Ontledings speel groot rol in moderne boerdery

Gepubliseer: 5 Augustus 2020

3389
Kobus van Zyl,
senior landboukun-dige, Omnia Kunsmis in samewerking met Fertasa se grondsuur-heidswerkgroep

Fertasa, in samewerking met Graan SA, kyk in hierdie reeks artikels na die oorsake, slaggate, invloed van en oplossing vir grondsuurheid. Die eerste artikel, “Dié onsigbare bedreiging vreet aan graanoeste” het in die Julie-uitgawe van SA Graan/Grain verskyn en is op www.sagrainmag.co.za beskikbaar. Die reeks sal uiteindelik uit twaalf artikels bestaan. In hierdie artikel skryf Kobus van Zyl, senior landboukundige van Omnia oor die rol wat grondontledings in moderne boerdery speel.

Die aanwending van grondontledings om bemestingspraktyke te optimaliseer, is algemene praktyk en word reeds sedert 1940 toegepas. Grondontleding het veral momentum gekry toe landbouproduksie geleidelik van bestaansboerdery na grootskaalse produksieboerderye verander het.

Net soos ’n huis ’n fondament het, is grondontledings die fondament van grond- chemiese bestuur. Grond is die voedingsmedium vir alle plante en ook vir miljoene mikroörganismes.

Die voedingsbehoeftes van plante moet deur die grond voorsien word om optimale opbrengste en produkte van hoë gehalte te verseker. Dit laat ’n mens wonder of die plant of die grond bemes word?

Belang van grondontledings

  • Grondontledings moet ’n aanduiding gee van die voedingstowwe wat potensieel vir opname deur gewasse beskikbaar is.
  • Voedingstowwe wat in onvoldoende of buitensporige hoeveelhede in die grond voorkom, kan die produksie en gehalte van die gewas nadelig beïnvloed.
  • Plante verwyder voedingstowwe uit die grond en dit moet vervang word om die voedingstatus van die grond te behou of te verbeter.
  • Voedingstekorte kan kunsmatig aangevul word deur kunsmisstowwe, kalk en ander voedingsbronne.
  • Dis belangrik om die regte voedingstowwe en ook voldoende hoeveelhede aan te vul om ’n ekonomies verantwoordbare resultaat te kry.
  • ’n Grondkundige of landboukundige sal grondontledings benodig om produsente met gewasspesifieke voedingsaanbevelings by te staan.
  • Goeie rekordhouding van die voedingstatus van die grond is baie belangrik vir volhoubare gewasproduksie.
  • Ondergrondsuurheid kan vroegtydig geïdentifiseer word voordat dit tot oesverliese lei.

Trek van grondmonsters
Die metode waarvolgens ’n grondmonster getrek word, sal afhang van die doel van die grondontleding. Grondontledings word gewoonlik ná die oes getrek, omdat die lande dan meer toeganklik is en ook sodat die tyd van monsterneming ooreenstem met historiese grondmonsterneming.

  • Gebruik ’n plaaskaart met duidelike landname en dui aan in watter rigting geloop is om die monsters te trek.
  • Meng submonsters van die bogrond (0 cm – 25 cm) en ondergrond (25 cm – 75 cm) deeglik in ’n skoon mengemmer (Figuur 1).
  • Die diepte van monsterneming moet ooreenstem met hoe dit in die verlede gedoen is, anders kan die ontledingswaardes laer ontleed weens verdunning (voorheen is byvoorbeeld 15 cm diep getrek en nou word 25 cm diep getrek). Maak seker dat die diepte waarop die monsters getrek word, korrek is vir vergelyking met historiese data.
  • Hou bogrond- en ondergrondmonsters apart en merk dit duidelik.
  • Grondmonsters kan ook op ’n presisierooster getrek word waar monsters se GPS-posisie bepaal word vir latere verwerking.
Figuur 1: Skematiese voorstelling van hoe grondmonsters op verskillende dieptes in ’n land getrek word.

Verskillende ontledings
Die verskillende chemiese ontledings wat op ’n grondmonster gedoen word asook waarvoor die resultate gebruik word, word in Tabel 1 aangedui. Saam met die chemiese ontledings word sekere berekeninge gedoen om die KUK (katioonuitruilkapasiteit), kalsium-, magnesium-, kalium- en natrium­persentasies asook sekere verhoudings tussen die katione aan te toon.

