Waar is die brugbouers?

Gepubliseer: 4 September 2020

1027

Jannie de Villiers
HUB, Grain SA jannie@grainsa.co.za

Hoewel ons sedert Maart 2020 al ’n redelike oordosis van virtuele vergaderings gehad het, is daar dié maand ’n nuwe virtuele hoogtepunt op die kalender.

Die eerste NAMPO Virtueel gaan van 9 tot 12 September 2020 plaasvind! Dis soos om ’n nuwe land te ploeg en te plant en nie lekker te weet wat die opbrengs gaan wees nie. Daar is nie ’n geskiedenis van watter kultivar die beste daar sal aard nie asook baie ander onsekerhede. Een ding wat die produsente vir ons as personeel geleer het, is om die risiko’s van die lewe aan te pak, anders gaan jy nooit weet hoe dit gaan afloop nie. Ons gaan beslis die lekker kuier mis, maar aan nuwe produkte vir die boerdery gaan daar nie ’n tekort wees nie.

Ons land en sy mense is aan die spook. Party probeer kop bo water hou en oorleef en ander bedink bose planne om hul medemens te beroof. Dit bly maar ’n stryd. Een ding wat egter soos ’n paal bo water staan, is dat COVID-19 verandering bring. Ons Graan SA-leierskap het so ’n paar dae by Sonder Sorg in die bos gaan sit om te besin oor wat alles by die organisasie moet verander om graanprodusente te help om winsgewend te bly. Die uitdagings tot volhoubaarheid is legio, maar die durf en vindingrykheid is steeds daar. Daar is gepraat en beplan oor hoe ons terselfdertyd harder en sagter kan wees in onderhandelinge en die doelwitte ten opsigte van winste en maatskaplike nood kan balanseer. Ons het ook aandag aan die rassespanning in die bedryf gegee.

Een van die gevolgtrekkings waartoe ons as leiers gekom het, was dat georganiseerde landbou ook waarskynlik ’n makeover nodig het om die produsente van die toekoms te dien. Vir hierdie doel gaan ons wyd moet raadpleeg: buite die landbou en waarskynlik buite Suid-Afrika ook. Die fokusareas waaraan Graan SA aandag gaan gee, is die volgende:

  • Winsgewendheid en stabiliteit van graanproduksie
  • Navorsing en tegnologie
  • Markomgewing
  • Landbouontwikkeling en transformasie
  • Bemarking, kommunikasie en befondsing van Graan SA
  • Hoofbestuursopleiding en -verantwoording
  • Georganiseerde landbou
  • Staatsinmenging in die mark en regeringsmislukkings

Na die bosberaad het ek weer baie nagedink oor die groot tekort aan brugbouers in Suid-Afrika. Ons hoor so baie stemme opgaan, veral op sosiale media, om mense te verdeel en ander te verkleineer en af te breek. Die fokus wat die media op verskille plaas, breek die paar wankelrige brûe wat nog oor is ook af. ’n Hedendaagse brugbouer is nie iemand wat sy standpunte prysgee en net kompromieë aangaan nie – dis iemand wat aan die ander kant van ’n argument kan gaan staan, met ander se oë na die probleem kyk en ’n beter oplossing soek. So ’n brugbouer se fokus is op die probleem, nie op die ander persoon nie. ’n Nuwe konsep wat die ander dag ter sprake gekom het, was die “koalisie van gewilliges” wat verwys het na – soos Louw Steytler dit sou genoem het – the voice of reason. Brugbouers hou die hele tyd hulle oë oop om ander brugbouers in die geselskap te soek. Wanneer hulle mekaar opspoor, vind daar verandering plaas.

Laastens wil ek graag my hoed lig vir ons nuwe geslag leiers wat nou die aand in die leeukuil gaan klim en ’n eerste webinaar aangebied het – dit nogal oor die differensiaal. Welgedaan, manne! Ek dink ons gaan nog lank ná COVID-19 van die tegnologie gebruik moet maak om produsente vinniger en beter in te lig oor waarmee Graan SA besig is; waar ons in ’n proses trek en waar ons hulp en nuwe insigte nodig het. Doe zo voort!