Ekonomiese aanwysers en insetprysbewegings in 2020

Gepubliseer: 10 Desember 2020

2594
Corné Louw
senior ekonoom, Graan SA
corne@grainsa.co.za

Die COVID-19-pandemie het 2020 ook op die ekonomiese front laat wipplank ry. Oor ’n jaartyd­perk gesien, staan veral skerp dalings in die ruolieprys en die on­bestendigheid van die wisselkoers uit.

Die Brent-ruolieprys het vanaf Oktober 2019 tot Oktober 2020 met 30,2% in dollarterme gedaal, terwyl dit 22,9% in randterme afgeneem het. Hierteenoor het die dieselprys met slegs 16,6% gedaal. Omdat heelwat produksie-insette van graan- en oliesadeprodusente deur energiepryse geraak word, het hierdie daling in ruoliepryse van die internasionale insetpryse laat daal. As gevolg van die verswakking in die wisselkoers kon plaaslike produsente egter nie noodwendig baat vind by hierdie dalings nie.

Tabel 1 toon die prysbewegings in van die belangrikste ekonomiese en insetprysaanwysers in 2020 aan.

*September 2019 gebruik.
**’n Negatiewe persentasie dui ‘n verswakking aan, terwyl ‘n positiewe persentasie ‘n versterking aandui.
***Persentasieverskil tussen koerse (persentasiepunte) en nie persentasieverandering nie.

Produksieprysindeks
Prysstygings van goedere en dienste op die groothandels- of vervaardigingsvlak in die ekonomie word deur die produksieprysindeks (PPI) aangedui. Op ’n jaargrondslag het die PPI tot September 2020 met 2,5% gestyg. Die PPI vir landbou het jaar op jaar met 7,7% gestyg, terwyl die PPI vir graanprodukte met 12,4% gestyg het.

Verbruikersprysindeks
Die amptelike inflasiekoers word op die basis van veranderings in die verbruikersprysindeks bereken en dui kosteveranderings op die kleinhandels- of verbrui­kersvlak aan. Die inflasiekoers het in September 2020 op ’n jaargrondslag met 3,0% gestyg.

Voedselinflasie het oor dieselfde periode met 4,2% gestyg. In hierdie mandjie van voedsel het brood en grane met 2,7% gestyg, terwyl vleis met 4,4% toegeneem het. Olies en vette het met 6,2% gestyg, terwyl groente oor dieselfde tydperk met 1,9% gestyg het en vrugte met 13,1% toegeneem het.

Wisselkoerse
In Tabel 1 word ’n verstewi­ging in die waarde van die rand teen­oor ander geldeenhede as ’n positiewe verandering aangedui, terwyl ’n verswakking as ’n negatiewe persentasieverandering aangetoon word. Die rand het op ’n jaargrondslag tot Oktober 2020 met 10,5% teenoor die dollar verswak. Die rand het egter nog verder – met 13,3% en 17,5% onderskeidelik – teenoor die pond en die euro verswak.

Rentekoerse
Op ’n jaargrondslag tot Oktober 2020 het die Reserwebank die bankkoers met drie persentasiepunte tot 3,5% afgebring, terwyl handelsbanke ook die prima uitleenkoers met drie persentasiepunte tot 7% laat daal het.

Internasionale ruoliepryse
Die gemiddelde Brent-ruolieprys het vanaf Oktober 2019 tot Oktober 2020 met 30,2% vanaf $59,33/vat na $41,39/vat gedaal.

In randterme het die ruolieprys op ’n jaargrondslag tot en met Okto­ber 2020 met 22,9% tot R680,87/vat gedaal.

Brandstofpryse
Plaaslik het die groothandelsprys van diesel in Gauteng met 16,6% vanaf R14,85/ℓ in Oktober 2019 tot R12,38/ℓ in Oktober 2020 gedaal. Die werklike brandstofkoste het in Oktober slegs 39% van die finale groothandelsprys van diesel uitgemaak. Dit wil sê 61% is opgemaak deur heffings en belasting.

Oor ’n jaartydperk het die ge­lande koste van diesel met 36,9% gedaal, terwyl belasting met 4,6% toegeneem het en die groothandelsmarge met 4,7% gestyg het.

Die dieselrabat is tans 349 sent/liter, waar dit verlede jaar 333,60 sent/liter was. Die dieselrabat bestaan uit die 207 sent/liter van die Padongelukkefondsheffing en 142 sent/liter van die belastingskomponent.

Internasionale kunsmispryse
Alle internasionale pryse van kuns­misgrondstowwe, behalwe kaliumchloried, het vanaf Oktober 2019 tot Oktober 2020 gestyg. Die pryse van DAP, ureum en ammoniak het met onderskeidelik 16,9%, 14,3% en 2,9% gestyg. Die prys van kaliumchloried het egter met 17,2% gedaal oor hierdie tydperk.

Plaaslike kunsmispryse
Omdat Suid-Afrika meer as 80% van sy behoefte aan kunsmis moet invoer, is plaaslike kunsmispryse blootgestel aan dieselfde faktore as in die internasionale mark.

Die gemiddelde pryse van MAP en ureum het oor ’n periode van ’n jaar tot en met Oktober 2020 met onderskeidelik 7,5% en 6,8% gestyg. Die prys van KAN en kaliumchloried het egter met 4,2% en 14,6% oor hierdie tydperk gedaal.

Saadpryse
Saad maak ongeveer 13% van ’n graan- en oliesadeprodusent se lopende produksiekosterekening uit. Vir die 2020/2021-produksie­seisoen het mieliesaad met gemiddeld 2,2%, graansorghumsaad met 6,9% en sonneblomsaad met 5,8% gestyg. Sojaboonsaadpryse het op ’n gemiddelde basis met 6,8% gedaal.

Trekkerpryse
In Oktober 2020 was die pryse van trekkers 5,6% hoër as die ooreenstemmende tydperk twaalf maande gelede.

Trekkerverkope
Vir 2020 het trekkerverkope tot en met Oktober met 4,9% in vergelyking met dieselfde periode in 2019 gestyg. Verlede jaar is in hierdie tienmaandetydperk 4 494 eenhede verkoop, terwyl trekkerverkope vir 2020 op 4 713 eenhede staan.

Klik op dié ikoon om na ’n potgooi te luister wat ‘n kort opsomming van hierdie artikel bevat.