Gronde kan ook vir fisiese (byvoorbeeld grondwater, tekstuur, infiltrasietempo) en biologiese (fungi, bakterieë, ensieme, aalwurms ensovoorts) eienskappe ontleed word. Van dié fisiese en biologiese eienskappe kan ’n groot invloed hê op die chemiese ontledings van grond.

Interpretasie
’n Grondontleding beteken baie min wanneer kalibrasieproewe, wat gewas- en kultivarspesifiek kan wees, nie gedoen is nie. Kalibrasieproewe word uitgevoer om te bepaal wat die gewas se reaksie in opbrengs of gehalte is ten opsigte van ’n enkele of ’n reeks toegediende voedingstowwe (Gra­fiek 1). Fertasa se bemestingshandleiding kan geraadpleeg word vir die bemesting van ’n verskeidenheid gewasse.

Grafiek 1: Verwantskap tussen opbrengs en toegediende voedingstof.

Volgens Grafiek 1 is die voedingspeil (kg/ha) met optimale effektiwiteit in sone B. Die kans dat ’n mens elke jaar in sone B sal eindig, is bykans onmoontlik. Die mikpunt sal daarom wees om jaarliks tussen sone B en sone C van ’n spesifieke voedingstof te bemes om sodoende die omgewingspotensiaal optimaal te benut. Verder word ook na die ekonomiese draaipunt gekyk om seker te maak daar word nie net bemes om die maksimum opbrengs te behaal nie, maar ook om die maksimum wins te verseker.

Onderbemesting sowel as oorbemesting is nadelig. Soos in Grafiek 1 moet gepoog word om die maksimum effektiwiteit te verkry. Gewasreaksie, hetsy opbrengs of gehalte, word basies gedryf deur twee uiters belangrike komponente, naamlik die voedingstofstatus van die grond (grondontleding) en die bemestingspeil (Grafiek 2).

Grafiek 2: Verwantskap tussen gewasreaksie (opbrengs of gehalte) teenoor voedingstofbeskikbaarheid (byvoorbeeld grondontleding van ’n spesifieke element).

Die veronderstelling is dus om seker te maak dat die beskikbare voedingstowwe wel benut kan word en dat alle beperkende faktore (byvoorbeeld foutiewe bewerking of suurgrond) opgehef word. Plantwortels moet toegang hê tot natuurlike grondvrugbaarheid en ook toegevoegde bemestingstowwe om effektiwiteit te verseker.

’n Lae toedieningspeil by ’n lae voedingstatus sal dus nie die optimale gewasreaksie tot gevolg hê nie. By die lae voedingstofstatus lewer die hoë toedieningspeil ’n aansienlik beter gewasreaksie. Sodra die voedingstofstatus egter hoog is en beskikbaar is vir plantopname, is daar bykans geen verskil tussen ’n lae en hoë toedieningspeil nie.

Dit is goeie praktyk om ná elke derde oes monsters te neem. Laat doen gereeld grond­ontledings, minstens een maal elke drie jaar onder droëlandtoestande. Meer gereelde monitering sal noodsaaklik wees onder besproeiing.

Die interpretasie van die ontledings is net so belangrik. Maak seker dat ’n spesialislandboukundige na die resultate kyk en wetenskaplik gefundeerde bemestingsplanne opstel wat optimale effektiwiteit ten doel het. Gesels gerus met een van Omnia Kunsmis se ervare landboukundiges.

Hoewel grondontledings al vir baie jare as die maatstaf van gesonde grondchemie bestempel word, speel dit in vandag se moderne boerdery steeds ’n deurslaggewende rol. Die grootste dryfveer is natuurlik die beskerming van die hulpbron, naamlik grond. Om te meet is om te weet – daardeur word verseker dat die volgende generasie die vrugte pluk van volhoubare boerderypraktyke.

Bron

  1. Fertasa-bemestingshandleiding. 2016. Fertilizer Association of Southern Africa. Agtste hersiene uitgawe. Posbus 75510, Lynnwoodrif, 0040, Suid-Afrika.