Skikking kan Bayer meer as $10 miljard kos

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 5 Augustus 2020

577

Bayer, het in Junie aangekondig dat hy $10,9 miljard beskikbaar gaan stel om huidige en potensiële Roundup-litigasie te skik. Die reeks skikkingsooreenkomste sal ongeveer 75% van die sowat 125 000 eise dek.

Werner Bauhmann, internasionale hoofbestuurder van Bayer, glo die Roundup-skikkingsooreenkoms is die regte aksie op die regte tyd. Hy sê dit sal die onsekerheid wat reeds lank duur, beëindig. “Deur die skikking sal die meeste eise opgelos word en ’n duidelike meganisme in plek stel om risiko’s van toekomstige potensiële eise te hanteer.” Hy voeg by dat Bayer hom wil toespits op die verskaffing van gesondheidsorg en voedsel, wat tans van kritieke belang is. Die gesprek oor die veiligheid en gebruik van onkruiddoders wat glifosaat bevat, moet volgens hom “teruggeneem word na die wetenskaplike en regulatoriese arena”.

Die skikkingsooreenkomste, wat onderhewig is aan ’n uitspraak deur regter Vince Chhabria, is eenparig deur die bestuurs- en toesighoudende raad van Bayer aanvaar. Verdere potensiële litigasie, wat na beraming met tot 20 hofsake per jaar kan groei, onsekere jurie-uitsprake asook skade aan die maatskappy se reputasie is in ag geneem tydens risikobepaling. Tog stel Bayer dit duidelik in ’n ver­klaring wat in Junie uitgereik is, dat die skikkings geen erkenning van aanspreeklikheid of oortreding bevat nie.

Bayer sal ook die litigasie oor dikambadrywing, wat na bewering skade aan gewasse veroorsaak het, teen ’n koste van $400 miljoen skik. Eisers sal egter bewyse van skade aan opbrengste moet kan lewer. Litigasie oor waterbesoedeling weens polichloorbifeniel (PBC) sal die maatskappy in twee aparte ooreenkomste sowat $820 miljoen kos.

Kontantuitbetalings soos deur die skikkingsooreenkomste bepaal, sal na verwagting in 2020 begin. Bayer verwag dat die potensiële kontantuitvloei nie meer as $5 miljard in 2020 en $5 miljard in 2021 sal beloop nie. Die balans sal in 2022 en later uitbetaal word.

Die betalings, wat aan belasting gekoppel is, sal gefinansier kan word deur gebruik te maak van surpluslikiditeit, toekomstige kontantvloei, die inkomste wat deur die verkoop van Bayer se dieregesondheidsdepartement gegenereer is en die uitreiking van bykomende effekte.

Bauhmann glo dat Bayer daarin sal slaag om die grootste impak van die litigasie agter hulle te laat om dan op die toekoms en hulle bydrae tot wêreldgesondheid en -voedselsekerheid te fokus. Vir hom is deursigtigheid en konstruktiewe interaksie met rolspelers van groot belang om die sektor se vertroue in hulle produkte te behou.

Bayer weerlê alle aantygings dat Roundup kanker veroorsaak en sê dat onkruiddoders wat glifosaat bevat, streng en met reëlmaat bestudeer word. Volgens hulle bevestig vier dekades se wetenskaplike ondersoeke dat hierdie onkruiddoders veilig is om te gebruik en nie karsinogenies is nie.

Bauhmann sê verder Bayer is verbind tot die gesondheid van hulle kliënte. “Ons het groot simpatie met enige iemand wat deur siekte geteister word en ons verstaan hulle soeke na antwoorde. Dit is egter duidelik uit ’n groot aantal ondersoeke dat Roundup nie kanker veroorsaak nie en dus nie die oorsaak is van die siektes soos in die eise voorgestel nie.”

Hy sê Roundup sal steeds aan produsente beskikbaar gestel word om boerderye by te staan met die beheer van onkruid. Hy meen verder dat produsente op die produk staatmaak om bewerking te verminder en sodoende meer omgewingsvriendelik te boer.

Dit is ook bekendgemaak dat Bayer sal voortgaan om te appelleer in die drie sake wat in die hof gedraai het. Die Johnson-, Hardeman- en Pilliod-sake vorm dus nie deel van die skikkingsooreenkomste nie. Bayer glo dat dit belangrik is om met die sake voort te gaan, aangesien dit belangrike wetgewende riglyne vir die toekoms kan bied.

Bayer het verlede jaar aangekondig dat hy oor ’n tydperk van tien jaar sowat €5 miljard sal investeer om addisionele metodes vir die beheer van onkruid te ontwikkel. Dit sal volgens Bauhmann deel van hulle geïntegreerde benadering tot volhoubare landbou vorm.

“Daar is verskeie globale struikelblokke wat gesondheid en voeding betref, nie net waar ons tans die COVID-19-pandemie beveg nie, maar ook in die toekoms. Ons werk om die lewenskwaliteit van ’n groter en verouderende wêreldpopulasie, wat teen 2050 moontlik 10 miljard kan wees, te verhoog. Ons glo dat wetenskap en innovasie van kritieke belang vir hierdie toekoms is,” voeg hy by.