaar in die winterreënvalgebied uitgesak het, het goeie opbrengste tot gevolg gehad. 26% van produsente het in die oesstatusverslag aangedui dat hulle meer as die gemiddelde langtermynneerslag ontvang het. 30% het aangedui dat hulle meer as 80% van die langtermyngemiddeld ontvang het en die ander 44% het minder as 80% van die gemiddelde langtermynreënval gehad.

Onthou egter dat die resultate wat verkry word uit die oesstatusverslag slegs as ’n riglyn dien. Die finale graderings vir die jaar se oes sal in die 2021-jaar bekendgemaak word asook die finale opbrengste wat per hektaar verkry is. Graan SA moedig alle produsente aan om deel te neem aan die aanlyn vraelyste (SurveyMonkey) wat vir die oesstatusverslag uitgestuur word. Hoe meer produsente deelneem, hoe meer akkuraat gaan die resultate wees wat verkry word.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar egter geen verantwoor­delikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van hierdie inligting nie.